--> -->
Spyskaart +

Eiendomsreghofuitspraak: “Dis nie einde, maar begin van stryd,” sê AfriForum

November 30, 2018 deur Marelie Greeff

Die hoë hof in Kaapstad se beslissing dat AfriForum se hofaansoek ter hersiening van die verslag van die parlement se grondwetlike hersieningskomitee – wat aanbeveel dat die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak – nie dringend is nie, is volgens AfriForum nie die einde van die organisasie se stryd ter beskerming van eiendomsreg nie, maar bloot die begin van ’n lang en uitgerekte stryd.

AfriForum se regspan sal voortgaan om onder meer die gebrekkige proses wat die parlement se komitee gevolg het deur skriftelike besware teen onteiening sonder vergoeding te ignoreer, in die howe te beveg. Al wat hierdie hofuitspraak beteken, is dat die saak nie op ’n dringende basis aangehoor kan word nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is sy organisasie vasbeslote om te help toesien dat Suid-Afrika nie eiendomsreg vernietig deur middel van onteiening sonder vergoeding nie en te help keer dat Suid-Afrika dieselfde vernietigingspad as Zimbabwe en Venezuela loop. Die feit dat Zimbabwe vandag ’n werkloosheidskoers van 90% het, is volgens Kriel ’n bepalende faktor dat almal in ’n land, en nie net grondeienaars nie, ernstig benadeel word indien eiendomsreg misken word. “AfriForum onderneem daarom om elke moontlike meganisme tot sy beskikking te gebruik om in belang van almal in die land tot die bitter einde teen die ondermyning van eiendomsreg te stry,” voeg Kriel by.

Kriel wys daarop dat die Suid-Afrikaanse Grondwet en die beskerming van eiendomsreg wat daarin vervat is, die resultaat is van ’n onderhandelde skikking wat in 1994 bereik is tussen verskeie partye met die ANC en die destydse NP-regering as hoofrolspelers. “Indien die ANC-beheerde parlement sou voortgaan om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal dit ’n duidelike aanduiding wees dat die ANC besig is om die 1994-ooreenkoms blatant te verbreek. Dit sal ’n ernstige vertrouenskrisis tussen minderhede en die ANC-regering tot gevolg hê,” sê Kriel.

Volgens Kriel sal AfriForum benewens die stryd wat plaaslik in Suid-Afrika in die howe en op ander platforms teen onteiening sonder vergoeding verder gevoer gaan word, ook voortgaan om sy pogings te verskerp om internasionale druk ter beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika te help genereer. “AfriForum het juis gister die saak geopper tydens die organisasie se deelname aan die Verenigde Nasies se Forum vir minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland,” sluit Kriel af.