| |

Die Universiteit van die Vrystaat se MT Steyn-oomblik

  • Deur Chantelle du Preez en Bernard Pieters

 

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die afgelope naweek die standbeeld van Oudpres. Marthinus Theunis Steyn sonder omhaal soos diewe in die nag verwyder. Dié standbeeld was glo vir sommige mense aanstootlik en het hulle onwelkom laat voel.

Hierdie soort gebeure skyn ’n patroon te wees wat homself keer op keer herhaal.

Sonder om die meriete (of afwesigheid daarvan) van die argument te ondersoek, laat ons die situasie beoordeel deur verskeie tradisies – wat nes MT Steyn ook skielik onaanvaarbaar geword het – en ander voorvalle onder die loep te neem.

Jool

Jool was ’n jaarlikse tradisie van vlotbou deur mans- en dameskoshuise en ’n weeklange sosiale geleentheid waaraan alle studente kon deelneem. Die vlotte is met trekkers deur die hoofstraat van Bloemfontein gesleep, waartydens geld deur eerstejaars ingesamel is om liefdadigheidsprojekte te ondersteun. Dié tradisie is in 2018 afgeskaf en na Active Civic Teaching (ACT) verander, waartydens studente ’n omgewingsvriendelike voertuig of kaskar moet bou. Die sosiale geleenthede staan nou as Social Cohesion bekend – net nóg ’n manier waarop transformasie op studente afgedwing word.

Sêr

Kleinsêr het in 1996 by die UV begin. Armentum en Soetdoring sou in 2016 aan die finaal van die ATKV se sêrkompetisie deelgeneem het, maar die UV-SR, wat hoofsaaklik uit SASCO-lede bestaan het, het besluit het om dit te boikot. Die SR het ’n probleem met die ATKV gehad en dit as ’n vereniging beskou wat uit die apartheidsera ontstaan het en dus daardie waardes sou bevorder. Dit staan nou bekend as Singoff op Kovsies, waar studente teen mekaar meeding en nie meer teen ander universiteite nie.

Intervarsity tussen Kovsies en Pukke

Die jaarlikse tradisie van sportwedstryde tussen Kovsies en Pukke (die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus) het reeds in 1927 begin. Dit is egter in 2014 deur die UV-SR dit beëindig het. Sasco het in 2010 met protesoptogte begin omdat hulle dit as ’n tradisie van die verlede gesien het. Die universiteitsbestuur het hiermee saamgestem en dit as deel van ʼn versoenings-en-transformasieproses afgeskaf.

Koshuisname

Huis JBM Hertzog se naam is verander na Huis Beyers Naude nadat Rudi Buys, Studentedekaan in 2014, prof. Jonathan Jansen se opdrag uitgevoer het om dié koshuis ten volle te transformeer. Daar was nie vooraf met die koshuis vergader om dié verandering te bespreek nie en gedenkwaardighede is uit die koshuiskroeg en voorportaal verwyder. Die koshuisdrag en -tradisies is ook afgeskaf of verander.

Koshuistradisies

Huis JBM Hetzog se geel malpakke (soos dit bekend staan) is verander om by die nuwe koshuisnaam te pas. Huis Abraham Fischer (Vishuis) se tiekietradisie is ook afgeskaf nadat dit ook onder Rudi Buys en prof. Jansen se transformasie-beheptheid deurgeloop het. Armentum se Derby, soos meeste dit ken, is ook onlangs ná volgehoue druk en met ’n rasgedrewe agenda getransformeer.

Taalbeleid 

Die UV het besluit om Afrikaans as onderrigtaal uit te faseer om inklusiwiteit te bevorder. In 2017 het die Konstitusionele Hof hiermee saamgestem en UV toegelaat om Engels as die enigste onderrig taal te gebruik. Dié verandering in die taalbeleid het egter nie inklusiwiteit bevorder soos wat hulle gedink het dit gaan nie, maar verdere verdeeldheid tussen die meerderheid- en minderheidsgroepe tot gevolg gehad.

Rassekwotas

Die UV het besluit om rassekwotas in alle afdelings van die universiteit in te stel – personeel, by die fakulteit en met koshuisinnames. Dit behels dat 80% van koshuise deur swart studente bewoon moet word, terwyl 20% daarvan aan ander studente toegeken mag word. Koshuise moet deurlopend aan streng kwotaregulasies voldoen – dit geld ook vir die indeling van studente op koshuisgange en in kamers.

Hantering van wangedrag

Studente wat hulself aan onder meer wangedrag skuldig maak of gearresteer word omdat hulle ander studente aanrand of aan onwettige protesaksies deelneem, word selde deur die UV se dissiplinêre komitee gestraf. Wanneer dié studente gearresteer word, betaal die UV selfs hul borgtog – en dan gaan dinge weer aan soos normaal. Dubbele standaarde geld deurlopend vir studente wat moeilikheid maak; ook hiér word ras as maatstaf gebruik. Uit verskeie voorvalle oor die afgelope paar jaar is dit duidelik dat daar strenger (of slegs) teen wit studente opgetree word indien hulle oortree.

UFS 101-module en -ideologie

UFS101 is ʼn verpligte module wat elke student suksesvol moet voltooi ten einde hul graad te ontvang. Dié module het teenstand van ’n groot groep studente gekry – onder meer omdat dit ʼn bepaalde rasgedrewe en politiese ideologie bevorder, en die geskiedenis verdraai om hierby aan te pas. Studente wat hierteen beswaar aangeteken het se pleidooie het op dowe ore geval.

Boeke wat teenstrydig met die universiteitbestuur se ideologiese denke is, is in Desember 2017 uit die Sasol-biblioteek op kampus verwyder. Dit het talle Afrikaanse boeke en  geskiedkundige joernale ingesluit.

Hoewel talle foto’s hiervan op sosiale media versprei is, het die universiteit aangevoer dat dit wetenskaplike boeke is waarvan die inhoud verouderd of nie meer toepaslik is nie. Die boeke is gelukkig gered en aan belanghebbendes verkoop – anders sou dit moontlik op die ashoop beland het.

Dit is duidelik dat dubbele standaarde by die UV gehandhaaf word en dat vernietigende, verdelende rasgedrewe en politiese ideologie die norm geword het wat op alle studente afgedwing word. Dit is duidelik dat minderheidsgroepe uitgesluit en geïgnoreer word, en dat ras deurlopend as maatstaf gebruik word.

 

 

Soortgelyke plasings