Druk deur AfriForum ry Tshwane-metro se onwettige stadreinigingsheffing in die wiele


Ná volgehoue druk deur die burgerregte-organisasie AfriForum het die Tshwane-metro besluit om weg te doen met sy bestaande stadreinigingsheffing. AfriForum het uit die staanspoor die wettigheid van hierdie heffing bevraagteken en die minister van finansies versoek om die ongrondwetlikheid daarvan na te gaan.

“Die herroeping van hierdie beleid dien as bewys dat die minister se kantore die erns van die saak besef en die kwessies met die metro opgeneem het. Ons het voortdurend met die minister se kantore geskakel om vordering op die saak te moniteer. Die resultaat is dat die metro die raamwerk só vervang het dat dit nou wel aan grondwetlike bepalings voldoen,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die afskaffing van dié beleid beteken dat belastingbetalers nie meer maandeliks ’n bykomende bedrag van R127,04 vir residensiële eiendomme en R2 911,67 vir ondernemingseiendomme hoef op te dok nie.

“Ondernemings het die swaarste onder hierdie beleid deurgeloop,” voeg De Klerk by.

Die Wet op Munisipale Fiskale Magte en Funksies, 2007 (wetno. 12 van 2007) maak voorsiening vir die magtiging van belasting, heffings en pligte wat munisipaliteite ingevolge die Grondwet mag oplê. Dít moet egter eers deur die minister van finansies goedgekeur word. Die stadreinigingsheffing val binne die omvang van hierdie wet, aangesien dit gegrond is op ’n vaste maandelikse bedrag en nie verband hou met die mate waarin die diens aan individuele eienaars gelewer of deur hulle gebruik word nie.

“Hierdie oorwinning is werklik noemenswaardig. Die Grondwet en ander wetgewing plaas verpligtinge op die staat waaraan hulle moet voldoen. Dit is die gemeenskap se verantwoordelikheid om instellings tot verantwoording te roep,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om soortgelyke gevalle onder die organisasie se aandag te bring. Stuur ’n e-pos na takke@afriforum.co.za of SMS jou kwessie na 45341 (R1) om dit aan te meld. Jou bydrae kan AfriForum in staat stel om ander staatsinstellings ook tot verantwoording te roep.
Sien AfriForum se mediaverklaring oor die versoek in 2018 hier: https://afriforum.co.za/afriforum-versoek-finansiesminister-om-te-gryp-met-stadreinigingsheffing/

Soortgelyke plasings