Spyskaart +

Die Khoisan se teenwoordigheid op kampusse

Februarie 23, 2017 deur Annelise

Ek lees onlangs in ons plaaslike gemeenskapskoerant iets wat my eers baie trots laat voel het,  maar naderhand taamlik ontstel het. Naas haar mooi kleurfoto vertel die berig van ’n bruin matrikukant wat sewe onderskeidings gekry het, maar besluit het om nie verder te studeer nie want sy wil nie eendag met studieskuld sit nie. Sy wil eerder haar werklose pa help om ’n besigheid aan die gang te kry. Hoe op aarde kan so ’n skrander jong volwassene tegelyk so dom wees? Sy is waarskynlik op pad om een van die onaanvaarbaar groot aantal jongmense wat werkloos tuis sit te word. Dit verbaas my skielik toe nie meer dat bruin studente landswyd net 6% van die tersiêre studentegroep verteenwoordig nie.

’n Mens probeer sin maak van statistieke wat onteenseglik aantoon dat bruin jongmense die skraalste kans op ’n rooskleurige toekoms het. Meer kommerwekkend is dat hulle die grootste Afrikaanse groep verteenwoordig en sommige in townships woon waar kroniese armoede die norm is. Volgens Statistieke Suid-Afrika se syfers vir 2016 is daar 7,5 miljoen Afrikaanstalige mense van wie 3,5 m. bruin, 2,7 m. wit, bykans 700 000 swart en meer as 50 000 Indiërs is. Dus is daar nie ’n gebrek aan bruin studente wat deel van ons kampusbevolking kan word nie. As ons verder in berekening bring dat ’n beduidende aantal bruin studente voor die voltooiing van ’n kwalifikasie uitsak (34% – die hoogste persentasie uit ’n relatief klein groep studerendes), gaan die rooi ligte aan. Hoe kan ons hierdie tendens omkeer?

Die laerskool waar my vrou skoolhou, het 15 jaar gelede as ’n volledig Afrikaanse skool begin. Ons ken al die storie: later is, danksy die druk vanaf ouers, al meer parallel-medium klasse aangebied, maar deesdae is daar slegs een Afrikaanse klassie. Die skool, soos vele op die Kaapse Vlakte, het mettertyd verengels. Die ouers self is natuurlik Afrikaanssprekend en deel van die mooi statistieke hierbo vermeld, maar praat geradbraakte Engels met hul arme kinders. Dis moeilik om te verstaan hoe Engels dit reggekry het om sy koloniale, imperialistiese baadjie uit te trek, want in ons ouer mense se kort geheue word slegs Afrikaans as die “taal van die onderdrukker” onthou. Maar miskien is daai glad nie meer ’n faktor nie. Kirby van der Merwe het destyds in ’n rubriek opgemerk dat die Engelspratery sommige van ons mense “ghrênd” laat voel. Daar steek iets van die waarheid in, want bruin verkoopspersone antwoord my deesdae byna elke keer slegs in Engels, terwyl hulle onder mekaar Afrikaans praat. Sekerlik kan Kirby se mening nie die volle antwoord wees nie?

Flip Smit skryf in Rapport Weekliks (15 Jan. 2017): “Skoolhoofde van bruin Afrikaanse hoërskole in die Wes-Kaap en Noord-Kaap wys daarop dat hul matrikulante met Afrikaans as huistaal baie moeilik suksesvol aan Engelse universiteite studeer.” Wat nooit verdiskonteer word nie, is die aantal studente van Khoisan-oorsprong. Die rede waarom dit belangrik is om te meet, is omdat die eerste inheemse mense al ’n baie lang pad met Afrikaans aankom. In die vroeë tagtigerjare het die Nederlandse historikus Robert Ross die besondere bydrae van die Kaapse Khoi, saam met Moesliemgeleerdes, tot die ontwikkeling van die taal in sy boek, Cape of Torments, vermeld. Hy maak die gevolgtrekking dat, omdat dit deur ’n proses van kreolisering gegaan het, dit geen uitsluitlik wit, Afrikanertaal kan wees nie. Christelik-nasionale onderwys het egter dwarsdeur die apartheidsera daarvoor gesorg dat dié trotse wete by Khoisanmense vervaag het. Dis eers onlangs, met die verskyning van Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans (2012), dat ons werklik met ’n “aha!”-gevoel bewus geword het van die feit dat Khoi-Afrikaans as praattaal reeds in die laat-1500’s ontstaan het – voor die koms van die Hollanders.

Sedert 1994, so asof die Khoisan ook uiteindelik vry was om te wees wat hulle eintlik is, is die groei van die bewussyn onder bruin mense aangaande hul kultuur, etniese wortels en oergeskiedenis fenomenaal. ’n Maklike pad was dit nie. Veral die sendelinge het vanaf 1799 ’n groot rol in die demonisering van Khoisan-godsdiens en -kultuur gespeel. Binne ’n pigmentokrasie het dit feitlik ’n gegewe geword om alle bande met die “onbeskaafde, barbaarse, heidense” inheemse mense te ontken. Persoonlik kan ek nie ons voorouers blameer dat hul etnisiteit en ware kultuur hul skaamdeel geword het nie

Tog, aldeur die koloniale, neokoloniale en postkoloniale tydgleuwe heen het een hoofgroep organisatories hul identiteit behou, nl. die Griekwa (my klem, omdat dit nie beteken dat ander, soos die Nama of Boesmans, nie hul gewoontes beoefen het nie, maar alleen dat dit nie op ’n georganiseerde wyse was nie). Omdat ek lid van die Griekwa Nasionale Konferensie se Raad van Hoofde is, weet ek vir ’n feit dat baie van ons eie trotse, Afrikaanssprekende Griekwa-jongmense verder studeer. Dog, op die registers van ons universiteite en tegniese kolleges sal ’n mens dit nie agterkom nie. Vir my is hul gedwonge onsigbaarheid ’n jammerte. Soos die verengelsing van kampusse toeneem, sal private instellings soos Akademia al meer hul hand moet uitsteek met beurse aan verdienstelike, arm bruin studente.

Tydens my termyn as lid van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (2004-2007), het ek al meer ’n waardering gekry vir die koppeling van kultuur en taal aan bepaalde gemeenskappe. Dit gaan dus om veel meer as net die aanbied van lesse in ’n geskikte taal. Wanneer Engels op sigself as die voorkeurtaal vir onderrig beskou word net omdat dit ’n wêreldtaal is, word die absolute belangrikheid van hul studente se kulturele verbintenis onderskat of selfs heeltemal misken. Ons praat dan van die aantasting van hul intrinsieke menswaardigheid en geborgenheid – die hartklop van die Grondwet.

In 2015 het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie landswyd verhore vir die Khoisan gereël. Ek het my beurt benut om o.m. klagtes teen die rektore van die Universiteit van die Vrystaat (toe prof. Jonathan Jansen nog daar was) en die US te lê oor hul instansies se taalbeleide. Niks het daarvan gekom nie. Die punt is: nie een van ons moet ooit in apatie verval nie, maar aanhou om te praat, te lees, te stry, te dig, te sing, te dramatiseer, te bid, te kletsrym, te debatteer, te preek, te dink, te skel, te skerts, te seën, te studeer, te mobiliseer en rekenskap te gee in die taal wat ons aan moedersknie geleer het.

Kliek hier vir ʼn verkorte weergawe van dr. Willa Boezak se CV:

Willa Boezak CV