|

Eerste Forum Tydskrif vir 2019 op pad na lede

Die eerste uitgawe van AfriForum se ledetydskrif, Forum Tydskrif, vir 2019 is in die pos of sal binnekort by lede se huise afgelewer word.

In dié uitgawe val die klem op die burgerregte-organisasie se nuwe AfriForum 911-toep wat lede op hul selfone kan aflaai ten einde toegang tot hulp in tye van nood te kry.

Die groeiende misdaadkrisis noodsaak alle landsburgers om alles in hul vermoë te doen om hulself, hul gesinne en gemeenskappe beter te beveilig.

Benewens die toep het AfriForum oor die afgelope drie jaar sowat R50 miljoen spandeer om ’n stewige veiligheidsnetwerk van meer as 132 buurtwagte met letterlik duisende vrywillige patrolleerders en ’n omvattende radionetwerk en beheersentrum daar te stel.

Die AfriForum 911-toep is ook ’n noodgevaltoep wat gebruik kan word in gevalle van aanvalle, kapings, huisbrake, diefstalle, brande en mediese noodgevalle. Jy kan dit ook gebruik om vermiste of verdagte persone of voertuie aan te meld.

Benewens die klem op veiligheid, is die fokus vanjaar ook op ons #AnkerdorpPadskou. Die eerste padskou het in Februarie in Pretoria afgeskop en sal deur die loop van die jaar na Rustenburg, George, Nelspruit, Tzaneen, Krugersdorp, Secunda en Bethlehem uitgebrei word. Die doel van die padskou is om hoop in ankerdorpe te skep en gemeenskappe te bemagtig om self hul lewensomstandighede te verbeter deur by selfdoenprojekte betrokke te raak.

In die uitgawe van Forum deel die sanger Appel ook sy suksesverhaal. Hy vertel ook waarom hy AfriForum en die breër Solidariteit Beweging se welsynsprojekte ondersteun.

Daar is ook warm nuus uit die kantoor van AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat daarin kon slaag om die Ford-motormaatskappy en Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, reeds in die hof te kry. Die eenheid is ook met verskeie ander sake besig waarin privaatvervolging ingestel sal word as die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie sy verantwoordelikheid in die verband nakom nie. Elke saak waarin die NVG aanvanklik nie wou vervolg nie, maar ná druk deur AfriForum van plan word, word as ’n reuseoorwinning vir geregtigheid en gelykheid voor die reg bestempel.

AfriForum-lede wat graag die tydskrif wil ontvang, moet enige adresveranderings na ledesake@afriforum.co.za stuur.

Soortgelyke plasings