Spyskaart +

Die Seunse Weenkoor se vals deuntjies

Februarie 17, 2017 deur Flip Buys

Dit lyk my daar is twee soorte mense: Die eerste groep kla oor die probleme in die land, en probeer dan iets daaraan doen. Maar die tweede groep kla net oor die mense wat iets aan daardie probleme probeer doen. Die doeners word beskuldig, eerder as om te help doen of om diegene aan te vat wat die probleme veroorsaak.

Genadiglik is die tweede groepie baie klein, en is gewoonlik voorsangers in die Seunse Weenkoor. Hierdie groepie se valse wysie is al lankal bekend en bestaan uit venynige “kommintaar” teen enigiets wat Solidariteit en AfriForum doen. As hulle nie kan fout vind met wat ons doen nie, vind hulle met ons self ’n fout.

Hiermee mik ek vanselfsprekend nie op joernaliste wat net hulle werk doen, soms krities teen ons is, en ewewigtig kommentaar lewer op ons projekte nie. My verwysing na die “Seunse Weenkoor” is gerig op ’n klein groepie joernaliste en kommentators wat deurentyd lostrek met klaagliedere en samesweringsteorieë as ons net ’n vinger verroer. Hulle huiwer meestal ook nie om blatant te lieg en ons woorde te verdraai nie, selfs met aanhalingstekens en al. Fopnuus opgedien as waarheid, met foto’s en al. Die gemeenskaplike faktor in hierdie groep is dat hulle óór ons praat, maar nie mét ons nie. Hul inligting en afleidings word dus grootliks versin. Dis die hoofrede vir hulle onsin.

So het ’n Afrikaanse joernalis ’n week gelede in Beeld geskryf dat ons Beweging alternatiewe staatsinstellings skep waarmee ons die legitimiteit van die staat (sinister) wil ondermyn. Een van sy kollegas kan skynbaar byna nie in die nag slaap nie, omdat ons “net soos die Amerikaanse regses” skepties oor die staat is. Tweedens word beweer dat ons met agterdog bejeën word omdat ons nie vir die belange van almal in die land werk nie. Die onderliggende betekenis is dat ons nou kamstig vreeslik regs is en ’n onheilige plan het om die staat soort van te vervang.

Nou kom ek behandel gou hierdie twee beskuldigings.

Staat se legitimiteit

Laat ek dit sommer reguit stel: Die staat ondermyn sy eie legitimiteit deur die vrot en korrupte praktyke wat al so kenmerkend van die ANC regering geword het. En joernaliste wat verskonings hiervoor uitdink en óns daarvan beskuldig, is aandadig aan hierdie staatsondermyning. Ons het geen begeerte om die staat te ondermyn of enigiets hoegenaamd in daardie rigting nie. Die demografiese werklikhede maak die “oorvat” van die staat deur alternatiewe strukture, soos wat die ANC probeer het, loutere onsin. Dis buitendien onmoontlik om staatsfunksies te vervul sonder staatsinkomste, staatstrukture of staatsmag soos om wette te maak. Daarom is ons gemeenskapstrukture daarop gerig om te help keer dat die vervallende staat op mense se koppe inmekaartuimel, nie om die staat te probeer vervang nie. Natuurlik werk ons ook kliphard aan volhoubare oplossings, waar demografiese werklikhede bepalend vir langtermynbeplanning is. Die demografie is die rivier waarin die geskiedenis vloei, en die groeiende konsentrasie van Afrikaners in stede, streeksdorpe en nuwe dorpe gaan die spilpunt van ons langtermynbeplanning vorm.

Ons het al hoeveel keer gesê die hede gaan nie weggaan nie, die verlede kan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie. Wat moet ons nou eintlik doen as ’n dorp se water vrot? Moet ons dit eerder los dat wit en swart gelyk cholera kry, as wat ons die stadsraad “ondermyn” deur dit reg te maak? En as AfriForum die water regmaak of slaggate herstel; kry net die wit mense dan skoon water? O, en ek het ook nog nooit ’n “wit” slaggat gesien nie. Dit lyk vir my of ons in verskillende wêrelde woon omdat ons met verskillende werklikhede werk, of omdat ons met werklikhede en hierdie joernaliste met hul wense werk.

Privaat sektor

Ek glo sterk aan ’n werkende staat, ’n lewendige privaat sektor en ’n betrokke burgery. Ek – ja, ek – pleit skuldig dat ek dink dat baie staatsdienste swak is en dat die meeste mense sover moontlik privaat dienste verkies. Daarmee het ek net dank en waardering vir die duisende staatsamptenare wat harde en goeie werk doen, en wil ek hoegenaamd nie die staat “beveg” nie. Kom ek noem ’n paar voorbeelde, dat julle nou kan sien hoe vreeslik “ondermynend” ons is. Hierdie is natuurlik vereenvoudig en veralgemeen om dit kort te hou:

  • Ek verkies werk in die privaat sektor, eerder as in die staatsdiens;
  • Ek dink privaat hospitale is beter as staatshospitale;
  • Privaat televisie is verkieslik bo die staat se SAUK;
  • Privaat sekuriteit en buurtwagte keer dat misdaad nie nóg ernstiger word nie;
  • Ek dink dat die gemiddelde privaat skool beter is as die meeste townshipskole;
  • Privaat dorpe is veiliger met beter dienste as dorpe onder ANC-bestuur;
  • Ek hou nie daarvan om na die staat se lisensiekantore toe te gaan nie, omdat ek nie tyd het vir ’n urelange toustaan nie;
  • Ek haat dit ook om na ’n staatskantoor toe te bel, omdat ek gewoonlik nie diens kry nie;
  • In kort glo ek dat die vryemark stelsel beter as die staatsdiens werk, en dat sosialisme ’n verdrukkende en onwerkbare stelsel is. Hieraan pleit ek “skuldig”.

Terselfdertyd is ek daarvan oortuig dat die Seunse Weenkoor self ook veel eerder van privaat dienste as staatsdienste gebruik maak. Maar as ons dit doen, is dit kamstig “ondermynend”! Hierdie joernalistieke fopnuusmakers “vervaardig” hulle eie nuus en wil nie die ware nuus rapporteer nie. Hulle eie menings neem die plek van feite, en daarom dink hulle nie dis nodig om eers met ons te praat om die feite te kry nie.

Gemeenskap

Klaagliedere twee van die beswaardes is dat ons gemeenskapsgerig is. Hieraan pleit ek ook skuldig. Ons streef nie na persoonlike selfstandigheid wat net by duur, privaat diensverskaffers gekoop word nie. Almal kan dit nie bekostig nie. Ons werk eerder vir gemeenskapselfstandigheid as vir staatsafhanklikheid. Baie van ons werk is ten bate van alle Suid-Afrikaners. Maar wat op aarde is fout daarmee as ons ook Afrikaans bevorder, of iets vir Afrikaners doen? Afrikaanse koerante is dan self gerig op die Afrikaanse mark, kerke op ’n bepaalde geloofsgemeenskap, politieke partye op kiesers wat hulle beleid steun, Cosatu op die swart werkersklas, ’n sakekamer op sakelui, ’n skool op kinders en ’n tronk op skelms.

Of is die eintlike beswaar dalk dat ons byvoorbeeld Afrikaanse instellings soos kolleges het? Dit sal vreemd wees, want as raswette bv. wit kinders uit staats- en maatskappykolleges stoot, mag ons dan nie kolleges oprig om seker te maak dat hulle ook by opleiding íngesluit word nie? Moet wit kinders dan eerder die staatskolleges met klippe bestook? Het wit kinders dan nie ook ’n reg op opleiding, ’n goeie werk en ’n mooi toekoms nie? Buitendien is ons instellings oop vir almal wat in Afrikaans wil studeer, en diskrimineer ons nie onbillik op grond van ras soos die ANC en hierdie joernaliste nie.

Dit mag wees dat daar steeds mense is wat ons nie vertrou nie of agterdogtig is. Ek vertrou self nie almal in die land nie, en kan nie verwag dat almal ons moet vertrou nie. Maar ons Beweging se suksesrekord is genoeg bewys van wie en wat ons is; ons doen wat ons moet, en nie om onsself te “bewys” nie. Dis ook moontlik dat ondersteuners van ’n Afrikanistiese sosialistiese party mag voel dat ons hulle ondemokratiese rasseprojek probeer dwarsboom. Dit sal egter ’n onderskatting van ons doelwitte wees, omdat dit ’n beperkte vertolking van ons planne is. Ons werk veel eerder vir ’n toekoms waarin almal – ook Afrikaanssprekendes én Afrikaners – vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan. Ons vra niemand se toestemming of goedkeuring hiervoor nie – dis ons reg en ons plig. Grondwetlike regte geld mos vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes ook. Ons is vrye burgers, en nie net gehoorsame onderdane nie. Demokrasie sonder kulturele vryheid is boonop net demokrasie vir die demografiese meerderheid, en dus ondemokraties. My gevolgtrekking is dat hierdie Afrikaanse joernaliste se eintlike probleem nie is wat ons doen nie, maar wié ons is. Hulle haat ons identiteit, eerder as ons beleid. Hulle moet maar werk aan daardie hanglippies, want ons is trotse Afrikane, Suid-Afrikaners, Afrikaners én Afrikaanssprekendes!