|

Druk op persvryheid noop media-instellings om hulself te versterk

Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die staatsbeheerde SAUK, se aanval vandeesweek op mediavryheid, is ’n wekroep dat media-instellings versterk moet word wat nie aan die regering verbind is nie.

Só meen Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Roets het gereageer op Motsoeneng se uitlatings dat daar ’n probleem met die Suid-Afrikaanse media is omdat hul benadering en houding tot nuus nie nasiebou aanhelp nie.

Luidens mediaberigte het Motsoeneng glo gesê die SAUK is nie deel van “dié media” nie en daarom meen hy is staatsbeheerde mediaregulering broodnodig. Sy standpunt is glo luid toegejuig.

Roets het gesê dit is ironies dat die ANC homself as demokratiese organisasie voorhou deur te verklaar dat hy ten gunste van persvryheid is, maar terselfdertyd aktief ’n veldtog voer om persvryheid aan bande te lê. “Staatsinmenging by die SAUK het reeds tot ’n afname in die instelling se geloofwaardigheid gelei. Dit kom lankal voor asof die SAUK se bestuur nie joernaliste is nie, maar eerder politieke aktiviste wat die ANC se ideologie probeer bevorder.”

Roets het gesê persvryheid en ’n vrye media kan nêrens bestaan waar die staat daarby inmeng nie.

In die lig van die toenemende bedreiging wat daar vir persvryheid in die land is, gaan AfriForum later vanjaar ’n verskerpte veldtog begin ter versterking van mediavryheid.

AfriForum het  vroeër sy misnoeë oor die aanstelling van Motsoeneng as SAUK-bedryfshoof uitgespreek en gewaarsku dat dit slegte nuus vir mediavryheid is.

Motsoeneng het vir omstredenheid gesorg toe hy vroeër voorgestel het dat joernaliste in Suid-Afrika lisensies moet hê om te mag werk. AfriForum se standpunt is dat lisensiëring juis deur diktators en outoritêre state gebruik word om beriggewing te beheer en menseregtevergrype te verdoesel.

Motsoeneng was ook in die nuus nadat die Openbare Beskermer in 2014 aanbeveel het dat hy op grond van wanbestuur, onvoldoende kwalifikasies en magsmisbruik vervang moet word.

Van die ander redes wat Roets aanvoer waarom ’n verskerpte veldtog vir mediavryheid nodig is, is:

  1. Die plasing van ’n seinblokkeerder vroeër vanjaar in die Parlement wat die media belemmer het om oor die staatsrede verslag te doen;
  2. Die feit dat die SAUK die enigste instelling was wat toegelaat is om kameras in die Parlement in te neem tydens verslagdoening oor die staatsrede;
  3. Druk deur die regering op die media om meer “patrioties” in die publisering van nuus te wees;
  4. Dreigemente deur die regering om die hoofstroom-media se advertensiebegroting af te skaal as hy nie met die vertolking van nuus tevrede is nie; en
  5. Die drakoniese voorgestelde internet-regulasies wat daarop neerkom dat enige individu of instansie eers vooraf toestemming en goedkeuring van die Rolprent- en publikasieraad sal moet kry voordat enige inhoud of inligting op die internet gepubliseer word.

 

Soortgelyke plasings