|

Druk neem toe om “malligheid” rondom Motsoeneng te stop

Druk is aan die opbou om finaal van Hlaudi Motsoeneng, omstrede bedryfshoof van die SAUK, ontslae te raak.

Motsoeneng het die afgelope week hardnekkig probeer vasklou aan sy posisie by die openbare uitsaaier ondanks die appèlhof wat sy aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys het. Motsoeneng het geappelleer teen ’n vroeëre hooggeregshofuitspraak wat sy permanente aanstelling as irrasioneel bestempel en dit onwettig verklaar het.

Pogings uit die burgerlike samelewing asook van die kant van politieke partye om Motsoeneng uit die kussings te lig, strek reeds oor etlike maande.

AfriForum het vroeër ’n betogting met plakkate buite die hoofkantoor van die SAUK in Johannesburg gelei waartydens Motsoeneng se bedanking geëis is. ’n Nasionale petisie is ook steeds aan die gang om Motsoeneng se vergrype en toepassing van sensuur aan die kaak te stel.

Talle organisasies het daarop gewys dat Motsoeneng se skrikbewind by die SAUK en sy irrasionele besluite daartoe bydrae dat mediavryheid in die land in ’n bedenklike toestand is.

Die DA wat die hofaansoek teen Motsoeneng gebring het, het aangedui dat die party op pad terug is hof toe omdat Motsoeneng en ook die SAUK-raad hul klaarblyklik nie aan hofuitsprake steur nie. Die raad het, nadat die hof bevind het Motsoeneng moet sy pos ontruim, hom wéér as “waarnemende bedryfshoof” aangestel.

Die DA het by monde van James Selfe, voorsitter van die party se federale uitvoerende raad, gesê Motsoeneng se heraanstelling is ’n klap in die gesig van die oppergesag van die reg en dié malligheid moet stopgesit word.

Die ANC het hom ook vir die eerste keer teen die chaos by die SAUK uitgespreek en gesê hofbevele moet gerespekteer en toegepas word om sodoende van Motsoeneng ontslae te raak.

Motsoeneng was die afgelope maande in die spervuur oor sy toepassing van sensuur en opdragte dat gewelddadige betogings nie nuusdekking mag kry nie, sy drakoniese planne dat tot 80% “goeie nuus” uitgesaai moet word en ’n voorskriftelike beleid dat radiostasies tot 90% plaaslike musiek moet speel. In die laaste weke het hy homself nog meer die argwaan van die publiek op die hals gehaal met miljoene rade vir ’n musiekfees in Soweto wat ’n klaaglike mislukking was en ’n bonus van R11,4 miljoen wat hy glo gekry het wat na bewering verband hou met ’n R500-miljoen transaksie om SAUK-kanale op DStv te vestig.

Die Right2Know-veldtog gaan luidens mediaberigte verskeie optogte in groot sentra by adverteerders van die SAUK hou om hulle te dwing om die openbare uitsaaier te boikot.

Volgens Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder by AfriForum, kan koerante of uitsaaiers wat negatiewe nuus verdoesel nie ernstig opgeneem word in ’n demokrasie nie. “Dit is ’n verbreking van die publiek se basiese menseregte soos in die Grondwet vervat.”

Sy meen landsburgers kan nie ingeligte besluite maak sonder geloofwaardige inligting nie. “Al het die SAUK nie op die oomblik ’n greintjie geloofwaardigheid nie, moet daar geveg word om dit reg te stel.”

Taute het gesê Motsoeneng het homself bewys as iemand wat glo hy is onaantasbaar. Hy gee nie om vir mediavryheid nie en misbruik sy posisie. “Die feit dat hy ook hofbevele verontagsaam getuig ook daarvan. Die tyd het aangebreek dat alles moontlik gedoen word om die SAUK van totale ondergang te red en dit sluit in dat daar van Motsoeneng ontslae geraak moet word.”

Die petisie teen Motsoeneng kan geteken word by:

https://afriforum.co.za/weg-met-hlaudi/

 

 

 

 

Soortgelyke plasings