Header Artwork
Dis nou tyd om hard en duidelik NEE te sê

Sedert die staat van inperking het die ANC-regering toenemend sy ware kleure teenoor landsburgers, en minderheidsgroepe in die besonder, gewys.

Nie net het die regering talle inperkingsregulasies afgekondig wat inbreuk op die grondwetlike regte van burgers maak nie. Die magsdronk afdwing daarvan en hardhandige optrede teenoor duisende mense deur die polisie en weermag, het die vraag in talle kringe laat ontstaan of Suid-Afrika nie binnekort ’n volslae polisiestaat sal wees nie.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, het nie net beswaar teen sekere van die inperkingsmaatreëls en ondeursigtigheid aan die kant van die regering gemaak nie.

Blatante diskriminasie wat in regulasies rondom hulpverlening vervat is en kriteria vir hulp wat op swartbemagtiging en raskriteria gedoen is, het instellings in die Beweging gedwing om hul tot die howe te wend.

Die Beweging het pas met ’n omvattende Sê Nee-veldtog begin wat ook internasionaal gevoer sal word. “Dit is onaanvaarbaar om toe te laat dat ons op grond van ras geboelie word. Dit is tyd om nee te sê en teen rasvergrype op te staan,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurhoof van Solidariteit.

AfriForum en Solidariteit se regsspanne het reeds hofstukke uitgereik waarin hulle die Konstitusionele Hof direk op ’n dringende basis nader om appèl aan te teken teen die hooggeregshof se beslissing wat aan die departement van toerisme die groen lig gegee het om met die toekenning van Covid-19-hulp op rasgronde voort te gaan.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen die uitspraak moet uitgedaag word omdat klein toerismebesighede wat deur lede van minderheidsgroepe besit word, tans net soos alle ander klein toerismebesighede dringend hulp benodig. “Armoede ken nie kleur nie en dit is ondenkbaar dat hulp in ’n krisistyd soos nou op grond van ras toegeken kan word.”

Hy meen die saak moet bespoedig word, want as dit sloer sal talle kleinbesighede in wit besit ondergaan en sal die regering aandadig wees. Figuurlik gesproke is dit ekonomiese moord op minderhede.”

Kriel wys ook daarop dat dit belangrik is dat lede van minderheidsgroepe klaarigheid by die Konstitusionele Hof moet kry oor of dit werklik die geval is dat die huidige grondwetlike bedeling in so ’n mate minderhede se regte ondermyn, dat daar selfs tydens krisisomstandighede teen wittes gediskrimineer mag word. “Indien dit die geval is, is dit vir minderhede duidelik dat hulle na hulself en hul gemeenskappe sal moet begin omsien.”

Benewens die hofsaak teen die minister van toerisme het Solidariteit in Maart ook ’n klag hieroor by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

AfriForum en Solidariteit is ook gereed om die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van alle rassediskriminasie (CERD) oor die diskriminasie teen wit minderhede te nader. Daar gaan egter eers met die appèl na die Konstitusionele Hof gepoog word om die saak plaaslik te beredder. As dit geen vrugte afwerp nie, sal die saak  internasionaal verder gevoer word.

Nog ’n kwessie wat AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand vandeesweek genoop het om hard en duidelik vir die regering NEE te sê, is die beleidsriglyn vir die sentralisering van voedselhulp aan mense tydens die Covid-19-krisis.

Die organisasies het desondanks voortgegaan met die verspreiding van kos tydens die afsonderingstydperk aangesien daar geen regsbasis vir die regering se pogings is om die verspreiding van kos onder regeringsbeheer te sentraliseer nie.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, het woedend gereageer en gesê dié organisasie sal nie toelaat dat die skenkings wat boere aan hulle toevertrou om aan kwesbares uit te deel, deur die regering gereguleer word nie. “Ons sal nie die onsinnige regulasies ondersteun nie gegewe die regering se geskiedenis van korrupsie en nepotisme op alle regeringsvlakke nie. Ons sal nie toestemming vra of aansoek doen vir permitte om kospakkies onder honger mense te versprei nie.”

Die VF Plus en die DA het ook teen die regering se beleid vir die sentralisering van kos uitgevaar en gesê dit is moontlik ook ongrondwetlik. John Steenhuisen, waarnemende leier van die DA, het ook ’n petisie aan die Internasionale Montêre Fonds (IMF) gestuur waarin hy kla oor die regering se riglyn dat geldelike hulp slegs aan ondernemings uitbetaal word wat aan ’n bepaalde raskriteria behoort. Hy meen die grootste gedeelte van die regering se verligtingsfonds kom van ’n lening wat die regering met die IMF aangegaan het.

Die instellings van die Beweging is gereed om die regering ook in die howe oor die sentralisering en verspreiding van kos en kospakkies te pak.

AfriForum het ook die afgelope weke duidelik NEE gesê vir die haglike omstandighede in die regering se kwarantynkampe waarin Suid-Afrikaners aangehou word nadat hulle na die land terugkeer.

Die burgerregte-waghond het ’n oorwinning in die hooggereghof in Pretoria behaal teen die Zithabeseni-kamp buite Groblersdal. Mense wat hier aangehou is, het AfriForum genader oor daar gesloer is om hulle vir Covid-19 te toets, terwyl die geriewe glad nie aan voorgeskrewe standaarde voldoen het nie. Die hof het beslis die kamp moet sluit, en diegene wat negatief toets moet onmiddellik toegelaat word om hulself tuis te isoleer.

As jy ook voel genoeg is genoeg en dat dit tyd is om op te staan en NEE te sê, gaan na https://corona.org.za/massaklag/ om die massaklag te steun wat by die VN ingehandig sal word.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR