--> -->
Spyskaart +

Die NGV het nog nie gebeur nie. Skep dus moed en staan saam!

September 3, 2018 deur Admin

“Ek of iemand wat ek ken was al ’n slagoffer van swak behandeling in ’n staatshospitaal” en “Ek is teen die voorgestelde NGV gekant en stuur hierdie brief aan die parlement”.

Só lui duisende boodskappe wat vriende en lede van AfriForum deur www.jougesondheid.co.za ingestuur het om kapsie teen die voorgestelde Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te maak. Dit is goeie nuus te midde van die slegte nuus oor die NGV.

Die slegte nuus

Kom ons kyk eerstens na die slegte nuus. Hoewel die NGV bloot deel is van die ANC se groter sosialistiese meesterplan wat als wil verdeel eerder as om die koek te vergroot en meer mense die middelklas te laat bereik en self vir mediese sorg van gehalte te laat betaal, is die NGV ’n wesensbedreiging vir die bestaande middelklas en die ekonomie as geheel. Dit poog om dokters en ander mediese praktisyns se fooie vas te stel sodat die publiek – maar eintlik die staat as die uiteindelike enkelaankoper – kwansuis minder sal betaal. Dit wil mense dwing om, bo en behalwe vir hul private mediese fonds, ’n onbekende bedrag in die toekoms aan die staat te betaal om hierdie gulsige monster te voed.

En dit is uiteraard ’n ope vraag wat dit gaan kos en wat dit aan wie gaan bied. Min ekstra belasting gaan onmoontlik nie die omvattende dienste kan finansier waarop die NGV en die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, aanspraak maak nie. Dit kan dalk met ’n nominale fooi per maand afskop, maar dit sal waarskynlik gou verhoog moet word soos wat die NGV nie die vereiste resultate oplewer nie (wat natuurlik ook hoogs waarskynlik is).

Die wet van onbedoelde gevolge geld beslis ten aansien van die NGV omdat vrye mense nie die knie voor staatlike dwang wil of gaan buig nie.

Eerstens is daar die dokters en ander mediese werkers. Die staat dink die dokters gaan agteroor sit en bloot aan hul bevele gehoor gee asof dit hul enigste opsie is. Dokters verlaat Suid-Afrika al baie jare lank in groot getalle en hierdie tendens gaan beslis versnel indien die NGV wel ten volle in werking gestel word. ’n Studie in 2016 deur Econex namens die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika het getoon tot 17% van nuut gekwalifiseerde dokters emigreer. Tot 80% van dokters wil nie vir die staat werk nie weens haglike werkomstandighede.

Pas uitgereikte navorsing deur die vakbond Solidariteit is ook insiggewend in hierdie verband. Dit wys dat sowat 83,2% van gesondheidsorgwerkers meen dat private mediese beroepslui die land sal verlaat indien die NGV ’n realiteit word. Minder as 40% van die respondente in die studie voel hulle het genoegsame kennis van die NGV en meer as 70% het aangedui dat daar gebrekkige raadpleging van staatskant af met hulle hieroor was.

Alles in ag genome, gaan heelwat dokters (wat die diensverskaffing-lewensbloed van hierdie stelsel is) wel emigreer indien hul fooie vasgestel word en die vrye mark sodoende ondergrawe word. Dis net logies, maar tog kan (of waarskynlik wil) die regering dit nie in hul kortsigtigheid insien nie.

Tweedens kan dieselfde gesê word van belastingbetalers – wat die ander noodsaaklike komponent van die NGV en eintlik van enige regeringsprogram is. ’n Ekonomie is slegs so sterk soos die bydraes wat dit inkry, en sonder middelklas-belastingbetalers en die private sektor is Suid-Afrika bloot net nog ’n mislukte Afrikastaat. Soos The Economist ’n ruk gelede prontuit aangevoer het: Suid-Afrika en Nigerië as Afrika se twee grootste ekonomieë het elkeen ’n achilleshiel; in Nigerië se geval is dit olie en in Suid-Afrika se geval sy wit belastingbetalers.

Hoewel die NGV nie dadelik wegdoen met private mediese fondse en private hospitale nie, gaan die druk op belastingbetalers uiteindelik daartoe lei dat hulle sal moet kies, en soos ons weet is die NGV verpligtend. Die keuse gaan dus ’n gedwonge een wees – veral as die koste vir die NGV skerp begin styg, soos dit noodwendig gaan. Dis onmoontlik dat sowat 5 miljoen belastingbetalers – wat reeds onder geweldige druk is – 50 miljoen ander mense se gesondheidsbehoeftes kan onderhou.

Die goeie nuus  

Soos met die onteieningaangeleentheid help dit dus nie om onsself onkundig en oningelig oor die NGV te hou nie of om te maak of dit nie wesenlike bedreigings inhou nie. Die feite jok nie en ons moet daarvan kennis neem.

Hierdie realisme moet ons egter dan noop om tot aksie oor te gaan en te doen wat ons kan om toe te sien dat die NGV afgeweer word en die regte remedies vir die erbarmlike toestand van openbare gesondheidsorg ’n realiteit word. Die goeie nuus is dat die NGV nog nie ’n werklikheid is nie. Trouens, die hele stelsel is ook agter skedule soos wat die praktiese werklikhede die ANC se ideologie kniehalter. Die onus is dus nou op al die verskillende rolspelers om die realiteit te beïnvloed en te bepaal.

AfriForum as die grootste burgerregte-organisasie in die land het reeds ’n massiewe veldtog hierteen geloods en ons is in gesprek met rolspelers in die mediese bedryf om oor ’n breë front teen die NGV slag te bied. Die steun van die publiek is verstommend. Die regering kan onmoontlik nie deurdruk met hierdie plan as ons almal saamstaan en dit verwerp nie. E-tol is ’n sprekende en suksesvolle voorbeeld hiervan. Ons was doodbang daarvoor en toe val dit als skouspelagtig plat. Weerstand werk en hierdie geveg is ver van verby. Trouens, dit het nou eers begin!

Voeg daarom jou stem by ons veldtog deur www.jougesondheid.co.za te besoek. Maar dis nie al nie: Kry almal wat jy ken betrokke, skryf ’n brief aan jou koerant of neem standpunt in op watter manier jy ook al kan. Saam kan ons keer dat die NGV ons en ons geliefdes siek maak.

 

  • Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by Afriforum