Spyskaart +

Die internasionale waarde van Afrikaans

April 18, 2017 deur Annelise

Deur Karien Brits

“Laten we ons niet beperken tot het Angelsaksische kader, maar de veelheid aan visies en invalshoeken die door meertaligheid mogelijk worden gemaakt beschermen.” – Alisa van de Haar
(De oer-Nederlandse traditie van meertaligheid)

Dit voel of Afrikaans ’n opdraande stryd voer. Op alle vlakke is daar aanvalle op Afrikaans op ons kampusse (die bietjie wat oorgebly het). Dit is ’n stryd teen ideologie (Afrikaans verdeel, maar Engels verenig), politieke onwilligheid (Afrikaans en meertaligheid is te duur) en onkunde (Afrikaans is ’n hindernis op pad na internasionale sukses). Ek wil graag op informele wyse by hierdie drie punte stilstaan, maar veral by die opskrif, die internasionale waarde van Afrikaans, uitkom. (Dit is nie ’n formele akademiese betoog nie, maar ek sal tog ’n paar bronne aan die einde gee.)

 Insluiting deur Afrikaans

Afrikaans was eintlik maar nog altyd ’n politieke speelbal. Afrikaans word gebruik om Afrikaners te slaan oor hulle baasspelerigheid in die verlede. Party Afrikaanssprekendes het na Engels oorgeslaan uit politieke verset. Miskien voel hulle minder skuldig of en meer(der)waardig in Engels? Kom ons gooi hierdie taalbal verder: die ideologie dat ons verlossing in net een taal lê. Moet tog net nie Suid-Sotho, Afrikaans of Xhosa praat nie, want dan gaan jy mense uitsluit. In die geval van die nege Afrikatale sal dit lyk of jy van die platteland kom en onopgevoed is as jy nie Engels praat nie. Praat tog Engels, dit is die taal wat almal verstaan. Dit is die taal wat insluit.

Wie sluit ons werklik in? Ons sluit die nuwe elite in, die klein groepie bevoorregte kinders wat na die voormalige model C-skole of privaat skole kon gaan en blootstelling aan redelike goeie Engels kon kry. Ons sluit jongmense uit wat dalk die volgende Albert Einstein, Marie Curie of Max Planck kon wees en dit in ons strewe om almal in Engels in te sluit. Hoekom is ons so bang om mense in Afrikaans in te sluit?

 Die eintlike duur oplossing

Dit is alles goed en wel, sê jy. Kom ons gebruik dan al ons tale op kampusse en gun Afrikaans ook ’n plekkie in die akademiese son. Dit gaan net ontsettend duur wees. Kan jy net dink as ons alles in 10 ander tale moet vertaal en tolk?!

Suid-Afrika het seker een van die grootste begrotings vir onderwys, maar ons wys nie juis enige opbrengste op hierdie belegging nie. Dalk belê ons nie genoeg in taal in onderwys nie en gaan ons geld in die Engelse drein (en wanbesteding) af. As ons selfs net 5% van daardie begroting in slim meertaligheid belê, sal ons beter toegang tot tersiêre onderrig verseker en minder geld mors as daar ’n hoër deurvloeisyfer is. Dit is nie te duur om Afrikaans en meertaligheid te bevorder nie. Eentaligheid gaan ons wel nog duur te staan kom in ’n wêreld waar meertaligheid die norm is.

 Anglo-Saksiese slimmigheid

Kyk as jy nou iewers in die internasionale akademiese arena wil kom, moet jy maar in Engels werk. Engels is die internasionale publikasie- en kongrestaal. Jy gaan jou studente net terughou om om sentimentele redes in Afrikaans te studeer.

Is alle universiteite in die wêreld dan net Engelssprekend? Of ken ons net die Engels universiteite omdat ons in hierdie Anglo-Saksiese wêreldjie vasgevang is? Dit is tog nie te sê dat as jy in Afrikaans studeer dat dit jou terughou om ook in Engels (of Duits, Spaans, Pools, ens.) te werk nie. Jy bly nie noodwendig op ’n eiland net omdat jou verstektaal vir ondersoek en wetenskap Afrikaans is nie. Jy is op ’n eiland as jy die akademie net deur ’n Anglo-Saksiese of Afrikaanse lens bekyk.

My akademiese lewe het al ’n paar interessante internasionale draaie geloop. As student het ek vir ’n maand lank ’n Franse linguistiekkursus op die Franse eiland, Réunion, bygewoon en ek was ook vir ’n semester in Rostock, Duitsland waar ek in Duits studeer en deelgeneem het. Ek het ook so ’n paar jaar gelede (2006 tot 2010) by ’n Poolse universiteit (die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznań) klasgegee. Ek het daar Afrikaans, geskiedenis van Afrikaans, Suid-Afrikaanse Engels en kultuurstudies gegee. As jy tot hiertoe dink dat ek anti-Engels is, is jy verkeerd. Ek het self ook al in Engels gepubliseer, in Engels klasgegee en in Pole het ek ook akademiese Engels vir meestersgraadstudente gegee. Die departement Nederlandse en Suid-Afrikaanse studies is om die waarheid te sê deel van die fakulteit vir Engels (die grootste in Europa). Engels is mooi en nuttige taal, maar dit is nie die enigste taal nie.

Ek wil uit my wedervaringe die volgende stellings oor Afrikaans en die internasionale akademiese arena maak:

  • Ek het voorgraads en nagraads in Afrikaans as akademiese taal studeer, maar dit het my nie teruggehou om internasionaal te werk nie. Ek wil so ver gaan om te sê dat as ek net in Engels studeer het, het ek dit moontlik nie nodig geag om ook ander internasionale tale aan te leer nie.
  • Elke taal gee ’n ander blik op die wêreld en dit is tog waaroor tersiêre opleiding gaan – ’n breër blik op die wêreld en om lateraal te kan dink. Afrikaans is deel van daardie nodige “biodiversiteit” in die akademie.
  • Afrikaans is deel van die Germaanse taalfamilie. Dit beteken dat ek as Afrikaanssprekende toegang tot akademiese werke in die taalfamilie het.
  • Daar is tog waarde daarin om ook in Afrikaans te bly publiseer. ’n Poolse student wat haar meestersgraad in plantkunde gedoen het, het eendag by my vir hulp kom aanklop met ‘n Afrikaanse artikel oor haar onderwerp. Ek hoef nie alles vir haar te vertaal het nie, want sy kon genoeg aflei met die Latynse terminologie en haar Engelse en Duitse kennis.
  • Afrikaans is in elke Afrikaanssprekende akademikus se hande. (Dit is nie net in die gewraakte owerhede se hande nie.) Dit gaan nie net oor Afrikaans nie, maar ook oor die diepte van ons akademiese beoefening. Internasionale akademici is bekommerd oor die vervlakking in akademiese artikels omdat so baie akademici nie meer in hulle moedertale publiseer nie.
  • Om internasionaal ons bydrae te lewer moet ons plaaslik relevant bly, want dit is hoe die verskillende wêrelddele by mekaar leer. Ons gemeenskappe is nie net Engels nie, maar hulle is ook Afrikaans. Ons gaan nie ons gemeenskappe doeltreffend bereik as ons net in Engels werk nie.
  • Afrikaans as taal word internasionaal bestudeer. Dit sal ’n skande wees as dit nie meer ’n universiteitstaal in Suid-Afrika is nie.

Kom ons hou op om ons eie grootste vyand te wees en publiseer weer óók in Afrikaans. Afrikaans het ’n internasionale rol om te speel en dit sal nie die deure vir ons studente toemaak nie. Dit mag die deure dalk net na interessante wêrelddele oopmaak.

Lees ook hier verder (daar is eintlik te veel om te lys):

Afrikaans, Nederlands en Engels in Pole:

Afrikatale en universiteite:

Die waarde van meertaligheid:

Taalregte en moedertaalonderrig:

Die koste van meertaligheid:

Akademiese Engels en die toekoms van Engels:

Karien Brits is sedert Augustus 2013  bestuurder: taal by die ATKV waar sy verantwoordelik is vir die #MyTaal-veldtog (bevordering van moedertaalonderrig), taaldiens, taalbemarking en die meertaligheidsfokus. (Afrikaans-in-Sowetoprojek en Setswana- en isiZuluklasse en by die ATKV-hoofkantoor.) Sy is ook deeltydse lektor by die Universiteit van Johannesburg se Departement Linguistiek waar sy Language in Practice (honneursklasse) gee.

Kliek hieronder vir ʼn verkorte CV:

Karien Brits CV Afrikaans