Spyskaart +

Die linkses se ideologie opgesom in 12 O’s

Julie 22, 2015 deur Flip Buys

 

Die linkse beweging in die wêreld het ʼn stel eenvormige beginsels wat met klein klemverskille orals toegepas word. Hierdie beginsels is vir hulle belangriker as die werklikheid. Hulle wil gevolglik nie hulle beginsels by die werklikheid aanpas nie, maar probeer die werklikheid in hulle ideologiese dwangbuis inpers. Dit verklaar hoekom linkses oor en oor dieselfde foute maak. Hulle ideologiese afgod kan tog onmoontlik ʼn valse god wees; die werklikheid is veel eerder verkeerd en moet daarom getransformeer word om by hulle ideologie in te pas.

Vir sosialiste is Marx die messias; Lenin is Paulus; Das Kapital is die Bybel; die uiteindelike sosialistiese werkersparadys is die hemel; demokrasie is die eerste stap na sosialistiese saligheid; kapitaliste is die duiwel; die ongelykheid wat privaat besit meebring, is die sonde; die party is die kerk; partyamptenare is die priesterorde; andersdenkendes is die ketters; die konsentrasiekamp is die hel; en die klassestryd verteenwoordig die stryd tussen goed en kwaad. Die belangrikste kenmerk van sosialisme is dat dit ’n aggressiewe ideologie is waar teenstand tot ’n “heilige” oorlog kan lei en waar die utopiese einddoel die uiterste metodes regverdig.
Die linkses se 12 O’s is die volgende:

1. Ongelykheid
Ongelykheid is die kernprobleem vir linkses, nie armoede nie. Sosialisme is in wese ʼn gelykheidsideologie. Vir hulle is gelykheid nie om almal gelyk te behandel nie, maar om almal en alles gelyk te maak. Dit is dus eerder ʼn gelykmakingsideologie waarmee hulle almal wil dwing om gelyk by die wenpaal uit te kom in plaas van om aan almal ʼn gelyke wegspring te gee.

2. Onreg
Net soos Marx, sien sy dissipels vandag nog enige vorm van ongelykheid outomaties as ʼn onreg. As iemand minder het, is dit nie omdat hy swakker kwalifikasies of ‘n laer pos het of iets wat sy skuld is nie. Ongelykheid word altyd gelykgestel aan ʼn onreg – dis iemand anders se skuld. Daarom is sosialisme in wese blaampolitiek.

3. Opstand
Die linkses se resep vir die oplossing vir ongelykheid is gevolglik nie ʼn beter pos, nog ʼn kwalifikasie of jou eie besigheid nie, dis opstand! Die geskiedenis word gesien as ʼn klassestryd waar die “werkersklas” die hoër klas met geweld moet onderwerp en dan verdruk in ʼn “diktatuur van die proletariaat”.

4. Opposisie
Marx was nooit aan bewind nie en sy ideologie is in wese net ʼn “opposisie-ideologie” wat nie ontwerp is om te regeer nie. Daarom het die sosialiste nog altyd misluk as hulle probeer regeer het. Dis ʼn “goeie” ideologie om die bewind mee oor te neem, maar dis ʼn rampspoedige ideologie om mee te regeer. Sosialiste is gewoonlik goeie politici maar swak regeerders. Marx en sy dissipels het bitter min gedink en geskryf oor hoe die sosialisme nou eintlik behoort te werk. Daarom het sosialiste net nie die intellektuele ideologiese sagteware om te regeer nie. Die vereistes vir ’n suksesvolle oorname van ’n land bots ongelukkig reëlreg met die vereistes om die land suksesvol te regeer.

5. Omverwerp
Linkses wil nie die werklikheid verbeter nie, hulle wil dit omverwerp om ʼn totaal nuwe werklikheid te skep. Die ANC se mislukking is in ʼn groot mate hieraan te wyte. Hulle het alles afgetakel, van die staatsdiens, skole, dorpe en stede tot die polisie, universiteite, tegniese opleiding, plekname en landstale.  Hulle kry dit egter nie weer opgebou nie.  Die metode wat vir hierdie aftakeling gebruik word, is “transformasie”, en ten spyte van die bewese mislukkings word dieselfde resep net oor en oor herhaal.

6. Ontkenning
Daar word nie verantwoordelikheid vir foute geneem nie; dit word ontken en iemand anders word daarvoor geblameer. Dis óf die kapitaliste se skuld óf die kolonialiste, óf apartheid óf Jan van Riebeeck! Dis nie: “Wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen?” nie. Dis: “Wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen?”!

7. Oorheers en onderdruk
Die “bevryders” word vinnig die regeerders en later die “oorheersers”. Die politieke mag word eers betreklik demokraties bekom. Daarna word dit gaandeweg al meer outokraties aangewend om die regbank, die media, die opposisie, sakelui en minderhede te onderdruk. Die rede is eenvoudig omdat die ideologie so radikaal is dat onderdrukking nodig is om dit in werking te stel. Niemand doen byvoorbeeld vrywillig afstand van sy eiendomsreg om dit te “herverdeel” nie. Dis nie ʼn christelike mededeelsaamheid van ʼn vrywillige “myne is joune” nie. Die sosialistiese herverdeling is ʼn gedwonge “joune is myne”-ideologie.  Dít is nie gee nie dit is vat. Mense se swaarverdiende besittings word gevat met wette of geweld. Daarom eindig sosialisme altyd in armoede en onderdrukking van die burgers en werkers. Die “dienaars” word die heersers, want die ekonomie kan nie voldoen aan die beloftes wat die politiek maak nie.

8. Oorskat en oorlaai
Sosialiste sien die staat as die land se lokomotief, nie die besighede nie. Anders gestel: die staat is die broodwinner en nie net die huishoudster nie. Die beloftes van sosialiste ken nie perke nie. Hulle dink mense moet “stem vir ʼn lewe” en hulle wil nie hoor van “werk vir ʼn lewe” nie. Die oorskatting van die staat se rol en vermoë om die regering se doelwitte uit te voer is kenmerkend van alle sosialistiese state. Die oorbelading van die staat lei gewoonlik tot die verval van die staat, omdat hy nie die vrag kan hanteer nie. Daarom is daar altyd ʼn gaping tussen wat die regering wíl doen en wat die staat kán doen.

9. Onderhou en onderskat
Hulle onderskat die oorsaak en omvang van die land se probleme. Omdat hulle die oorsake van armoede vereenvoudig tot net “onderdrukking” deur die vorige orde, werk hulle vereenvoudigde “oplossings” van die omkeer van die orde ook nie. Tweedens onderskat hulle die wil en vermoë van mense om hulle eie heil uit te werk. Sosialiste sien hul stemmers nie as aktiewe “burgers” nie, maar as passiewe, politieke passasiers aan wie die staat “dienste” moet lewer. Die slagspreuk is dus nie “goeie regering” nie, maar “dienslewering”. Hierdie politieke hongerdieet maak mense nooit versadig nie en hulle wil al meer dienste verniet hê en al minder daarvoor doen. Hulle sit en wag dat die staat alles vir hulle moet gee – werk, huise, toelaes, BEE-aandele en ʼn “beter lewe vir almal”. Daarom verwag die linkses dat hulle die bevolking moet onderhou, en omdat dit verbruik aanmoedig en produksie ontmoedig, eindig dit altyd in armoede en onderdrukking van die produktiewe deel van die bevolking.

10. Ophef in plaas van ontwikkel
Linkses wil ongelykheid met kitsresepte soos welsyn en herverdeling “oplos”. Volhoubare oplossings soos die verbetering van die skoolstelsel, ekonomiese groei en die ontwikkeling van die land klink vir hulle na te veel werk oor ʼn te lang tyd. Wanneer hierdie kitsoplossings soos opheffing en werkskepping noodwendig misluk, word die sakelui of minderheidsgroepe geblameer. Hulle wil nie aanvaar dat werkskepping die gevolg is van ekonomiese groei gedryf deur goeie regering en deeglike opleiding nie. Daarom is sosialisme in wese ontmagtigend, want mense word nie toegerus om vir hulself te sorg nie. Dis iemand anders se skuld dat hulle ongelyk is en dis daarom iemand anders se verantwoordelikheid om hulle op te hef. Hulle word immers wysgemaak dat hulle nie ʼn aandeel het aan hulle probleme of die oplossing daarvan nie.

11. Onderverdeel
Die linkse resep is altyd om die koek te onderverdeel of herverdeel in plaas daarvan om die koek groter te maak. Die uiteinde is dat al meer mense later meeding om ʼn al kleiner koek en dat daar soms net krummels oorbly om oor te veg. Die slagspreuk is “eerder bloei as groei”.

12. Ondergang
Hel op aarde word veroorsaak deur sosialistiese ideoloë se projek om “hemel op aarde” te skep. Dit het orals waar dit probeer is uitgeloop op armoede en onderdrukking. Die ideologie kan nie werk nie, omdat dit verbruik aanmoedig en produksie ontmoedig. Sosialisme is altyd gewild in lande waar dit nie kan werk nie en onnodig in lande waar dit wel kan werk.