|

Die vlag en versoening … Waarom die resep flop

Deur Ernst, Hoof van beleid en aksie by AfriForum

*Hierdie artikel is geskryf in reaksie op die artikel “Staak beheptheid oor ou vlag” deur prof. Elmien du Plessis wat op 5 September 2019 op Netwerk24 verskyn het. Netwerk24 het egter nie die reaksie gepubliseer nie. 

Glo dit of nie, maar daar is nog steeds kommentators wat aanvoer dat ons selektief na die verlede moet kyk, burgerlike vryhede moet onderdruk en inkonsekwent op mense se pyn moet reageer ten einde versoening te bewerkstellig. Jy sal wyd moet soek om ’n beter voorbeeld van ’n flopresep te kry.

In haar meningstuk op Netwerk24 skryf Elmien du Plessis dat ons die verdeelde verlede moet onthou as ons wil bou aan ’n vrye, demokratiese samelewing, gebaseer op menswaardigheid, vryheid en gelykheid. Sy voer aan dat ons nie hierdie verdeeldheid sal genees as ons nie oor ’n bepaalde historiese bewussyn beskik nie. Sy skryf dat die grondwet as ’n monument moet dien met ’n belofte dat ons van nou af dinge anders gaan doen.

Hierop kan ’n mens net sê: “Amen.”

Du Plessis is nie alleen in hierdie stryd nie. Verskeie van haar eendersdenkende kollegas wat hulleself in die akademie, die kunste of die media bevind, huldig dieselfde standpunt.

Du Plessis en kie plaas pertinente klem op die aanhef tot die grondwet, wat in die heel eerste sin verklaar dat ons, die mense van Suid-Afrika, die ongeregtighede van die verlede erken en dat ons diegene wat vir geregtigheid en vryheid gely het, huldig.

Goed en wel. Natuurlik moet ons dit doen.

Dit is egter by die vertolking van hierdie bepaling waar die eerste dimensie van die probleem na vore tree.

In haar ontleding pleit Du Plessis dat ons die grondwet in ’n bepaalde konteks moet verstaan. Sy maak dit ook baie duidelik dat wanneer sy oor die ongeregtighede van die verlede praat, sy oor apartheid praat. Natuurlik is daar ’n legio ongeregtighede in die naam van apartheid gepleeg. Ons moet dit erken. Dit is egter duidelik dat hoofstroom-meningsvormers die grondwet vertolk op ’n wyse wat gerieflik met die ANC se ideologiese vertrekpunte belyn is.

Die aanhef van die grondwet bied die inleidende konteks waarbinne die hele dokument vertolk moet word. Dit is egter duidelik dat wanneer daar van die ongeregtighede van die verlede gepraat word, daar slegs van ’n baie spesifieke ongeregtigheid gepraat word wat deur ’n baie spesifieke groep mense gepleeg is. Die aanname wat nie uitdruklik uitgespreek word nie, is óf dat daar nie ander ongeregtighede was nie, óf dat ander ongeregtighede dit nie waardig is om erken te word nie – ten minste nie in dieselfde mate nie.

Wanneer Du Plessis byvoorbeeld sê dat die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) se werk nie afgehandel is nie, verwys sy natuurlik daarna dat daar nie genoeg klem op die wreedheid van apartheid geplaas is nie en dat die slagoffers van apartheid nie voldoende erkenning vir hulle pyn kry nie. Dit, asof ons nie dekades later nog steeds elke dag hoor hoe wreed en hoe boos die stelsel was nie. Sy verwys nie na die feit dat geregtigheid steeds nie geskied vir dié wat in die ANC se kampe gemartel is nie, of wie se geliefdes in halssnoermoorde dood is nie. Sy verwys nie na die feit dat die WVK self gesê het dat rofweg 90% van politieke sterftes as gevolg van swart-op-swart geweld was nie – geweld wat baie uitdruklik as deel van die ANC se sogenaamde “people’s war” teen swart mededingende organisasies aangehits is. Sy verwys nie na die ANC-leiers wat geweier het om vir amnestie aansoek te doen of om hulle gruweldade bloot te lê nie, of na die feit dat Jacob Zuma net ’n paar maande gelede erken het dat hy betrokke was by die Amanzimtoti-bom wat tot die dood van vyf onskuldige vroue en kinders gelei het nie. Nee, die WVK se werk is nie klaar nie, want ons fokus nog nie genoeg op apartheid nie.

Natuurlik moet ons oor apartheid praat. Ons moet die foute erken, asook die pyn wat daardeur veroorsaak is. Om aan te voer dat die fokus tans nie genoeg op apartheid is nie, is egter ten beste naïef.

In die naam van versoening word daar nou gepleit vir ’n sterker, meer entoesiastiese erkenning van die foute van die verlede, maar dit is ’n pleidooi vir ’n selektiewe perspektief waar sekere ongeregtighede nog meer onder die kollig geplaas word, terwyl ander nog verder onder die mat gevee word. Dit speel natuurlik reg in die ANC se hande.

Objektief beskou bestaan daar ’n paar sleutelvereistes waarsonder versoening nie kan plaasvind nie. In die eerste plek kan versoening nooit in die afwesigheid van objektiewe geregtigheid geskied nie – geregtigheid wat gestroop is van hierdie of daardie organisasie se definisie van geregtigheid. Geregtigheid beteken nie geregtigheid vir een deel van die samelewing nie, maar vir almal. In die tweede plek kan versoening nie van die waarheid losgemaak word nie. Enige poging om versoening te bevorder deur selektief met die feite om te gaan, sal kunsmatig wees en uiteindelik verbrokkel. Om onbeskaamd met die waarheid om te gaan en om werklik tot geregtigheid verbind te wees, vereis konsekwente optrede – wat konsekwente veroordeling van ongeregtighede en ook konsekwente meegevoel met mense se pyn vereis.

Die eerste simptoom wat na vore tree wanneer hierdie sleutelvereistes verontagsaam word, is dat daar ’n hiërargie van erkenning ontwikkel. Dit is, met ander woorde, ’n rangorde ingevolge waarvan daar pertinente fokus op spesifieke foute geplaas word en waar die legitimiteit van mense se pyn en leed eerstens bepaal word aan die hand van hulle identiteit. As jy deel van ’n sekere groep is, dan word jou pyn erken en dan moet ons daaroor praat. As jy nie deel van daardie groep is nie, jammer vir jou. Dit is ’n hiërargie wat die samelewing in twee groepe verdeel: die booswigte, wie se foute erken moet word, en die slagoffers, wie se pyn erken moet word. En durf jy iets sê oor die pyn van dié wat as booswigte geëtiketteer word, dan word jy self as boos uitgeskel. Durf jy dit waag om iets te sê oor ongeregtighede wat gepleeg is deur dié wat op hierdie eendimensionele vertolking slegs as slagoffers beskryf word, dan is dit nog soveel erger.

Dit bring ons by die vlag. Du Plessis skryf dat die “beheptheid” met die 1928-vlag (die “ou vlag”) nou moet end kry. Dit is natuurlik ’n strooipopargument. Daar is g’n beheptheid met die vlag nie. Mense het aanbeweeg. Sowel die Nelson Mandela-stigting, wat die aansoek gebring het om die vertoon van die vlag tot haatspraak te verklaar, as AfriForum, wat die aansoek teengestaan het, het dit herhaaldelik duidelik gemaak dat dit nie oor die vlag gaan nie.

Die vlag word egter voorgehou as ’n simbool wat met Afrikanerskap geassosieer word. Dis nou die über-booswigte. Dan word daar aangevoer dat die vlag verbied moet word, net soos wat die swastika in Duitsland verbied is. Die onderliggende beskuldiging en assosiasie is dat Afrikaners eintlik maar dieselfde as Nazi’s is en dus dieselfde hanteer moet word. Dit is ’n versterking van die eendimensionele narratief wat ons verder van versoening af verwyder.

Hoewel byna alle Afrikaners – en spesifiek ook AfriForum – nie die vlag gebruik nie, is dit vir die regerende elite ’n simbool. Dit is eerstens ’n maklike teiken wat afgeskiet kan word, wat dan deur hulle ondersteuners as ’n oorwinning beskou word – nie oor die stuk lap nie, maar oor die mense wat hulle met die vlag assosieer. Dit is ook duidelik dat die verbod op die vlag bloot as ’n eerste stap beskou word – en daar is reeds bespiegeling oor watter simbole volgende verbied moet word.

Du Plessis en haar kollegas doen ’n beroep dat dinge anders gedoen moet word. Ten spyte daarvan pleit hulle dan dat ons moet voortgaan om die eendimensionele meesterverhaal wat die ANC die afgelope drie dekades opgebou het, bloot in stand te hou. Dit is om die samelewing te kategoriseer in twee groepe. Die oortreders se bose dade en die slagoffers se pyn moet van die dakke af uitbasuin word. Terselfdertyd moet die oortreders se pyn en die slagoffers se oortredings onder die mat gevee word. Al verskil is nou dat daar gepleit word dat dit met meer radikale staatsingryping gedoen moet word – in hierdie geval met die onderdrukking van burgerlike vryhede. Dit alles, kwansuis om versoening te bewerkstellig.

Dit is g’n resep vir versoening nie. Dit is ’n flopresep wat slegs tot meer spanning sal lei.

Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets

Soortgelyke plasings