|

Duduzane Zuma se aansoek om ontslag verwerp

Getuienis in ’n saak kan net geïgnoreer word as die gehalte daarvan só swak is dat dit nie gebruik kan word nie.

Met dié woorde het landdros Tebogo Thupaatlase vanoggend in die Randburgse landdroshof ’n streep deur Duduzane Zuma se aansoek om ontslag op die klag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur getrek.

Thupaatlase het in sy uitspraak klem daarop gelê dat die getuienis van getuies nie sommer lukraak afgeskiet kan word nie. Dit kan net geïgnoreer word as die onbetroubaarheid daarvan bewys kan word en as dit van so aard is dat die redelike mens dit nie sal aanvaar nie.

Zuma Jr. se regspan het tydens hul argumente die gehalte van die staat se getuies en hul getuienis skerp in twyfel getrek.

Thupaatlase het gesê ’n aansoek ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet, 1977 (Wetno. 51 van 1977) kan net slaag as daar geen bewyse is nie en die hof oortuig is dat daar geen bewyse of getuies is nie. Hy het na verskeie sake verwys waar aansoeke om ontslag nie suksesvol was nie. Een daarvan is die van oudpres. Jacob Zuma wat in 2006 ’n aansoek om ontslag in die verkragtingsaak teen hom ingedien het. Die regter het die aansoek van die hand gewys en Zuma is later wel onskuldig aan verkragting bevind.

Die saak teen Zuma Jr. hou verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 toe hy met sy Porsche 911 op die N1-snelweg teen ’n minibus-taxi gebots het.

’n Vrou, Phumzile Dube, het aan haar beserings beswyk en nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Zuma Jr. aanvanklik nie wou vervolg nie, het hulle AfriForum om hulp genader.

Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma Jr. privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.

“Hierdie uitspraak is nie net ’n oorwinning vir die Dube-familie nie, maar vir almal in Suid-Afrika wat in gelykheid voor die reg glo,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Adv. Mike Hellens (SC) en die res van Zuma Jr. se regspan sal weer op 15, 16 en 17 Mei in die hof wees.

Hellens het in die aansoek om ontslag aangevoer dat die staat in gebreke gebly het om die klagte van strafbare manslag en nalatigheid te bewys. Volgens hom het die staat nie getuies of getuienis om op staat te maak om sy saak te bewys nie. Hy het voorts gesê dit sal ongrondwetlik wees om Zuma Jr. te roep om te getuig omdat hy homself in die proses sal kan inkrimineer.

Yusuf Baba, staatsaanklaer, was egter van mening dat die getuies hul uitstekend van hul taak gekwyt het en dat daar prima facie bewys is vir die klag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Die staat se getuies het ’n weerkundige, ’n Porsche-handelaar, die bestuurder van die minibus-taxi, twee passasiers en ’n persoon wat foto’s op die toneel geneem het ingesluit.

 

Soortgelyke plasings