--> -->
Spyskaart +

Dis áltyd reg om vir jouself op te staan

Mei 3, 2018 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

“Dink jy nie julle is dalk te verregs vir vándag se tye nie?” vra ’n (Afrikaner-) kennis my nou die dag toe ons oor AfriForum en ons aktiwiteite praat. Ek het toe dadelik gevra wat hy as “verregs” beskou en hy kon nie vir my duidelike antwoorde gee nie. Dit het gou geblyk dat hy nie regtig weet waarmee Afriforum besig is of hoe die organisasie sigself posisioneer nie.

My aanvanklike irritasie het in empatie verander ná sy onkunde duidelik begin blyk en ons begin om vergelykend te gesels. Die EFF, SAKP en ANC hang vandag ’n totaal gediskrediteerde en uitgediende ideologie naamlik kommunisme aan. Dit is ’n ideologie wat volgens The Black Book of Communism: Crimes, Terror, Repression teen die einde van die 20ste eeu reeds meer as 100 miljoen lewens geëis het. Die EFF skreeu dit uit, gryp onwettig grond en kondig dit met fanfare op hul webwerf aan. Hulle wil radikaal wees en is trots daarop. Die ANC is dalk net ’n meer besadigde weergawe hiervan, maar moenie twyfel nie: Hulle het die dieselfde eindbestemming in gedagte. Dit gebeur net meer inkrementeel.

Ten spyte van die val van die Ystergordyn en die feit dat kommunisme skipbreuk gely het weens sowel grootskaalse teenstand in die Sowjet-unie en die voormalige Oosblok-lande as sy eie inherente mislukkings en teenstrydighede, is daar steeds politieke partye in Suid-Afrika wat hierdie gediskrediteerde ideologie aanhang en dit wil toepas.

Dan kan ons oorskuif na die ANC se ongebreidelde korrupsie en staatskaping. Kom ons noem dit diefstal – want dit is presies wat dit is. Dan word wit mense, Afrikaners en ander minderhede gereeld en amptelik deur dié partye en hul aanhangers verdag gemaak en beswadder.

Kyk ’n mens na Afriforum se webwerf, sal jy slegs sinvolle kommentaar aantref, asook tekens van regmatige (en doeltreffende!) burgerlike weerstand, pogings om Afrikaners trots op hulself te maak en hul geregverdigde ontevredenheid met die toedrag van sake in die land op ’n gesonde en konstruktiewe wyse te hanteer. Daar is geen hakekruise of ander verregse simbole nie – en daar sal ook nooit wees nie. Ons lewer harde kritiek as dit nodig is, maar demoniseer nooit groepe mense nie.

Heelwat meer mense as slegs Afrikaners baat by vele van ons projekte, byvoorbeeld die regmaak van paaie, die skoonmaak van dorpe en die plant van bome. En wat ons vir onsself gun, gun ons ook ander. Maar Afrikaners gaan nie in onderdanigheid in hierdie land leef nie. Dit moet die owerhede en almal anders maar weet. Ons het ’n reg om onsself te organiseer, te beskerm en ons eie toekoms te bepaal. Die beste internasionale praktyke en die internasionale reg en Grondwet magtig ons júís om dit te doen.

My gespreksgenoot het gou oor hierdie feite begin kleitrap en erken hy luister slegs sekere radioprogramme waarna sekere linkse kommentators genooi word en het self nog nooit eens ons webwerf of Facebook-blad besoek nie. Ek het hom vriendelik uitgenooi om wyer te lees, luister en dink – en natuurlik meer oor AfriForum uit te vind.

Dit bring my by ’n volgende vraag: Wanneer is die regte tyd om iets te doen? Die eenvoudige antwoord is dat dit altyd die verkeerde tyd is as jy die verkeerde ding doen. As jy die regte ding doen en dit op die regte wyse doen, kan jy dit enige tyd doen. Om vir jou eie regte op te staan – veral as jy ’n minderheid is – en niemand anders skade berokken nie, móét jy dit eenvoudig doen. Te veel minderhede is vandag slegs voetnotas in die geskiedenis omdat hulle dit nie gedoen het nie. Daar is vandag talle risiko’s vir Afrikaners in Suid-Afrika, maar ons kan dit op ’n demokratiese en geregverdigde wyse bestuur en oplossings vind. Diegene wat ons dan wil kritiseer, moet dit dan ook maar doen.

Ek het trouens onlangs gehoor van ’n voormalige Afrikaanse registrateur by ’n bekende universiteit wat sy pogings geregverdig het om Afrikaans by sy universiteit te laat wegkalwe deur te aan te voer dat “die tye verander het” en dat daar nou aangepas moet word. Sekere kerke in Suid-Afrika gooi ook vandag willens en wetens Bybelse beginsels by die venster uit om “by die tye aan te pas” en ook die ANC te welgeval en polities korrek voor te kom. Dooie visse dryf maklik stroomaf. Dit verg ’n sterk vis om stroomop te swem.

Ek glo in (en steun) die vermoë van mense om vooruitgang te maak. Ons het vandag fantastiese tegnologie en medisyne weens die mens se begeerte om te verbeter en te oorleef. Sekere beginsels bly egter onveranderlik en altyd geregverdig, en dit is eerder die pogings om dit te verander wat hoogs problematies is – ongeag die sogenaamde heersende tydsgees. Net so bly praktyke soos diefstal, korrupsie en haat altyd verkeerd. Daarom is dit áltyd reg om vir jouself, jou belange en beginsels op te staan en dit terselfdertyd vir ander te gun – ten spyte van jou knaende haters en ’n wydverspreide onkunde.