Duduzane Zuma hoor dán sy lot


Die staat en verdedigingspan van Duduzane Zuma, seun van voormalige president Jacob Zuma, het vandag hul slotbetoë in die Randburgse landdroshof gelewer in die vervolgingsaak vir sowel strafbare manslag as roekelose en nalatige bestuur.

Die verdediging het volgehou dat Zuma se motor op die pad gegly het nadat dit ’n poel water getref het en dat Zuma se optrede in die omstandighede – gegewe die reënweer, die water op die pad en die geneigdheid van sy motor om te gly – steeds dié van ’n redelike persoon was.
Die verdediging het in reaksie op die staat se betoog kapsie gemaak dat die motor se bande van substandaard was en het gesê geen getuienis is tydens die verhoor in dié verband gelei nie. Die verdediging het ook aangevoer dat daar uit die staanspoor ’n aanduiding was dat daar druk was om Zuma te vervolg.
Die staat het klem gelê op die passasiers en die taxibestuurder se getuienis dat Zuma verby hulle gery het waarna hulle ’n slag gehoor het. Die staat het gesê die wyse waarop Zuma bestuur het, was nie die van ’n gemiddelde bestuurder nie en hy moes kon voorsien dat die voorval kon plaasvind.
Die uitspraak gaan op 12 Julie 2019 gelewer word.

“Ons is bly dat Zuma in die hof verskyn weens die dood van Phumzile Dube en vertrou dat die reg nou sy gang sal gaan sodat die Dube-gesin uiteindelik geregtigheid sal kry,” sê Elias Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

* Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie vir Zuma in verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng – waarin Dube, ’n jong vroulike passasier, op slag dood is – te vervolg nie. AfriForum en adv. Gerrie Nel se vermoë om privaat vervolging in te stel, asook die Dube-gesin se aandrang dat geregtigheid moet geskied, het egter daartoe gelei dat die NVG wel vir Zuma vervolg het.

Soortgelyke plasings