Duduzane Zuma moet verantwoording doen in hofbank


AfriForum verwelkom die feit dat Duduzane Zuma, seun van voormalige president Jacob Zuma, vandag moes getuig in die vervolgingsaak vir sowel strafbare manslag as roekelose en nalatige bestuur teen hom. Zuma se verdedigingspan het hom in die Randburgse landdroshof as eerste getuie geroep. Die saak is egter uitgestel tot môreoggend 08:30 nadat die hof se stenograaf gebreek het en verrigtinge nie opgeneem kon word nie.

“Die feit dat Zuma Jr. vandag in die getuiebank verantwoording moes doen vir die dood van Mekelina Dube is nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal in die land wat gelykheid voor die reg voorstaan,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Kriel het die Dube-familie en adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid geloof vir hul deursettingsvermoë om te help toesien dat Zuma Jr. voor die hof gedaag is vir die dood van Dube.

“Die feit dat die saak teen Zuma Jr. voortgaan, bevestig dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) fouteer het toe hulle aanvanklik besluit het om hom nie te vervolg nie. Die Dube-familie se aandrang dat geregtigheid geskied, asook adv. Nel se vermoë om privaat vervolging in te stel, het die NVG met geen ander keuse gelaat as om van besluit te verander en Zuma Jr. wel te vervolg nie.”

Die NVG het aanvanklik besluit om nie vir Zuma Jr. in verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng – waarin Dube, ’n jong vroulike passasier, op slag dood is – te vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma Jr. privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.

Soortgelyke plasings