|

Dít is ANC se werklike motiewe rondom grondonteiening sonder vergoeding

Die burgerregtewaghond AfriForum, Akkerland Boerdery, die landbou-organisasie TLU SA, die vakbond Solidariteit en Agri Limpopo het vanoggend tydens ’n mediakonferensie aangevoer dat die regering met sy huidige pogings om twee plase (Lukin en Salaita) van Akkerland teen 10% van die markwaarde te onteien, grondhervorming as dekmantel misbruik om die werklike motiewe agter die onteiening te verdoesel.

Die organisasies is van mening dat die ANC-regering sy hande op die steenkkoolreserwes onder die grondoppervlak van die plase wil lê om sodoende die uitbreiding van die Chinese regering se ekonomiese belange in Suid-Afrika te fasiliteer.

Chinese staatsbeheerde maatskappye beplan glo tans ontwikkeling te waarde van $10 miljard in die Musina-Makhado spesiale ekonomiese sone (SEZ), waarbinne Akkerland val. Eksplorasie wat die omstrede Coal of Africa (CoAL) op Akkerland gedoen het, dui daarop dat die plaas se steenkool geskik is vir gebruik in beide kragstasies en staalfabrieke. CoAL sukkel reeds die afgelope 7 jaar om die steenkoolprojek in die Limpoporivierkom aan die gang te kry. Die steenkoolrif wat onder die Akkerland- en ander plase deurloop, is na raming sowat R70 miljard werd. CoAL se planne is deur die jare deur die burgerlike samelewing met interdikte en besware gekniehalter.

Die organisasies voer aan die regering benodig die steenkoolresewes op die plase, omdat die Chinese ontwikkeling onder meer die oprigting van ’n steenkoolaangedrewe kragstasie, ’n steenkoolaanleg en verskeie metallurgiese aanlegte insluit. “Die beoogde onteiening van Akkerland teen baie minder as markwaarde gaan nie oor grond nie, maar eerder oor minerale en die ANC wat die Chinese wil bystaan om hul ekonomiese bedrywighede hier uit te brei. Ramaphosa se besoeke aan China is dus nie om dowe neute nie,” meen Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

AfriForum, TLU SA en Solidariteit  het ook aangekondig dat hulle in belang van die beskerming van eiendomsreg Akkerland se regsaksie teen die regering se onteieningspogings finansieel sal ondersteun en ook bystand sal verleen om die onreg wat teen Akkerland gepleeg word plaaslik en internasionaal te ontbloot. Dié organisasies het ook ’n beroep op die publiek gedoen om finansieel by te dra tot Akkerland se regstryd en het reeds ’n afsonderlike bankrekening genaamd Akkerland Regsfonds geopen, wat deur TLU SA se ouditeurs geadministreer sal word. Sien besonderhede onderaan berig.

Johan Steenkamp, mede-eienaar van Akkerland, het daarop gewys dat Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, op 29 Maart vanjaar ’n uitsettingsbrief, wat die eienaars sewe dae gegee het om die plase te ontruim, op Akkerland laat bedien het.

Hy meen haar tydsberekening, wat oor ’n langnaweek gekom het, strook met haar openbare uitspraak dat sy nie boere wat vir onteiening geteiken word tyd wil gee om vir regsaksie voor te berei nie. “Hierdie is ’n baie emosionele aangeleentheid vir ons. Dit gaan nie oor die geld nie, maar oor beginsels en ons grondwetlike regte. Ons kan nie anders as om ferm standpunt in te neem nie.”

Steenkamp meen wat die afgelope vier maande gebeur het rondom Akkerland, is ’n totale skande. “Dit gaan hier oor politici wat populistiese uitsprake maak en glad nie dink aan die miljoene mense wat hul werk gaan verloor nie.”

Volgens Steenkamp kon hulle egter betyds regstappe neem om die uitsettingsbrief tydelik op te hef en maak Akkerland homself gereed vir ’n uitgerekte hofstryd teen die ongegronde grondeis en die regering se onteieningpogings. “Ons veg vir eiendomsreg, want die feit dat die regering slegs 10% van die markwaarde vir Akkerland se plase wil betaal, beteken in effek dat die regering reeds besig is om 90% van ons eiendom sonder vergoeding te onteien.” Die regering bied R20 miljoen vir die plase aan, terwyl die waarde daarvan nader aan R200 miljoen is.

Kriel het bygevoeg dat Akkerland se twee plase eerste op die regering se geheime onteieningslys getiteld: “Proposed expropriation test cases”, is wat tans intern in die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming  gesirkuleer word en onlangs deur AfriForum openbaar gemaak is. “Ten spyte daarvan dat die regering tot onlangs toe nog heftig die bestaan van die lys ontken het, word die korrektheid van die lys bevestig deurdat die regering reeds begin het om Akkerland se plase teen aansienlik minder as markwaarde te onteien.”

Louis Meintjes, president van TLU SA, sê die onteiening van Akkerland se plase teen ’n fraksie van die markwaarde daarvan, is ’n aanduiding dat die ANC se verklaarde beleid van onteiening sonder vergoeding besig is om beslag te kry. “Die beginsel is dat dit onaanvaarbaar is dat die staat sy burgers se bates kan onteien sonder om daarvoor te betaal of net gedeeltelik wil betaal. Onteiening teen minder as markwaarde, onder die dekmantel van grondhervorming en herverdeling van grond, is die voorland van Steenkamp se Akkerland-plase as ons nie nou saamstaan en hom help nie.

“Ons het hier te doen met ’n boer wat in die moeilikheid is en TLU SA doen ’n beroep op boere sowel as alle ander titelhouers van eiendom om te verenig om Steenkamp te help om die diefstal van sy grond te keer.”

Meintjes sê mense moet hul ook nie blind staar oor wat die ANC en Chinese mee besig is nie. CoAL het ’n geskiedenis oor waarmee hulle in provinsies soos Mpumalanga ook besig was. “Ons moet ook vra tot hoe ’n mate daar enigsins gekyk is wat die omgewingsimpak gaan wees as die regering met onteiening vir mynboudoeleindes voortgaan.”

Leon Borcherds, president van Agri Limpopo, sê die beginsels waaroor die hof in die Akkerland-saak moet beslis, sal ’n deurslaggewende impak hê op hoe grondeienaars in die toekoms vir onteiening vergoed gaan word. Dit is veral die wye ongereguleerde diskresie van die waardeerder-generaal, wat die grondwetlik toegelate aftrekkings van markwaarde moet kwantifiseer om by “billike en regverdige” vergoeding uit te kom, wat in die hof getoets moet word.

Borcherds wys daarop dat die hoëvlak Mothlante-verslag oor grondhervorming reeds uitgewys het dat korrupsie, nepotisme, swak dienslewering en onvermoë in die staat, grondhervorming laat misluk en nie die vrywillige verkoper-beginsel nie.

Volgens Marius Croucamp, Solidariteit se adjunk- hoofsekretaris verantwoordelik vir die metaal- en ingenieursbedryf, gaan die staalprodukte wat deur die Chinese aanlegte in Musina SEZ vervaardig word direk kompeteer met die produkte wat die plaaslike sukkelende bedryf vervaardig. “Die staalmark in Suid-Afrika en druk op die internasionale staalmark het tot gevolg dat die marges waarop plaaslike staalmaatskappye bedryf word so marginaal is dat enige verder kompetisie in die mark plaaslike maatskappye sal dwing om te sluit. Die gevolg is dat duisende Suid-Afrikaners hul werk gaan verloor. Die plaaslike maatskappye wat moontlik geraak sal word, sluit Columbus Stainless in Middelburg en Samancor, South 32 in.

Croucamp het ook gewys op die ekonomiese gevolge indien Suid-Afrika se lidmaatskap van die AGOA-klub (African Growth and Oppurtunity Act) van lande wat handelsvoordele van Amerika ontvang, opgeskort word. Onteiening sonder vergoeding is nie toelaatbaar nie in terme van die vereistes van die AGOA-wetgewing.

Mense wat ’n bydra wil maak tot die Akkerland Regsfonds, kan bydraes inbetaal by ABSA 632005, Rek nr. 9343268401).

Soortgelyke plasings