Spyskaart +

Die plek van Afrikaans op Suid-Afrikaanse kampusse

Februarie 13, 2017 deur afriministrator

Deur: Prof. Anne-Marie Beukes

Die plek van Afrikaans op Suid-Afrikaanse kampusse

Die argument wat gevoer kan word vir die behoud, beskerming en vertroeteling van Afrikaans is sekerlik nasionaal eerder as seksioneel. Dit is ’n Suid-Afrikaanse taal wat, volgens alle standaarde, merkwaardig presteer het in terme van ontwikkeling as ’n taal van wetenskaplike, akademiese en algemeen intellektuele uitdrukking.

Nelson Mandela, 15 Mei 1996, Kaapstad

Die afgelope twee jaar was, om die minste gesê, ’n besonder stormagtige tydperk op universiteitskampusse weens die volgehoue druk op Afrikaans. Die jaar 2016 sal stellig bekend word as ’n waterskeidingsrif in die lewe van die Afrikaanse taalgemeenskap met dié dat Afrikaans as onderrigtaal op histories Afrikaanse kampusse soos Kovsies en Tukkies geëlimineer is. En soos sake tans staan met die jongste weergawe van Stellenbosch Universiteit se taalbeleid en die Bestuur se siening dat “Engels wyer toegang bied vir ’n groter groep studente”, is die moontlikheid goed dat Afrikaans as onderrigtaal binne die afsienbare tyd ook op die Matie-kampus gaan verdwyn.

Afrikaans beleef hiermee ’n ernstige domeininkrimping waarvan die impak ook op skoolonderwys beduidende gevolge gaan hê. Die grootste kwelling in hierdie verband is hoe dit Afrikaanse ouers se voortgesette keuses sal beïnvloed wat hul kinders se onderrigtaal betref. Tans is daar nog sowat driekwartmiljoen Afrikaanse leerders in openbare Afrikaanse skole (Giliomee 2016), maar met hierdie domeininkrimping is daar toenemend min aansporing vir Afrikaanse ouers om steeds hulle kinders na Afrikaansmediumskole te bly stuur, veral op sekondêre vlak. ’n Verdere domino-effek is die negatiewe uitwerking wat dit stellig in die toekoms op die vraag na en die opleiding van Afrikaansonderwysers kan hê. Hierdie domeinverliese word oënskynlik gelate deur veral jong Afrikaanssprekendes aanvaar as mens die taalvoorkeure kan glo wat Matiestudente in ’n 2016-opname deur die Universiteit Stellenbosch aangedui het. Die universiteit voer aan dat 60% van die Maties Afrikaanssprekend is, maar dat twee-derdes aangedui het dat hulle Engels as onderrigtaal verkies.     Slegs 56% van die Afrikaanse studente het Afrikaans gekies.

In ’n onlangse artikel van Christo van der Rheede op Netwerk24, Jonges moet voet neersit oor Afrikaans by universiteite, beroep hy hom op Afrikaanse jongmense oor alle grense heen om ’n leidende rol te speel in die taalgemeenskap se onderhandelinge met universiteite ten einde Afrikaans as onderrigtaal te behou: “Hoe gouer hulle leer dat in ’n jong demokrasie soos ons s’n niks vanselfsprekend is nie en dat die realisering van die ideale en waardes vervat in ons Grondwet harde werk, hoë vlakke van skeppendheid en onafhanklike denke vereis, des te beter.”

Hier stuur Van der Rheede die gesprek oor Afrikaans in ’n belangrike rigting, naamlik die konsep van aktiewe taalburgerskap. Die Suid-Afrikaanse taalbeplanningskonteks van die afgelope twee dekades het vanuit ’n liberale taalregteparadigma die konsep van aktiewe taalburgerskap kennelik verwaarloos. Dit is nou helaas duidelik dat die klem op taalregte in die praktyk nié taalgelykheid in die hand gewerk het nie: die marginalisering van minderheidstale duur immers ongebreideld voort en die komplekse aard van taalkontinuums – soos dit die geval is in Afrikaans met byvoorbeeld Kaapse Afrikaans – word nie verreken nie.

In die diverse taalekologie van Suid-Afrika is dit belangrik dat ons taalbeplanning en -beleid van die vertrekpunt uitgaan dat die taalsosiologiese en taalpolitieke deelname van taalbelanghebbendes gebiedend noodsaaklik is. Die uitleef van taalburgerskap dui sosiale lidmaatskap aan (om te “behoort”), maar bevestig ook individuele teenoor groepsidentiteite en die toe-eiening  van “agentskap” (om te “doen”). Die bevordering van die gebruik en ontwikkeling van jou taal  is ’n funksie van die aktiewe uitleef van taalburgerskap en die aangewese weg om ’n inklusiewe toekoms te help bou waarin taalgemeenskappe se ideale en waardes lééfruimte kry. In die eietydse omstandighede van dekolonialisering en bewegings soos Open Stellenbosch en #AfrikaansMustFall, asook binne die klimaat waarin universiteitsbesture gerig is op sogenaamde eentalige doeltreffendheid, is dit van deurslaggewende belang dat ’n groter bewustheid oor die noodsaak van ’n inklusiewe en akkommoderende benadering tot taaldiversteit ontstaan.

Die ideologie van Engels as enigste lingua academica vanweë sy internasionale status en die wanopvatting dat “alle Suid-Afrikaners mos Engels verstaan” word deur die uitleef van aktiewe taalburgerskap uitgedaag. Ek sluit by Van der Rheede se pleidooi aan dat die Afrikaanse taalgemeenskap hom in 2017 “ten doel stel om met van ons openbare universiteite waar Afrikaans nog sterk staan, te onderhandel oor die behoud van Afrikaans as onderrigtaal”.

Afrikaanse studente kan deur aktiewe taalburgerskap mobiliseer en só indringend in gesprek tree met universiteitsbesture wat hul taalbeleide verdedig met “Engels bied wyer toegang vir ’n groter groep studente”.  Jongmense moet dringend hulle behoeftes as taalburgers van die Afrikaanse taalgemeenskap aan bod stel. Só word magsverhoudings wat lei tot eentalige taalpraktyke ontbloot; só kom hegemoniese taalbeskouings onder die vergrootglas sodat die plek en rol van taalminderhede en -variëteite prominensie kry; só word die marginalisering van taalgemeenskappe aan die hand van disfunksionele taalpolitiek uitgedaag as ’n funksie van aktiewe taalburgerskap.

Het die tyd nie aangebreek dat die Afrikaanse taalgemeenkap hand in eie boesem steek en vra of ons ons nie reeds deur gelate stilswye ”ontburger” het nie (Ramanathan 2013)? Moet ons nie onsself die vraag afvra of ons deur ’n proses van ontburgering ontoereikende teenstand gebied het teen die domeininkrimping van Afrikaans op ons kampusse nie?

Of bevind ons as Afrikaanse taalgemeenskap ons nou ”tussen ruimtes”, naamlik tussen aktiewe taalburgerskap en nietaalburgerskap?

 

Bronne

Giliomee, H. 2016. ‘n Afrikaanse toekomsvisie. Rede by SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Jaarvergadering, Stellenbosch.

Ramanathan, V. (red.) 2013. Language Policies and (Dis)Citizenship: Rights, Access, Pedagogies.

Van der Rheede, C. 2017. Jonges moet voet neersit oor Afrikaans by universiteite. Netwerk24, 5 Januarie.

Anne-Marie Beukes CV  – Klik hier vir ʼn verkorte CV van prof. Anne-Marie Beukes