Spyskaart +

Dit het sin om Republiekdag te onthou

Mei 31, 2017 deur Alet Rademeyer

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n Republiek geword. Dié dag, toe Suid-Afrika sy algehele onafhanklikheid van die Britse Ryk verklaar het, was vir talle Afrikaners bevrydend en van groot betekenis.

Suid-Afrika se lidmaatskap van die Britse Statebond is met Republiekwording opgeskort en die land het eers weer in 1994 deel daarvan geword.

Daar was baie pessimiste en teenstanders wat gemeen het die opskorting van lidmaatskap van die Statebond sal geweldige negatiewe gevolge vir die land inhou. Die teendeel was egter waar en Suid-Afrika het onder die leierskap van dr. H.F. Verwoerd van toe af ’n ongekende maatskaplike opbloei vir al sy inwoners ervaar.

Ondanks volgehoue boikotaksies het die land op haas elke terrein vooruitgegaan wat selfs die opposisie in die parlement verbyster het.

Marthinus van Bart het in ’n artikel vir die FAK geskryf: Die Bruto Binnelandse Produk van die Suid-Afrikaanse ekonomie het jaarliks teen ’n koers van 6% gegroei, terwyl die inflasiekoers 2% was. Die land was selfversorgend vir sy voedsel, terwyl hy ’n vername uitvoerder van vrugte en graanprodukte geword het. Met die stigting van Sasol en die verkryging van brandstof uit steenkool, was die land besig om hom van sy afhanklikheid van die petroleum-oliemark te speen. Sy verdedigingsmag het een van die doeltreffendstes ter wêreld geword en die vervaardiging van pantsertuig, wapens, ammunisie en vegvliegtuie het goed op dreef gekom. Ook die Vloot is met verbeterde skepe en wapentuig toegerus. Kernnavorsing het met rasse skrede gevorder sodat Suid-Afrika ’n wêreldleidende rol daarin begin speel het. Die geldstelsel is gedesimaliseer (Rand en sent), goudproduksie is verhoog – met Federale Mynbou wat ook Afrikaanse kundigheid toegang tot die mynwese gebied het. Nywerhede het sterk aangegroei en werkgeleenthede vir al die inwoners het vir ekonomiese opheffing van die hele gemeenskap gesorg. Net 5% van die swart bevolking was teen 1966 nog werkloos.

Van die ouer garde dink gereeld en met heimweë terug aan die kleurryke byeenkomste wat ter viering van Republiekdag, wat ook ’n vakansiedag was, gehou is. Dit was vir baie Afrikaners ’n kultuurbelewenis en dit het ’n belangrike dag in die geskiedenis geword wat met vryheid en die afskud van die Britse juk vereenselwig is. Ook op skoolvlak is dié geskiedenis oorgedra en is kinders op ’n jong ouderdom deelgemaak van die vieringe deur aan tablo’s, spreekkore, debatte en vlaghysingparades deel te neem.

Maar waarom is dit dan belangrik dat Republiekdag in die harte van mense voortleef en dat die nageslag steeds oor die betekenis hiervan ingelig word?

Met Republiekwording het ons ons vryheid teruggekry. Om vry te wees, het vandag nog meer waarde en betekenis vir Afrikaners as minderheidsgroep. Ons wil vry wees om oor onsself en ons instellings te besluit en te regeer. Ons wil vry wees om ons eie lot te beslis en nie van ‘n korrupte meerderheidsregering afhanklik te wees.

Daarom pak organisasies soos AfriForum en Solidariteit veldtogte en projekte aan om uiteindelik by hierdie vryheidsideaal uit te kom.

Omdat ons ook vry wil wees om ons geskiedenis in herinnering te roep en aan ’n nuwe geskiedenis te bou, glo ons dat ons steeds Republiekdag in ons harte mag vier en ons kinders oor hiervan mag vertel.