|

Droogtehulp: Boere geroer deur skenkings

Die burgerregte-organisasie AfriForum, in sameweking met Caring Daisies, het vandeesweek 50 ton voer vir boere in droogtegeteisterde dele van die Noord-, Oos-en Wes-Kaap afgelewer.

Dít is moontlik gemaak deur skenkings van die publiek en AfriForum se noodfonds, en volg nadat die burgerregte-organisasie verlede jaar ʼn droogtehulp-veldtog van stapel gestuur het om hulp aan boere te verleen.

Volgens Guido Urlings, nasionale veldtogbeampte by AfriForum, is droogtehulp steeds van kardinale belang omdat talle boere in die land nog onder die droogte gebuk gaan. Die Oos-Kaap ervaar tans die ergste droogte in 108 jaar en die Wes-Kaap, wat tans sy ergste droogte in menslike heugenis ervaar, se damme is slegs 37,8% vol, en net 27,8% van dié water is bruikbaar.

“Met dele van die land wat tans hewige reën kry, vergeet ons dat daar steeds groot dele is waar daar sedert die begin van 2016 nog geen reën geval het nie. As gevolg hiervan moet baie boere nou voer vir hul diere aankoop en dan sukkel om die pot aan die kook te hou,” meen hy.

Die AfriForum-span het met boere in Prins Albert in die Wes-Kaap ontmoet tydens die aflewerings en volgens Urlings was hul dankbaarheid ongelooflik roerend. “Baie boere het vir ons gesê dat hoewel die voer hulle nie vir lank gaan hou nie, dit baie emosionele waarde dra. Om te weet dat daar mense daar buite is wat oor hulle omgee, gee vir hulle die nodige hupstoot om aan te hou boer.”

Verlede jaar het die burgerregte-organisasie ʼn totaal van 300 ton voer aan boere in nood geskenk. Die publiek kan steeds betrokke raak deur hul naam na 38312 te SMS. Elke SMS sal ʼn R10-bydrae tot AfriForum se droogtefonds lewer.

 

Soortgelyke plasings