|

Eerste Monumentale Cantus-koorfees samel R40 000 vir Voortrekkermonument in

Verskeie skoolkore het gehore by vanjaar se eerste Monumentale Cantus-koorfees bekoor wat by die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria ten bate van dié monument gehou is.

Dié inisiatief is deur die gesoute koorleiers en –afrigters Vasti Trichardt en Vaughan van Zyl moontlik gemaak. Sowat 400 gaste het dit bygewoon.

Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, sal die geld wat tydens die koorfees ingesamel is vir instandhoudingswerk en bewaringsdoeleindes by die VTM aangewend word.

Die VTM is ’n belangrike deel van die Afrikaner se geskiedenis.

“AfriForum is trots om vanjaar deel te wees van die eerste Monumentale Cantus-koorfees en ons hoop om dit ʼn jaarlikse instelling te maak.”
Bloem sê voorts dat die koorfees ook aansluit by die herdenking van Afrikaans as lees- en skryftaal, met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1876.

Skole sal jaarliks op uitnodiging deelneem en daar sal elke jaar ander skole uitgenooi word. Kore van die Hoërskool Waterkloof, Afrikaanse Hoër Seunskool, Hoërskool Florida, Hoërskool Noordheuwel en Laerskool Anton van Wouw het vanjaar aan dié spoggeleentheid deelgeneem.

Die gehoor het ook tydens die funksie die geleentheid gekry om tussen die skole se optredes saam tradisionele Afrikaanse liedere te sing. Hulle het ook elkeen ʼn gratis saamgestelde sangbundel gekry.

Vanjaar se koorfees het sowat R40 000 vir die VTM ingesamel.

“Dit nie net ʼn spesiale en feestelike geleentheid nie, maar word ook gehou vir ʼn goeie doel en gee vir ons die geleentheid om ʼn bydra tot die instandhouding van ons erfenis te maak,” meen Bloem.

Soortgelyke plasings