|

Drakoniese wetgewing rondom landbougrondbesit moet gestuit word

AfriSake sal die Konstitusionele Hof nader indien die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit deur die parlement goedgekeur word.

Dié sakeregte-waghond het vandag in Centurion aangekondig dat hy ’n voorlegging teen die beoogde Wetsontwerp ingedien het nadat ’n omvattende regsopinie verkry is.

Charles Castle, bestuurder by AfriSake, meen die Wetsontwerp sal in sy huidige formaat nie ’n grondwettoets deurstaan nie.

“Die Wetsontwerp sal nie net ekonomiese chaos tot gevolg hê nie, maar ook voedselsekerheid in die land bedreig. Die eiendomsreg van alle grondeienaars – ongeag ras – sal beïnvloed word in terme van die plafonkategorieë wat Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, mag vasstel.

Volgens Castle is daar talle gebreke in die Wetsontwerp en kan die interpretasie daarvan die deur vir growwe ongeregtighede oop laat. “Die onlangse uitsprake deur politici dui daarop dat daar geen dispuut meer oor onteiening is nie. Dit gaan gebeur en die kwessie is nou eerder wanneer en of dit met of sonder vergoeding gaan gebeur.”

Adv. Johan Hamman, ’n spesialis en kenner in eiendomsreg, het gesê die bepalings van die Wetsontwerp is drakonies en gaan ’n geweldige las én beperking op grondeienaars plaas. Ingevolge die voorgestelde Wetsontwerp sal eienaars ná die aanvaarding van die Wet verplig wees om allerlei inligting soos hul ras, aan wie die grond behoort, die grootte van die grond en bykomende inligting oor serwitute en mynregte aan die minister te verklaar.

Hamman het verduidelik dat die Wetsontwerp dit vir wit mense in die toekoms feitlik onmoontlik sal maak om grond te koop, besit daarvan uit te brei of saam met buitelanders grond te besit. Boonop is daar ook bepalings wat teen Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, diskrimineer. Daar is ook ingrypende voorstelle rondom grondplafonne wat later vasgestel kan word sowel as voorskrifte oor wie eerste reg het op die koop van grond wat beskikbaar raak.

Dawie Roodt, ekonoom van die Efficient Groep, meen die ANC-regering is ideologies verward en talle teenstrydige boodskappe word rondom grond gemaak. “Die kommunistiese ideologie is vir persoonlike belang gekaap en dit lyk of ons op pad na ’n diktatuur is.”

Roodt het gesê grondeienaars sal ingrypend en baie vinnig anders oor grond en plase moet begin dink. Die tradisionele benadering is uitgedien en plase sal in die toekoms nie meer net aan individue kan behoort nie, maar in maatskappy-besit wees.

Sy voorstel is dat boere, oftewel grondeienaars, moet dink hoe hulle hulself in die toekoms gaan beskerm. “Dit is van kardinale belang dat grondeienaars bepaalde vaardighede moet hê, dat hulle hul risiko’s moet verminder en hul portefeuljes, ook in die buiteland, moet diversifiseer. “Boere wat dit regkry om suksesvol in Suid-Afrika te boer, sal dit op enige ander plek in die wêreld ook regkry. Dit is belangrik dat hulle moet dink en aanpas om ook in die toekoms suksesvol te wees.”

Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, het gesê vier stappe word voorgestel om te verseker dat grondeienaars oor ’n meer standvastige reg op privaat eiendom beskik. Dit sluit in:

  1. Wees vertroud met voorgestelde wetgewing, beleide en wysigings aan wetgewing, en maak seker dat jy kommentaar lewer waar en wanneer nodig. Neem deel aan die demokratiese prosesse van die Republiek van Suid-Afrika.
  2.  Diversifiseer jou ware regte oor jou eiendom binne die grense van bestaande wetgewing. Win regs- en finansiële raad in dié opsig in.
  3. Word deel van jou plaaslike gemeenskapstrukture en organisasies soos AfriSake of soortgelyke organisasies. ’n Gesamentlike, verenigde front is veel sterker as individuele pogings.
  4. Ondersteun en neem deel aan aksies wat gedryf word deur organisasies wat die grondwetlikheid van onregverdige en diskriminerende wetsontwerpe soos dié toets.

AfriSake moedig die publiek aan om sou gou moontlik kommentaar aan die minister by ralhbill@drdlr.gov.za of sello.ramasala@drdlr.gov.za te stuur, of kommentaar per hand by Jeff Masemolastraat 184 in Pretoria af te lewer. Die openbare deelnameproses sluit op 16 April 2017. Vir gerief het AfriSake ’n brief voorberei waarby die publiek bloot hul name kan voeg en aan die minister kan stuur. Dié brief en die bygaande kommentaar is op AfriSake se webtuiste by www.afrisake.co.za beskikbaar of volg die direkte skakel http://afrisake.co.za/does-white-landowners-also-have-rights/

Hulle kan ook die veldtog #StopNkwinti steun deur ’n SMS met “Land” na 32277 te stuur om te help veg teen onwettige onteiening van grond. Elke SMS kos R1.

Soortgelyke plasings