|

Duisende teken oorsese petisie teen plaasmoorde

Met November wat deur AfriForum tot protesmaand teen plaasmoorde verklaar is, het sowat 70 000 Suid-Afrikaners reeds ’n petisie teen die gruweldade onderteken wat volgende week by die VN in Genève, Switserland, ingehandig word.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sal die burgerregte-organisasie by die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenhede verteenwoordig.

Die tema vir die konferensie is Minderhede in die Strafregstelsel.

Roets sal ’n uittreksel van AfriForum se plaasmoorde-verslag indien waaraan die navorser Lorraine Claasen die afgelope jaar werk.

Roets sal fokus op plaasmoorde in Suid-Afrika en die polisie en vervolgingsgesag se hantering daarvan.

Volgens Roets word duisende slagoffers van plaasmoorde en –aanvalle in die land in die steek gelaat weens die feit dat plaasmoorde nie as ’n prioriteitsmisdaad bestempel word nie en omdat die ondersoekwerk dikwels swak is.

In die afgelope maand was daar twee gevalle van getraumatiseerde slagoffers wat moes toekyk hoe moordenaars van hul geliefdes en aanvallers vry uit die tronk gestap het.

Net meer as 21 maande ná die nagmerrie-gebeure op ’n Sondagoggend vroeg op Elize (67) en Jaap (68) Swart se plaas, Springfield, in die Bloemspruit-omgewing het vier van die vyf aangeklaagdes verlede maand vry uit die hof gestap.

Die ander een is nog in die tronk nadat hy vroeër in Hobhouse skuldig bevind is dat hy Jaap, ’n afgetrede ortopediese chirurg, se vuurwapen gehad het.

Die staat se getuienis was onvoldoende, het streeklanddros M. Daya bevind. Die skuld is voor die deur van die polisie gelê wat geen forensiese getuienis, soos vingerafdrukke,  in die verhoor aangebied het nie.

Hoewel die aanvallers die oggend van 12 Januarie verlede jaar ure lank in en om die huis was, het die polisie blykbaar nie na vinger- of palmafdrukke daar, of in Jaap se bakkie, wat hulle by Thaba Nchu gekry het, gesoek nie.

In ’n ander geval is Eunice du Toit en haar twee kinders van Lydenburg vandeesmaand opnuut deur hel toe die saak teen twee beskuldigdes teruggetrek is wat haar man, Francois, op 23 Januarie 2012 vermoor het. Een van hulle is ook onskuldig bevind weens ’n gebrek aan bewyse.

Roets het gesê verskeie instansies gaan verslae indien oor hoe minderhede deur strafregstelsels in verskillende lande versaak word. AfriForum gaan sy saak versterk deur sy steunwerwingsaksie met ’n petisie wat tot op hede deur sowat 70 000 mense onderteken is.

Die veldtog gaan verder verskerp word deurdat die verslag ook aan 300 buitelandse korrespondente in Suid-Afrika en 5 000 ander buitelandse joernaliste en nuusagentskappe gestuur sal word.

Die aksie sal op 1 Desember voortgesit word wanneer die name van meer as 2 000 vermoorde boere en hul gesinslede by die Uniegebou in Pretoria vertoon sal word. ’n Mosie van wantroue sal teen pres. Jacob Zuma en die regering ingedien word wat niks teen plaasmoorde doen nie, het Henk Maree, woordvoerder van AfriForum gesê.

Die aksie word ook op 1 Desember gehou ter nagedagtenis aan Attie en Wilna Potgieter en hul dogtertjie, Willemientjie, wat in 2010 op die wreedste denkbare wyse op hul plaas buite Lindley in die Vrystaat vermoor is.

“Die regering en die ANC het die wrede moorde destyds veroordeel, maar daarna steeds niks gedoen nie aangesien nog honderde mense op plase aangeval en vermoor is, meen Roets.

Mense kan steeds die petisie teen plaasmoorde hier onderteken

Soortgelyke plasings