--> -->
Spyskaart +

Die verhaal van twee skole

Januarie 19, 2018 deur Alana Bailey

Die meeste media in die land gons vandag oor gebeure by Hoërskool Overvaal.  Om op te som vir die wat nie weet nie, dié skool is vol.  Daar is al sedert die einde van 2017 nie meer plek vir meer graad agts in 2018 as wat reeds geplaas is nie.  Terloops, dit is ’n enkelmedium Afrikaanse skool.  Die onderwysdepartement wou egter die skool dwing om nog 55 leerlinge in te neem – leerlinge wat ’n ander taalbeleid, naamlik Engelse onderrig verlang.  Dit alles geskied ten spyte van twee Engelse skole, Phoenix en General Smuts wat naby is en plek het.  Volgens Google Maps is die twee skole onderskeidelik so 9-10 en 7-9 kilometer van Hoërskool Overvaal geleë.  Die saak beland toe uiteindelik in 2018 in die hof en die regter beslis in Overvaal se guns.

Die storie het nog vele kinkels, soos vals bewerings van die onderwysdepartement dat klaskamers sonder toestemming in laboratoria omgeskakel is en hoofde van die naburige Engelse skole wat skynbaar deur departementele amptenare geïntimideer is om vals verklarings af te lê dat hulle skole vol is.

Tydens die saak en na die uitspraak het die omstrede Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, sy gebruiklike gal teen Afrikaans en Afrikaners gebraak.  Hy en mede-populiste, -ideoloë en opportuniste het losgetrek met uiters polariserende uitsprake.  Sommige het aangehits tot geweld en vandalisme teen die skool, Afrikaanssprekendes oor die algemeen, Afrikaners oor die algemeen en wit Suid-Afrikaners oor die algemeen.

Wat veral tragies is, is dat dit die hoeveelste keer is wat ons die soort gebeure sien afspeel.  Ander hoërskole wat in die verlede al onder dieselfde intimidasie deurgeloop het, met ’n effense variasie van feite en hoofrolspelers na die een of die ander kant toe, was onder meer Ermelo, Fochville, Hoër Volkskool Heidelberg, Montana, Overkruin, Klipspruit en meer.  Elke keer het politici skuim om die mond vertel van die hardvogtige skoolgemeenskappe wat niks vir die uitgesluite leergierige kinders omgee nie.  In die gevalle waar AfriForum om bystand genader is en ons op grondvlak met mense gesels het, het ons gehoor van uitreike na naburige skole met onderrig, kos en leermateriaal, van behoeftige kinders wat beurse kry, van voedingskemas.  Op die skoolterreine het jy nie net kinders van een ras gesien nie, maar ’n verskeidenheid wat almal met groot respek van hulle leerkragte praat en sommer net hulle tienerskap geniet.  Hulle was die politieke speelballe wat ambisieuse amptenare en partylede sonder huiwering op hulle ideologiese altaar sou plaas.

Helaas was daar ook elke keer genoeg oningeligte, goedgelowige mense buite die hekke van die skole wat by die betogings en geweldpleging ingeval het, aangesweep deur die fabels oor Utopia wat anderkant die skoolhek wag en bose hekwagters wat hulle weens ras en ‘n sogenaamde hunkering na die verlede uit die paradys probeer hou.

Enkele onetiese mediamense was ook maar te gretig om die verhaal verder te versprei, ander het die agenda agter die retoriek ontmasker.

’n Skoolgemeenskap waarna ek wil verwys, is mense wat al vir jare tevergeefs wag dat ’n hoërskool genaamd Khuba Secondary School gebou word.  Hierdie gemeenskap is van die Nkandla distrik, daar waar die Suid-Afrikaanse president ’n woonkompleks ter waarde van R250-miljoen besit.

Die gemeenskap het in 1996 aansoek vir ’n hoërskool gedoen.  Die aansoek is gunstig ontvang en in 2007 is die naam Khuba Secondary School geregistreer.  Die onderwysdepartement het sedertdien die gemeenskap met beloftes getroos dat die skool binnekort opgerig sou word.  Nadat dit nie gebeur het nie, het die gemeenskap AfriForum om bystand genader. Eers toe AfriForum in 2017 navraag oor die stand van sake doen, is geantwoord dat dit nie meer gebou gaan word nie.  ’n Streep is deur meer as 400 kinders se droom getrek met die verskoning dat hulle te min is om ’n eie skool te regverdig.

Intussen spandeer hulle tot meer as 3 ure per dag om deur die veld na die skole naaste aan hulle te stap.  Hulle trotseer wind en weer, slange en selfs ’n spruit wat soms in vloed is.  Word hulle klere nat op pad skool toe, word hulle summier teruggestuur huis toe.  In van die klasse is die onderwyser tot leerling verhouding van 1:85 tot selfs 1:121.  Verder is daar in die meeste gevalle ’n enkele handboek tussen 10 leerlinge en sit hulle heeltyd op die grond gedurende klastyd.  AfriForum staan hulle met regsadvies by om die besluit van die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement teen te staan sodat Khuba Secondary dalk eendag ook op die grond, en nie net op papier nie, sal staan.

Syfers in verskillende verslae vertel die ware storie agter hierdie stories.

Dit vertel van ’n onderwysdepartement wat die afgelope jaar sowat 15% van die nasionale begroting aan onderwys gewy het, maar tog, volgens die Globale Mededingendheidsverslag van die Wêreld Ekonomiese Forum, wat gehalte onderrig op primêre vlak aanbetref, 126ste uit 138 lande kom en met sekondêre onderrig, 134ste.

Die 2016-2017 verslag van die Suid-Afrikaanse ouditeur-generaal vertel van die begroting vir ontwikkeling van infrastruktuur wat nie eens naastenby die gestelde teikens behaal het nie.  Daar is vir die bou en voltooiing van 59 skole begroot, waarvan net 16 afgehandel is.  265 Skole moet sanitêre fasiliteite kry, 30 het.  Van die 280 skole wat van watertoevoer voorsien moes word, is 29 gehelp.  Daar was 620 skole wat elektrisiteit moes kry en geen een is op die ou einde daarvan voorsien nie.

Skynbaar is niemand vir die wanprestasie verantwoordelik nie, want nêrens vind ek bewyse van mense wat vir hierdie volslae onbevoegdheid aanspreeklik gehou is nie.  As die swaard oor LUR Lesufi en sy kollegas se koppe hang, skreeu hulle “rassisme”, mobiliseer hulle die populiste en wanneer die skokgranate ontplof, keer hulle verlig na hulle lugversorgde kantore terug.

AfriForum se nuwejaarsvoorneme is om elke moontlike roete te volg om hierdie diewe van ons kinders se toekoms aanspreeklik te hou.  Help ons, sluit aan by AfriForum, en wys die rooi sinjaal vir die soustrein.