| | |

Dink of Sink oortref verwagtinge in Verre-Noorde-streeksuitdun

Sowat 100 leerlinge van 26 debatspanne het die afgelope naweek aan AfriForum se jaarlikse Dink of Sink-skoledebatskompetisie se nuwe streeksuitdun in die Verre-Noorde deelgeneem.

Dit is die eerste keer dat Dink of Sink ’n uitdunrondte in die Verre-Noorde aanbied en vyf skole van regoor Limpopo – Hoërskool Merensky, Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Louis Trichardt, Hoërskool Pietersburg en Hoërskool Nylstroom – het teen mekaar meegeding.

Hoërskool Merensky het as juniorwenner en seniorwenner uit die stryd getree en sal in Oktober aan ’n groot eindrondte deelneem waar die beste junior en senior skoledebatspanne in die land gekroon sal word.

Danksy oorweldigende belangstelling bied Dink of Sink vanjaar óók ’n uitdunrondte by Hoërskool Walvisbaai in Namibië aan.

“AfriForum het ‘n hele paar jaar terug besef wat die waarde van gesonde debatvoering is en hoe belangrik die ontwikkeling van hierdie vaardigheid onder jongmense is. Dit is wonderlik om te sien hoe hierdie kompetisie elke jaar groei en uitbrei na nuwe streke,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir Onderwys by AfriForum.

Dink of Sink word in samewerking met Beeld, Die Burger en Volksblad aangebied. Ander streekskompetisies word later vanjaar by die Hoërskool D.F. Malan in die Kaap, die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein en die Hoërskool Montana in Pretoria gehou.

Soortgelyke plasings