|

Dís waarom AfriForum nie ’n voorlegging aan die Spur-paneel maak nie

AfriForum het besluit om nie ’n uitnodiging te aanvaar om ’n voorlegging aan Spur se ondersoekpaneel – wat ’n ondersoek na die onsmaaklike voorval by die Texamo Spur loods – te maak nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gee die organisasie se redes vir dié besluit in die onderstaande brief wat aan prof. Elmien du Plessis, voorsitter van dié paneel, gestuur is.

Geagte prof. Du Plessis

Dankie vir die uitnodiging.

AfriForum se simpatie in die Spur-debakel lê by die Spur-konsessiehouers en hulle personeel. Hierdie mense is die slagoffers van Spur se uitvoerende hoof, Pierre van Tonder, se eensydige hantering van die debakel.

Ons glo dat die dispuut tot voordeel van die konsessiehouers en hulle personeel opgelos moet word. AfriForum is egter bevrees dat die proses wat Spur nou volg ’n groot deel van Spur se kliëntebasis net verder gaan vervreem. AfriForum wil geen deel hê aan ’n proses wat Spur-kliënte tot nadeel van konsessiehouers verder gaan vervreem nie en sal derhalwe nie aan u proses deelneem nie.

Die rede waarom AfriForum glo dat die proses veral Afrikaanse kliënte verder gaan vervreem, is omdat Spur se uitvoerende hoof dit om onverstaanbare redes nodig geag het om anti-Afrikaanse aktiviste – wat aktief aan die stryd teen Afrikaans by universiteite deelneem – by sy strategie te betrek. Dit terwyl ’n groot deel van Spur se Afrikaanse kliëntebasis benadeel word deur die aanslag op Afrikaans as universiteitstaal.

Benewens uself wat ’n uitgesproke ondersteuner van die Open Stellenbosch-, Reform PUK- en die anti-Afrikaanse #feesmustfall-bewegings is, word Pierre van Tonder in sy strategie bygestaan deur Johan Pienaar (wat ’n sleutelrol speel in die aanslag op Afrikaans op Stellenbosch) en Hannelie Booyens (wat saam met twee Afrikaanse joernaliste, Pieter du Toit en Adriaan Basson, wat beide destyds by Beeld gewerk het, ’n sleutelrol gespeel het om valslik ’n Nazi-beeld van die Noordwes-Universiteit se PUK-kampus te skep).

Dit is daarom nie verbasend dat Spur se reaksie op dr. Dirk Hermann se ope brief nie aan die media-instelling gestuur is waar die aanvanklike ope brief verskyn het nie, maar aan die Huffington Post, waar Du Toit tans ’n senior pos beklee nie. Ook voorspelbaar was dat Spur se reaksie op radio gegee is in ’n program waarvan Adriaan Basson se vrou die redakteur is. Binne hierdie konteks is u aanstelling om die Spur-paneel te lei ook nie verbasend nie.

Ek glo nie in samesweringsteorië nie, maar die rol wat elkeen van die genoemde individue in van Tonder se strategie speel, kan tog nie toevallig wees nie.

AfriForum glo dat dit in belang van Spur-konsessiehouers, -personeel en
-kliënte sal wees indien u as leier van die ondersoek onttrek en Spur nie verder van Johan Pienaar en Hannelie Booyens se dienste as adviseurs gebruik maak nie. Hoe gouer dit gebeur, hoe gouer kan ’n oplossing in belang van Spur-konsessiehouers, -personeel en -kliënte gevind word.

Groete,

Kallie Kriel

Uitvoerende Hoof

AfriForum

Soortgelyke plasings