Header Artwork

Dissipline-probleme is een van die hoofredes vir onderwysers se bedankings.

Marius Botha, ’n regskonsultant wat skole oor die hantering van dissipline adviseer, het die enorme probleme wat skole rondom dissipline ervaar, vandag by die leierskapkongres van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand in Centurion uitgelig.

Botha sê gebrekkige dissipline het tot gevolg dat talle onderwysers onveilig voel en gevolglik nie hul werk geniet of selfs behoorlik kan doen nie.

Volgens hom is daar wel skole waar dit wel baie goed gaan. Dit is spesifiek waar skole ’n waardestelsel het wat goed funksioneer. “Dissipline-hantering moet ’n spanpoging wees. Waar skole net ’n dissipline-hoof aanstel en verwag hy moet alles doen, werk dit nie.”

Botha het veral beklemtoon dat skole die korrekte prosedures in dissipline-verhore moet volg en te alle tye moet verseker dat rekordhouding van alle gevalle en voorvalle honderd persent op datum is. Skole moet ook gedragskodes hê wat duidelik uitstippel hoe bewyse soos video’s, foto’s, tekeninge en boeke in verhore gebruik moet word.

Botha en sy span was verlede jaar by 451 verhore in Gauteng betrokke.

Hy meen die grootste probleme is rondom pornografie, sosiale media, dwelms, rassisme en seksuele aktiwiteite. Wat dwelms betref, is daar veral groot uitdagings rondom sintetiese dagga wat vrylik beskikbaar is en nie deur urientoetse opgetel word nie. Skole moet in sulke omstandighede hul gedragskodes sodanig aanpas dat ouers leerlinge wat verdink word vir bloedtoetse moet neem. Die krisis rondom dwelms word verder geïllustreer deur die feit dat van die 605 leerlinge wat verlede jaar in 17 skole in die Wes-Kaap getoets is, altesame 415 positief getoets het.

Botha sê skole moenie die fout maak en dieselfde gedragskode jaar na jaar gebruik nie. Tye en omstandighede verander en gedragskodes moet dienooreenkomstig aangepas word.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het hoofde oor etiese leierskap toegespreek.

Hy het gesê ’n suksesvolle lewe is nie noodwendig ’n betekenisvolle lewe nie, maar ’n betekenislose lewe is gewis ’n onsuksesvolle lewe.

Hy het na voorvereistes vir etiese leierskap verwys soos morele intelligensie, onkreukbare integriteit, kwaliteitverhoudinge, ’n beginselgedrewe benadering en die skep van ’n etiese kultuur. “As ’n leier nie etiese waardes het nie, sal niemand na hom luister nie. ’n Etiese leier is iemand wat ook hierdie waardes uitleef. Etiese leierskap gaan ook oor invloed en sonder integriteit kan geen leier ’n invloed hê nie.”

Colditz het ook daarop gewys dat ’n etiese leier iemand is wat vertrou word. Sonder dit het ’n leier nie geloofwaardigheid nie. “Baie mense maak maklik beloftes, maar wanneer hulle dit nie nakom nie, skend hulle vertroue.”

Hy sê voorts effektiewe kommunikasie is ’n voorvereiste vir leierskap. “’n Skoolleier wat byvoorbeeld net deur e-pos kommunikeer, kan as geslote bestempel word. In skoolverband moet ’n hoof teenwoordig wees. Hy moet in die personeelkamer en op die skoolterrein wees.”

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR