Header Artwork
Die Zoeloes en die Voortrekkers – nader aan die waarheid

Deur Barend Uys

For they were freedom fighters, because they were fighting for the freedom of our land, and they sacrificed immensely, fighting against invaders.”

President Cyril Ramaphosa het hierdie stelling gemaak tydens sy toespraak by die Versoeningsdagviering in Bergville, verwysend na die Zoeloekrygers wat by die Slag van Bloedrivier betrokke was. Dit was veral Afrikaners wat negatief op hierdie uitlating van Ramaphosa gereageer het. Die Afrikaanse sanger Chris Chameleon het op Twitter gesê:

“dingane’s impi lived under a brutal monarchy. no pvt landownership, no voting rights. @CyrilRamaphosa calling them freedom fighters on this day is deceitful & not reconciliatory. i distance myself from the reinterpretation of this day & reaffirm my ancestors’ religious intention.”

Om te beoordeel of Ramaphosa gebalanseerd met die geskiedenis omgegaan het met sy verwysing na die Zoeloekrygers as “vryheidsvegters” en die Voortrekkers as “invallers”, is dit nodig om weer oor die gebeure van daardie tyd na te dink.

Kommissietrek na Natal
Op 8 September 1834 vertrek ’n verkenningsgeselskap – wat later as die Kommissietrek na Natal bekend sou word – onder leiding van Piet Uys vanuit die Uitenhage-distrik na Natal. Hierdie geselskap het met 14 waens getrek en het uit 20 grensboere, een boervrou en ook ’n onbekende hoeveelheid werkers bestaan.

Volgens die oorleweringe van die Uys-familie het Uys saam met Jacobus Moolman en Matthys Human samesprekings met Koning Dingane kaSenzangakhona gevoer wat uitgeloop het op ’n mondelingse belofte van Dingane dat hy bereid was om grond aan Uys en sy mense af te staan. Dingane was nie bereid om op hierdie stadium ’n geskrewe kontrak aan te gaan nie. Hy het gesê dat die mense wat grond wil hê hulle eers in sy gebied moet kom vestig, waarna hy dan ’n geskrewe kontrak met hulle sou aangaan.

Retief en Koning Dingane
Piet Retief het op 7 November 1837 by Dingane aangekom om te onderhandel om grond te bekom vir die grensboere (Voortrekkers) wat die Kaapkolonie verlaat het. Dingane het onderneem om die stuk grond tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier aan Retief en sy mense beskikbaar te stel op voorwaarde dat hulle Dingane se beeste, wat na bewering onder leiding van Kgosi Sekonyela (van die Batlokwa) gesteel is, terugbring en ook vir Sekonyela in hegtenis neem en aan Dingane uitlewer.

Retief het in Desember 1837 ’n kommando na Sekonyela gelei en Dingane se beeste teruggeneem en saam met die Zoeloe-veewagters na die koning gestuur. Retief het ook as ’n straf (’n boete) nog van Sekonyela se beeste geneem.

Retief en sy geselskap –  67 grensboere, drie seuns, ’n Engelsman en 30 werkers – het in Januarie 1838 na Umgungundlovu, Dingane se hoofstad, vertrek.

’n Geskrewe ooreenkoms wat bepaal het dat Dingane die grond tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier aan die Voortrekkers afgestaan het, is op 4 Februarie onderteken. Slegs twee dae later word Retief en sy hele geselskap egter in opdrag van Dingane wreedaardig op die moordkoppie, kwaMatiwane, vermoor.

Die Voortrekker-moorde
Die Voortrekkers wat aan die oostekant van die Drakensberge gewag het op tyding van Retief en sy geselskap, is die nag van 17 Februarie 1838 deur Zoeloekrygers aangeval. Die vreeslikste slagting vind langs die Bloukransrivier en Moordspruit plaas – 41 mans, 56 vroue en 185 kinders word vermoor. Genadiglik kon sommige geselskappe vinnig genoeg organiseer, ook te danke aan die heldedaad van jong Daniël Bezuidenhout, en die aanvalle teen hulle suksesvol afweer.

Die Slag van Italeni
Die trekgeselskappe van Piet Uys en Hendrik Potgieter het in hierdie stadium steeds aan die westekant van die Drakensberg gestaan. Nadat hulle verneem het van die skrikwekkende gebeure aan die anderkant van die berg, het hulle die Voortrekkers daar te hulp gesnel en ook besluit om ’n strafekspedisie teen Dingane te onderneem.

’n Krygsmag van 347 manskappe onder bevel van Uys en Potgieter het as twee afsonderlike groepe op 5 en 6 April na Umgungundlovu vertrek. Hierdie veldtog het in ’n nederlaag vir die Voortrekkers geëindig toe Uys, sy seun Dirkie en nege ander Voortrekkers op 10 April tydens die Slag van Italeni, gesneuwel het. Die Vlugkommando, soos dit bekend geword het, het twee dae later by die laers aangekom en Potgieter het Natal verlaat om aan die anderkant van die Drakensberge te gaan vestig.

Veglaer en die dood van Maritz
Die Voortrekkers, wat waarskynlik vir maande in angs moes lewe, word van 13 tot 15 Augustus 1838 deur ongeveer 10 000 Zoeloes by Gatslaer aangeval. 75 weerbare mans slaan die aanval af met die hulp van vroue en kinders, maar al die vee word weggevoer. Die laer word herdoop na Veglaer.

Op Sondag 23 September sterf Gert Maritz aan malaria – hy was maar 41 jaar oud. Met Retief, Maritz en Uys oorlede en Potgieter se vertrek was die Voortrekkers in Natal ontneem van al die aanvanklike trekleiers.

Pretorius en die Slag van Bloedrivier
Die uitslag van die Slag van Bloedrivier wat op 16 Desember 1838 plaasgevind het, is welbekend. Die Voortrekkers met 64 waens, 470 Voortrekkers, en 100 werkers onder bevel van Andries Pretorius, is deur tussen 15 000 en 30 000 Zoeloes onder bevel van Dambuza Nzobo en Ndlela kaSompisi aangeval. ’n Mens staan dankbaar en verwonderd dat slegs drie Voortrekkers, waaronder Pretorius, gewond was. Nie ’n enkele lid van die Voortrekkermag is tydens of as gevolg van die geveg oorlede nie – voorwaar ’n wonderwerk.

Begrafnis op Kersdag
Pretorius en sy Wenkommando het ná die geveg by Bloedrivier na uMgungundlovu vertrek en op pad daarheen ook die lyke van die Voortrekkers wat tydens die Slag van Italeni gesneuwel het (meer as agt maande tevore), gaan begrawe.

Vier dae later, op 20 Desember, het die kommando reuserookwolke gesien. Dit was die rook van uMgungundlovu wat deur die Zoeloes self aan die brand gesteek is voordat hulle gevlug het. Die kommando het die Zoeloe-hoofstad op 21 Desember bereik en die volgende dag kwaMatiwane geklim en daar die beendere van die Voortrekkers, waaronder Retief, daar gekry. Die ondertekende traktaat is in Retief se bladsak gekry.

Op 25 Desember 1838, op Kersdag, is die lyke van Retief en sy geselskap aan die voet van kwaMatiwane begrawe. ’n Dag wat veronderstel was om ’n feesdag te wees, was ’n roudag.

Die slag aan die Wit-Mfolozi
Op 27 Desember 1838, slegs elf dae na die Slag van Bloedrivier, het ’n Voortrekkerkommando van 300 man onder bevel van Karel Landman en veertig Zoeloes (onder die bevel van die Engelsman Alexander Biggar) in die Wit-Umfoloziriviervallei ingegaan om die Zoeloes wat moontlik daar geskuil het te verdryf en die beeste wat daar was af te neem. ’n Mens moet hier in ag neem dat die Zoeloes gedurende 1838 duisende van die Voortrekkers se beeste weggevoer het.

Hulle is egter in ’n lokval gelei en was die hele dag lank in ’n hewige stryd om lewe en dood gewikkel. Vyf Voortrekkers, Biggar en vyf van die Zoeloekrygers onder sy bevel het gesneuwel. Die slag aan die Wit-Umfolozi was ’n besliste oorwinning vir die Zoeloes en dit was duidelik dat Dingane se mag nie gebreek was nie.

Dingane verslaan en Mpande tot koning gekroon
Dingane se mag is weliswaar eers finaal in 1840 gebreek. Dingane se halfbroer, Prins Mpande kaSenzangakhona, het ’n Zoeloe-leër gestuur om Pretorius en sy Beeskommando, soos dit bekend gestaan het, in die finale ekspedisie teen Dingane te ondersteun. Dingane se leër, weer onder bevel van Ndlela, is egter finaal in Januarie 1840 deur die leër van Mpande onder bevel van Nongalaza KaNondela verslaan, tydens die Slag van Maqongqo.

Dit is belangrik om daarop te let dat Pretorius se kommando nooit tydens hierdie veldtog met Dingane se leër slaags geraak het nie en dus geen rol gespeel het in die finale breek van Dingane se mag nie (Dingane is kort daarna deur die Swazi’s vermoor). Die Zoeloe-volk se mag was hoegenaamd nie gebreek nie, en is weer verenig en versterk onder leierskap van Mpande.

Mpande is op 10 Februarie 1840 deur Pretorius tot koning van die Zoeloes gekroon, ook omdat hy die regmatige troonopvolger was en die steun van die Zoeloe-hoofmanne geniet het. Pretorius het hierna, om die skuld van die veldtogte teen Dingane te vereffen, die grond tussen die Tugela- en die Swart-Mfolozirivier geannekseer.

Hierdie gebeure het ’n tyd ingelei van goeie verhoudinge tussen die Voortrekkers en die Zoeloes waarop daar vandag weer deur die nasate van die Voortrekkers en die Zoeloes voortgebou word.

Finale beoordeling
Die geskiedenis is nie eenvoudig nie en dit is ook onmoontlik om presies vas te stel wat 181 jaar terug gebeur het en hoe die mense van daardie tyd gedink en opgetree het. Elke volk gaan ook die geskiedenis op hul eie manier onthou en beoordeel. Mense was, en is, steeds maar net mense – foute en al.

Was die Zoeloekrygers wat by die Slag van Bloedrivier geveg het vryheidsvegters? Hulle was manne wat in opdrag van hul wettige leier en koning en onder bevel van bedrewe aanvoerders in belang van hul volk dapper opgetree het. Hul nagedagtenis behoort daarom gedenk te word.

As jy onderhandel voor jy ’n gebied beset, is jy nie ’n invaller nie. Vir Ramaphosa om die Voortrekkers “invallers” te noem is daarom, om die minste te sê, histories onakkuraat en vir seker nie ’n versoenende gebaar teenoor Afrikaners as afstammelinge van die Voortrekkers nie.

Gelukkig weet ons dat ons toekoms, maar ook ons geskiedenis, asook hoe ons kinders en hul kinders daaroor gaan dink, in ons eie hande lê – ons moet net dié verantwoordelikheid opneem. As ons dit regkry om ’n gebalanseerde weergawe van die verlede aan ons nageslag oor te dra, sal dit vir ons moontlik wees om uit die verlede te leer en ’n mooi toekoms te bou.

Barend Uys is hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR