Spyskaart +

Die hand aan die ploeg met Afrikaans!

Maart 5, 2018 deur Admin

Deur: Prof. Jacques van der Elst

Wat kerm jy oor die toekoms van Afrikaans, vra ’n vriend my nou die dag. Afrikaans word elke dag gebesig. Mense sing en dans in Afrikaans; hulle skryf in Afrikaans; hulle lees Afrikaanse koerante en hou nog stiltetyd met die Afrikaanse Bybel op hulle skote; Afrikaanse skole presteer. Daar is kykNET en VIA en RSG en Pretoria FM en talle Afrikaanse streekradio’s. Boere soek nog vrou in Afrikaans en die een nuwe Afrikaanse TV-reeks volg op die ander een. Met die Afrikaanse rolprentwese kan ’n mens amper nie byhou nie: die silwerdoekbedryf in Afrikaans floreer met bekronings in die buiteland. Wie is nie beïndruk nie met die Ghoema-aande, die Veertjietoekennings en die Fiëstas waar die room van die Afrikaanse kunstebedryf ten toon gestel word?

Die vriend is heeltemal reg, maar tegelykertyd stiksienig. Hy en baie ander besef nie dat daar veel meer op die spel is nie. Daar “buite” vertoon die prentjie naamlik anders. Die universiteite het teen ’n skrikwekkende tempo verengels. Die onlangse hofuitspraak ten gunste van ’n Engelstalige UV is ontstellend en ontmoedigend. Verder is daar die hoofregter se besluit dat die hof se taal van rekord Engels moet wees, die finansiële wêreld het teen ’n vinnige tempo verengels. By die poskantore, die banke en die staatsdepartemente is Engels die voertaal en as ’n mens daar op Afrikaans sou aandring, word jy gou beskou as ’n regse rakker wat nie verstaan dat Engels die lingua franca is nie en dat almal maar die taal moet besig van watter afkoms jy ook al is. Engels is die groot gelykmaker. As jy kan Engels praat, is jy IN – Afrikaans is UIT. Die oom en tannie (wit, swart en bruin) van die platteland moet maar bykom.

Origens hoe lyk daardie groot gelykmaker wat in Suid-Afrika Engels genoem word? As ek ’n toegewyde moedertaalspreker van Engels was, sou ek my doodskaam vir die slordige wyse waarop met my taal omgegaan word. ’n Mens wonder hoe klink die Engels van dosente wat hulle “storie” nou skielik in Engels moet vertel. Verstaan mooi, ons hoef as Suid-Afrikaners seker nie die koningin se Engels te praat nie, maar een ding is seker: hier te lande word met haar taal gemors.

Maar kommunikeer moet ons, al is dit dan in koeterwaalse Engels. Hoe nou gemaak? Ons wil nie die fout maak en Afrikaans op ander afdwing nie. Afrikaanssprekendes beskik origens ook nie oor daardie mag nie. Argumentsonthalwe, almal kan tog nie in ’n elftalige land verplig word om Afrikaans te praat nie. Maar wat waar is, is dat Afrikaans die derde grootste taal in die land is en ook die taal is wat die wydste verspreid oor die hele land gepraat en gehoor word – hier en daar ’n bietjie minder en op ander plekke meer. Dis ’n pluspunt vir Afrikaans en verder is daar die sambreel van die Grondwet wat gelyke regte aan al die amptelike tale gee.

Dat Afrikaans verguis word, is waar. Al te graag word Afrikaans se sogenaamde witmanstatus in die politieke debatte en op vyandige plakkate by betogings op kampusse en elders beklemtoon. Kwaadwillige politici wil dit net nie in hulle koppe kry nie dat ’n minderheid blankes Afrikaans praat teenoor ’n meerderheid moedertaalsprekers van Afrikaans van ’n ander kulturele afkoms wat net soos die ander onder apartheid gely het. Apartheid is selfs in en deur Afrikaans beveg. Dat die taal in die vorige bedeling wel bevoorreg is, is waar. Hoe maak jy egter ’n regstelling ten opsigte van daardie bevoorregting? Politici wil wraak neem en gooi die kind met die badwater weg. Die feit dat die nasionale belang van Suid-Afrika ook in en deur Afrikaans bevorder word, word gerieflik oor die hoof gesien.

Die gebeure by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging bevestig weer eens hoe skerp die verdeeldheid is. ’n Politieke gekonkel van die owerheid wat seker nog in die hof geopenbaar sal word, het die Overvaal-krisis vererger. Daar is sprake van afpersing om ’n doel te bereik. ’n Mag der menigte betogers word by die skool gemobiliseer om rommel te strooi en motorbande te brand. Waar kry die mense die tyd op ’n weeksdag? Is dit professionele betogers wat deur hulle heer en meesters – Malema, Lesufi en Cosatu – betaal word om gewelddadig op te tree, net duskant die barbaarse daad van plundering en brandstigting? Nog is het einde niet! Die kristalbal bied geen uitkoms?

Daar is ’n ou Nederlandse gesang waarvan die aanvangsreël lui: “Wat de toekomst brengen moge, mij geleidt des Heeren hand!” Dis waar dat ons op “des Heeren hand” moet vertrou. Dit neem egter nie weg nie dat baie Afrikaanse ouers en grootouers uiters besorgd is oor die taaltoekoms van hulle kinders en kleinkinders: Hulle wat gaan grootword in ’n omgewing waar standaardonderwys in Afrikaans op skole en op kampusse dalk ’n anomalie gaan wees.

Gaan ons stilsit of slaan ons die hand aan die ploeg? Gaan ons voort met die skepping van eie Afrikaanse instellings; ’n eie Afrikaanse universiteit; privaat Afrikaanse skole waar gehalte die wagwoord is. Die suksesverhale is reeds daar. Akademia, Solidariteit se eie universitêre instelling, woeker voort. Enigiemand wat in Afrikaans wil of kan studeer, is daar welkom. Moontlikhede by bestaande universiteite moet benut word. Tegelykertyd moet die bestaande pragtige Afrikaanse staatsondersteunde openbare skole gekoester word. Intensiewe ouerbetrokkenheid is daar belangrik. Die matriekuitslae vir 2017 het weer eens getoon watter voortreflike werk deur toegewyde Afrikaanse onderwysers verrig word. Afrikaanse skole bied trouens uitstekende studentepotensiaal vir ons universiteite wat moet keer vir “massaproduksie”  en opnuut moet dink oor die essensie van die universiteitswese wat slegs die room van die land se matrikulante behoort te akkommodeer.

Skep die nuwe politieke bedeling met Ramaphosa aan die hoof dalk nuwe hoop? Kan daar met hom onderhandel word oor ’n billike bedeling vir Afrikaans as taal, ook in die onderwysbestel wat die tersiêre sektor insluit? Kan die Gerwelverslag met sy plan vir twee Afrikaanse universiteite, een in die noorde en een in die suide, maar nie weer opgediep word nie? Ons moet bly praat en bly onderhandel en bowenal sorg dat Afrikaans ’n vriendelike gesig behou, ver verwyder van bullebakoptrede wat Afrikaans in ander se kele wil afdruk.

 

(Prof. Van der Elst was hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands by die PU vir CHO en daarna hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die Afrikaanse Taalraad. Hy is tans bestuurder van die beurseprogram van die SA Akademie.)