--> -->
Spyskaart +

Dís hoe brandstofpryse in 10 jaar geklim het. (En stuit stygings só!)

November 21, 2018 deur Admin

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Hoewel dit verwelkom moet word dat die brandstofprys waarskynlik met sowat R1,50 in Desember verlaag sal word, moet ons darem ook die groter konteks van brandstofprysverhogings in 2018 en die laaste paar jaar in ag neem.

Die prys het byvoorbeeld net in Oktober vanjaar met R1,05 opgeskiet – die grootste enkele brandstofprysverhoging in die geskiedenis van Suid-Afrika. Petrol kos tans sowat R17 per liter. Om dit in prespektief te stel: Dit het in Oktober 2008 R9,41 gekos – bykans die helfte van wat dit vandag kos.

Dus, ofskoon die R1,54-daling welkome verligting bring en ’n groot afname verteenwoordig, is dit eintlik net ’n druppel aan die emmer in die groter konteks en brandstof sal steeds meer as R15 per liter aan die einde van 2018 kos.

Wat nóg erger is, is dat die brandstofheffing R1,27 in Oktober 2008 beloop het teenoor R3,37 in Oktober 2018. Dit is ’n styging van meer as 160%. Die brandstofprys kan na verwagting R20 per liter teen die einde van 2019 haal.

Hoër internasionale oliepryse het ’n rol daarin gespeel dat brandstofpryse vanjaar skerp gestyg het, maar oliepryse het ook al ’n rol daarin gespeel dat die stygings laer was as wat dit andersins sou wees. Laer oliepryse speel byvoorbeeld ’n vername rol in die verwagte daling in Desember – en dit het nie juis met beter ekonomiese toestande in Suid-Afrika te make nie.

Die rand het vanjaar aanvanklik verbeter in reaksie daarop dat Cyril Ramaphosa die leisels as president by die rampspoedige Jacob Zuma sou oorneem. Hierdie positiewe nuus het spoedig in ’n nagmerrie ontaard toe Ramaphosa en die ANC hul steun vir onteiening sonder vergoeding uitgespreek het. Dit het die rand se waarde vinnig laat tuimel. Ramaphosa se kosmetiese veranderinge aan beleid, die staatsdiens, staatsuitgawes en die kabinet het ook ’n beperkte impak gehad en kon nie weer die rand tot by R12 (of beter) teen die dollar laat herstel nie.

Die land, beleggers en wêreld wag nou vir veel beter beleid om die lig te sien en konsekwent toegepas te word. Helaas het die grondwethersieningskomitee pas aangekondig dat die grondwet hersien moet word om voorsiening vir onteiening sonder vergoeding te maak. Daarbenewens lê daar nog ’n verkiesing in 2019 voor en die ANC sal met die populisme van die EFF moet meeding om nie te veel kiesers aan die linkerkant van die spektrum aan die rooi brigade af te staan nie.

Die vernaamste probleem is dat die staat ons as verbruikers gedwing het om by die nuwe realiteit van swak ekonomiese groei en swaar tye (wat boonop grootliks deur die ANC-regering teweeggebring is) aan te pas en ons op allerlei maniere swaarder te belas, maar nie ook hul eie huis terselfdertyd in orde gekry en self daarby aangepas nie. Soos vermeld, is die brandstofheffing byvoorbeeld bykans drie keer hoër in 2018 as in 2008. Verder betaal ons toenemend meer belasting terwyl daar geen einde aan die korrupsie en vermorsing by verskeie staatsdepartemente en -ondernemings, asook munisipaliteite in sig is nie. Die staat se uitgawes – waarvan salarisse nie die minste is nie – word ook nie ingeperk nie omdat die ANC en sy Cosatu-vakbondvennote kop in een mus is en ’n belangrike verkiesing boonop wink.

Dit is daarom verregaande dat die regering – in die lig van al hierdie inligting en ’n gebrek aan enige poging om hul deel te doen om brandstof goedkoper te maak – ons as belastingbetalers en verbruikers aanraai om dan bloot ander karre te ry.

Beter bestuur van die ekonomie en die verlaging van uitgawes is als moontlik, maar die ANC se ideologiese benepenheid keer hulle om praktiese besluite – wat buitendien tot positiewe gevolge sal lei – te neem om die situasie te beredder. Hoë brandstofpryse is onnodig en lei tot hoër inflasie, wat allerlei ander produkte en dienste – soos byvoorbeeld voedsel – duurder maak. Dit tref die armes buitensporig hard omdat hulle proporsioneel meer geld aan goedere soos voedsel bestee. Hoë brandstofpryse het derhalwe ’n veel wyer impak as bloot die verhoogde prys by die pomp.

Dit is tyd dat die regering sy deel doen om die las op die publiek te verlig deur die brandstofheffing af te skaf. Dit sal ten minste verligting op die korttermyn vir verbruikers bewerkstellig. Uiteraard is daar nog vele ander (en belangriker) remedies, soos om bloot meer vertroue in die ekonomie in te boesem, die staat se uitgawes en skuld te beperk en vermorsing uit te sny. Maar deur die brandstofheffing op te hef, stuur dit reeds ’n sterk sein na die buitewêreld dat die regering bereid is om self ook opofferings te maak en meer met minder te doen. Dit sal allerweë vertroue inboesem.

Vanjaar is daar al groot slae teen onder meer onteiening sonder vergoeding en nasionale gesondheidsversekering geslaan danksy ’n aktiewe burgery. Ondersteun AfriForum se pogings om die brandstofheffing af te skaf deur hier te klik en jou naam en kommentaar by die petisie te voeg. Duisende mense het dit reeds gedoen en ons gaan al hierdie bydraes saam met ’n memorandum aan die departement van energie oorhandig.