|

Duduzane Zuma môre weer in hof

Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, se hofsaak hervat môreoggend in die Randburgse landdroshof.

Adv. Mike Hellens (SC) en die res van Zuma Jr. se regspan, gaan geleentheid kry om sy kant van die saak te stel in die saak van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur teen hom. Zuma Jr. gaan na verwagting self getuig.

Elias Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gaan weer die slagoffer se gesin by die hof ondersteun en as woordvoerder optree.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om Zuma Jr. nie te vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma Jr. privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.

Die saak teen Zuma Jr. hou verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 toe hy met sy Porsche 911 op die M1-snelweg naby die Grayston-afrit teen ’n minibus-taxi gebots het. ’n Vrou, Phumzile Dube, het aan haar beserings beswyk.

Wat tot dusver gebeur het:

Die staat het verskeie getuies geroep waaronder ’n werknemer van die Suid-Afrikaanse Weerburo, ’n bestuurder van ’n motorhandelaarsfirma van Porsche Johannesburg, twee passasiers wat in die taxi was, die bestuurder van die taxi sowel as ’n persoon wat voorheen in diens van ’n prokureursfirma was wat eise teen die Padongelukkefonds (POF) hanteer het. Laasgenoemde het foto’s van die voertuie op die ongelukstoneel geneem en sketse gemaak.

Die staat se getuies het aangevoer dat Zuma Jr. op die betrokke dag vinnig gery het, dat dit gereën het en dat die impak van die slag tot gevolg gehad het dat die taxi op die pad in die teenoorgestelde rigting omgeswaai en amper op sy kant beland het. Dube wat in die ongeluk dood is, se liggaam het by ’n venster uitgehang en haar gesig was vol bloed.

Die persoon wat foto’s op die toneel geneem het, het getuig daar was geen stilstaande water op die padoppervlak nie. Die motorhandelaarbestuurder het oor die moontlikheid getuig dat ’n Porsche-voertuig wat teen ’n sekere spoed ry op ’n nat pad kan gly.

Zuma Jr. se regspan het gesê sy verweer is dat hy op die betrokke dag van die ongeluk ’n waterplas getref het wat hy nie gesien het nie. Dit het ook gereën en hy het beheer oor sy voertuig verloor.

Zuma Jr. het aansoek om ontslag gedoen, maar landdros Tebogo Thupaatlase het dit van die hand gewys. Hy het in sy uitspraak gesê getuienis in ’n saak kan net geïgnoreer word as die gehalte daarvan so swak is dat dit nie gebruik kan word nie. Hy het gesê die getuienis van getuies kan nie lukraak afgeskiet word nie en ’n aansoek om ontslag kan net slaag as daar geen bewyse is nie en die hof ook daarvan oortuig is.

Soortgelyke plasings