|

Doen wat jy moet en neem verantwoordelikheid vir jou geslag

Plaasmoorde en –aanvalle het simbool geword van die geweld in die land. Die simbool van hoe bedreig mense voel.

In Treurgrond het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en mede-outeur van dié boek, die kollig op die omvang van dié brutale werklikheid laat val deur die name en verhale van honderde vermoorde boere, ook sy oom Frik Hermann, op te teken sodat hulle nie net as blote statistieke onthou sal word nie.

In sy nuwe boek Begrond gaan hy egter verder en kry die nasaat van ’n vermoorde boer die geleentheid om terug op die spore van die verlede en van geslagte te loop sodat daar uiteindelik in hom ’n verhaal van hoop en opstaan gebore kan word.

Kleinfaan is ’n jong Suid-Afrikaner vol wanhoop wat siek en sat is vir die geweld, misdaad, moorde en korrupsie in die land. Hy het dit aan sy eie lyf gevoel met sy geliefde oupa Faan wat vermoor is.

Maar Kleinfaan is nie die enigste wat swaarkry nie. Daar is sy ouma Hester na wie toe hy gaan omdat hy dink hy haar moet gaan vertroos na oupa se dood.

Maar dis uit ’n vreemde en onverwagse oord waar Kleinfaan se hoop vir die toekoms gebore as hy die verhaal van sy grootouma Katryn en oupagrootjie Karel hoor. Die verhaal van ontbering, armoede en die val en opstaan van die Afrikaner wat onder meer in ’n konsentrasiekamp in Heilbron in die Vrystaat en die eiland Ceylon afspeel.

Begrond is Hermann se eerste fiksiewerk en die verhaal is gegrond op die werklike ervarings van verskillende mense.

Hy het vandag tydens die bekendstelling van die boek in Pretoria gesê hy het die boek geskryf omdat dit iets van “ons” mense vertel. “Afrikaners sal iets van hulself daarin raak lees.”

Volgens Hermann worstel Afrikaners vandag op talle terreine en is hulle moeg om boodskappe te hoor soos dat wittes die oorsaak is van alles wat in die land verkeerd is.

Dit is dan ook juis uit hierdie worsteling en moedeloosheid dat daar mense is wat na hoop soek en gryp. Wat die keuse maak om op te staan en aan ’n beter toekoms te bou.

“Mense wat besluit hierdie is nou my tyd en my plekkie. Mense wat God se verbondslyn sien. Wat in ’n toekomsbelofte glo, ’n roeping het, verantwoordelikheid vir hul geslag aanvaar én doen wat hulle moet doen.”

Volgens Hermann moet mense hoop kry en weer in hoop glo. Een manier om dit te doen, is om weer die krag van stories te besef.

Tydens die bekenstelling van die boek, is ’n bronsbeeld, ook met die titel Begrond, onthul. Dit is deur die Pretoriase beeldhouer Marlene van Heerden gemaak. Dit beeld ’n man uit wat met sy voete vas in Afrika staan, terwyl hy na die hemel opkyk. Talle elemente van die land, die landskap en Afrikanerskap is ook in die beeld vasgevang.

Die boek kos R120 en word deur Kraal-Uitgewers uitgegee. Besoek hul webtuiste by www.kraaluitgewers.co.za

 

 

Soortgelyke plasings