Spyskaart +

Die feite oor apartheid, misdade teen die mensdom en die gebruik van die ou vlag

Maart 12, 2018 deur Ernst Roets

Die Nelson Mandela Stigting (NMS) het die Gelykheidshof genader vir ʼn verklarende bevel dat die “ongevraagde tentoonstelling” van die ou Suid-Afrikaanse vlag tot haatspraak verklaar word en dat die vlag verban moet word. In ’n eienaardige stap het die NMS in hul eie hofstukke aangevoer dat AfriForum die aansoek sal opponeer en AfriForum sommer as respondent ingevoeg.

’n Mens kan nie anders nie as om te glo dat die NMS probeer om vir AfriForum ʼn strik te stel om te “bewys” dat AfriForum een of ander duistere agenda het – ’n ongegronde beskuldiging wat ANC-gesinde organisasies gereeld in AfriForum se rigting slinger.

AfriForum se opponering van die NMS se aansoek sal meestal op twee sleutelargumente berus: Die eerste is die toepassing van gesonde regsbeginsels en die tweede is ʼn pleidooi vir konsekwentheid.

Die Nelson Mandela Stigting se argumente

Die NMS voer aan dat mense aan apartheid herinner word en dat hulle gevoelens gekrenk word wanneer hulle die ou Suid-Afrikaanse vlag sien, daarom moet die vlag tot haatspraak verklaar word. Die Stigting het vroeër selfs aangevoer dat die gebruik van die vlag gekriminaliseer moet word.

Sello Hatang, uitvoerende hoof van die NMS, verduidelik dat hy hierdie idee gekry het nadat hy gedurende die Swart Maandag-protesaksies teen plaasmoorde ʼn WhatsApp gekry het waarin hy ingelig is dat iemand die vlag iewers vertoon. Dit het sy gevoelens gekrenk en hom aan apartheid herinner.

Sedertdien het dit aan die lig gekom dat die nuusberigte oor die gebruik van die ou vlag tydens die Swart Maandag-optogte fopnuus was. Dit is ook noemenswaardig dat die NMS, met die beperkte hulpbronne tot hulle beskikking, op ’n dag soos Swart Maandag besluit het om ’n geding oor die ou Suid-Afrikaanse vlag te begin eerder as om by die stryd teen plaasmoorde betrokke te raak.

Die NMS voer verder aan dat ons moet onthou dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is. Die hofstukke bevat ook eienaardige politieke slagspreuke soos “Whiteness has power. Structurally, black lives matter less.”

Spraakvryheid en haatspraak

AfriForum is sterk ten gunste van spraakvryheid. AfriForum glo egter ook dat spraakvryheid in Suid-Afrika nie so onbeperk moet wees soos wat dit byvoorbeeld in die VSA is nie. Haatspraak behoort nie onder die vaandel van spraakvryheid beskerm te word nie. Die vraag is egter waar die grens tussen haatspraak en spraakvryheid lê. Daardie grens lê nie, soos wat die NMS aanvoer, by aanstootlikheid nie. Die wese van spraakvryheid is dat ’n mens aan aanstootlike standpunte blootgestel moet word. Dit is in beginsel goed vir jou om blootgestel te word aan ongemaklike idees waarvan jy verskil. Miskien is daardie idees beter as jou eie idees. Dan kan dit jou dalk oortuig om jou eie standpunt te heroorweeg. Miskien is daardie idees slegte idees. Dan oortuig dit jou om jou eie standpunt en argumente te slyp om die persoon wat daardie idees bevorder tot beter insigte te bring.

Daarom behoort die toets vir haatspraak eerder in ’n wekroep tot aksie gesetel te wees. Om bloot ’n vlag ten toon te stel, is nie haatspraak nie. Om die tentoonstelling van die vlag te kombineer met ’n wekroep om ’n bepaalde groep leed aan te doen, kan wel haatspraak wees.

Veroordeling van apartheid

Wit mense maak slegs omtrent 8% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit. Ek reken minder as 1% van wit mense glo ons moet terugbeweeg na apartheid toe. Daar is grootskaalse frustrasie met die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika” onder wit mense. Daardie frustrasie moet egter nie vertolk word as ’n terughunkering na apartheid nie. AfriForum kry sterk ondersteuning, veral onder Afrikaners, wanneer ons vir mense vra om nie met die ou vlag by protesaksies op te daag nie. Die persentasie wit mense wat wel met ou landsvlae by politieke byeenkomste opdaag, is besonder klein.

Ons moet egter nie skroom om ons eie kritiek op die verlede uit te spreek nie. Dit is nie nodig om met die ANC en sy trawante se narratief meegesleep te word nie, veral aangesien hulle dikwels oneerlik is oor wat presies in die verlede gebeur het. Ongeag hoe gefrustreerd ons met die huidige politieke bedeling is, moet ons erken dat mense se menswaardigheid tydens apartheid geskend is. ’n Belangrike deel van die kritiek op apartheid is, ironies genoeg, presies waarmee die ANC hom vandag bemoei, naamlik dat dit ’n beleid van staatsgesentraliseerde sosiale ingenieurswese was. Gedwonge integrasie is net so verkeerd soos gedwonge segregasie.

Carte blanche op kritiek

Daar is breë konsensus dat apartheid verkeerd was en veroordeel moet word. Niemand wil as ʼn apartheidsapologeet of ʼn ontkenner van apartheid uitgekryt word nie. Om te wys op enigiets positiefs wat voor 1994 gebeur het, is daarom polities besonder verkeerd. Die gevolg hiervan is dat ’n vakuum ontwikkel het. Hierdie vakuum bied aan radikale linkse aktiviste die perfekte geleentheid om hulle eie bose weergawes van die geskiedenis te fabriseer en as die waarheid voor te hou. Daar is twee redes waarom hulle dit doen: Eerstens bied dit ʼn rookskerm waarmee die regerende elite se eie mislukkings onder die mat gevee word en tweedens bied dit regverdiging vir voortdurend verswarende diskriminerende beleide teen minderhede. Hoe verder ons van apartheid weg beweeg, hoe meer moet ons aan die boosheid daarvan herinner word. Gebeur dit nie, mag mense dalk net begin om die regerende elite vir hul mislukkings tot verantwoording te roep.

Die gevolg hiervan is dat leuens oor apartheid vertel word – leuens wat baie maklik met die feite weerlê kan word. Voorbeelde hiervan is dat apartheid ’n volksmoord of slawerny was. Daar is oorgenoeg bewyse dat hierdie bewerings vals is. Die gevaarlikste leuens is egter nie spesifieke aantygings soos hierdie nie, maar persepsies wat in die algemeen bevorder word. Dit sluit die persepsie in dat apartheid net so wreed soos Nazisme en wreder as kommunisme was.

Misdaad teen die mensdom

Daar word aangevoer dat apartheid net so wreed soos Nazisme was, omdat beide tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar is. Daar word verder aangevoer dat apartheid wreder as kommunisme was, omdat kommunisme – anders as apartheid – nooit tot ʼn misdaad teen die mensdom verklaar is nie. Dit is natuurlik ’n baie lui argument om jou gevolgtrekking bloot op die notule van ʼn vergadering by die Verenigde Nasies (VN) te skoei sonder om te bepaal wat werklik onder apartheid, Nazisme of kommunisme gebeur het.

In 1973 het die Algemene Vergadering van die VN apartheid tot ʼn misdaad teen die mensdom verklaar. Wat egter nie vandag gesê word nie, is dat daardie besluit baie omstrede was weens die skynheiligheid en politieke motiewe wat daartoe gelei het. Die besluit is in die hitte van die Koue Oorlog se stryd teen die kommunisties-georiënteerde Sowjetblok geneem. Apartheid was ’n maklike teiken omdat die Suid-Afrikaanse regering dit goedgedink het om rassesegregasie in sy wetboeke op te neem. Gevolglik was dit moeilik vir die Westerse samelewing – wat persepsies van rassisme en onderdrukking probeer afskud het – om apartheid te verdedig. Die ondersteuners van die inisiatief om apartheid tot ’n misdaad teen die mensdom te verklaar, was egter almal lede van die Sowjetblok. Talle van daardie lande het self menseregterekords wat aansienlik erger as dié van die Suid-Afrikaanse wit minderheidsregering is.

Die VSA en die voorste Westerse lande het openlik geweier om die resolusie te steun of te bekragtig – nie omdat hulle pro-apartheid was nie, maar omdat growwe dubbele standaarde toegepas is in die bepaling van wanneer iets ’n misdaad teen die mensdom is. In sy teenstem het die VSA die volgende laat notuleer: “We can not accept that apartheid can be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly constructed under existing international law.”

“Hierdie konvensie, wat ’n duidelike poging van die Sowjetblok was om die VSA te isoleer, was ’n groot propagandadeurbraak vir die ANC wat met vernuftige propaganda die indruk geskep het dat die hele wêreld apartheid as ’n misdaad teen die mensdom beskou,” skryf Flip Buys.

Die gedagte dat daar mense is wat glo apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie, laat die hare rys. Hierdie siening is egter nie so geïsoleerd soos wat die ANC ons wil laat glo nie. Om die waarheid te sê, meningspeilings deur die ANC-gesinde Institute for Justice and Reconciliation het bevind dat Suid-Afrikaners van alle rasse toenemend begin glo dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. In 2003 het 87% van die mense in Suid-Afrika geglo dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Teen 2017 was hierdie syfer af na 77%. Die koers waarteen swart mense hul standpunt oor apartheid verander, is vinniger as die koers onder wit mense.

Nazisme en kommunisme en die ANC se “people’s war”

Alan Paton, destydse vriend van oudpresident Nelson Mandela, het gesê dit is ʼn “prostitution of language” om apartheid met Nazisme te vergelyk. Enigiemand wat hierdie vergelyking wil tref, kan gerus gaan lees wat in die naam van Nazisme gedoen is. Om die waarheid te sê, die vergelyking is absurd. Soveel te meer indien aangevoer word dat apartheid erger as kommunisme is.

Die Joodse volksmoord het oor ʼn tydperk van vier jaar plaasgevind waartydens ses miljoen mense dood is. Dit kom neer op ongeveer 1,5 miljoen sterftes per jaar. Dan praat ons nog nie eens van kommunisme nie. Vir elke persoon wat in die naam van Nazisme gedood is, is rofweg 15 mense in die naam van kommunisme gedood. Gedurende die kommunistiese held Mao Zedong se sogenaamde Great Leap Forward is 45 miljoen mense in vier jaar gedood. Dit kom neer op gemiddeld 11 250 000 per jaar!

Die Menseregtekomitee het syfers oor politieke moorde gedurende apartheid aan die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) voorgelê. ʼn Totaal van 21 000 mense het tydens apartheid as gevolg van politieke geweld gesterf. Dit het oor ’n tydperk van 46 jaar gebeur en kom dus neer op 457 politieke sterftes per jaar – 0,004% van die jaarlikse sterftes gedurende die Great Leap Forward.

Die argument oor politieke sterftes word selfs meer vertroebel indien ons gaan kyk wie nou eintlik vir die sterftes van daardie 21 000 mense verantwoordelik was.

Ons weet die ANC is deur die kommunistiese Sowjetunie gefinansier en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het die rol van “‘ideologiese leier” gespeel in die bevrydingstryd. Dit is ook geen geheim nie dat die Sowjetunie die ANC in 1979 na Viëtnam gestuur het om te leer hoe om teen die apartheidsregering te “struggle”. Daar het hulle die sogenaamde “people’s war”-strategie wat deur Mao Zedong ontwikkel is, geleer. Dit het daarop neergekom dat ’n verwoestende oorlog teen swart mededingende organisasies van stapel gestuur moes word om daardie organisasies te neutraliseer ten einde die ANC se posisie as leier in die bevrydingstryd en aangewese toekomstige regerende party te verskans. Dit is waarom politieke geweld tussen swart organisasies in die vroeë 1980’s uitgebreek het.

Strike Thokoane, destydse vriend van Steve Biko en ’n leier van die Swart Bewussynsbeweging (BCM) wat deur die ANC as ʼn opponent beskou is, verduidelik dit so: “Initially there were debates as to which philosophy is correct for our country… We were caught by surprise somewhere in the early 1980’s – we believe it was under the direction of the ANC – that they became intolerant of the black consciousness movement. They became intolerant of the philosophy and started attacking us. It even went to an extent where houses were burned. It went to an extent where people were executed. It went to an extent where people were necklaced.” Meer as 500 mense is gedurende hierdie tyd by wyse van die halssnoermetode vermoor en 700 is op ander maniere doodgebrand.

Thokoane verduidelik die invloed van kommunisme op die ANC se strategie soos volg: “It was just a Soviet way of doing things – that you liquidate and eliminate (rivals) so that you can then have political space. That also weakened the organisation, because a lot of people who were in the leadership of the Black Consciousness Movement and Azapo then said, ‘When we got into politics, we never thought that we would die at the hands of our own brothers.’”

Die Menseregtekomitee het verder bevind dat meer as 90% van die 21 000 politieke sterftes gedurende apartheid tydens die ANC se kommunisties-geïnspireerde “people’s war” gepleeg is. Die apartheidsregering het 3% doodgemaak en regse groepe 0,5%.

Grondbesit tydens apartheid

Apartheid was ’n beleid van gedwonge verskuiwings. Dit is waar en apartheid moet daaroor gekritiseer word. Die ANC en die EFF se suggestie dat swart mense 100% van Suid-Afrika se grondoppervlak besit het en dat hulle ingevolge die 1913 Wet op Naturellegrond in reservate gestop is wat 13% van die grondoppervlak in beslag geneem het, is egter vals. Die Beaumont-kommissie het bevind dat swart mense slegs 9% van Suid-Afrika se grondoppervlak besit het – maar dit word nie gesê nie. Wat ook nie gesê word nie, is dat ’n mens vanweë Suid-Afrika se droë klimaat slegs op 30% van die land se grondoppervlak kan oorleef as jy nie oor die tegnologie beskik om ’n boorgat te sink nie. Verskuiwings gedurende apartheid kan tereg gekritiseer en selfs reggestel word. Maar die argument dat apartheid reggestel moet word deurdat grond “teruggegee” word sodat swart mense die meerderheid van die grondoppervlak kan besit, is bloot oneerlik en nie op historiese feite gegrond nie.

’n Pleidooi vir eerlikheid

Daar is geen twyfel nie dat apartheid ’n politieke wapen geword het. Dit is ’n wapen wat aangewend word om minderhede stil te maak en teen hulle te diskrimineer. Terselfdertyd is dit ʼn wapen wat teen die ANC gebruik word wanneer hulle misluk. Ons kan ’n lys saamstel van anti-apartheidsaktiviste en politici wat in die afgelope paar jaar aangevoer het dat een of ander saak beter was onder apartheid as onder die ANC. Dit is natuurlik ’n manier om die ANC tot verantwoording te roep. Mamphela Ramphele het byvoorbeeld aangevoer dat onderwys tydens apartheid beter was as onderwys onder die ANC. Julius Malema het meer onlangs aangevoer dat die gesondheidstelsel onder apartheid beter was. Hy verwys na “apartheidsklinieke” wat mense versorg het, maar wat deur die ANC-regering gesluit word.

Indien die ou Suid-Afrikaanse vlag dus op grond van die aanstootlikheidswaarde daarvan tot haatspraak verklaar en verban moet word, kan ’n veel sterker argument aangevoer word dat die SAKP en selfs die ANC se vlag ook verban moet word. Dit is egter nie die aangewese manier om aanstootlikheid te beveg nie.

Daar is ’n nuwe tirannie in Suid-Afrika. Dit is ’n tirannie van politieke korrektheid, ʼn tirannie van verwronge politieke denke. Daar word vir ons voorgeskryf wat ons politieke denke moet wees en indien ons nie daaraan voldoen nie, word ons van bose sameswerings en onderdrukking beskuldig. Die probleem is dat daardie einste politieke ideologie wat vir ons voorgeskryf word niks anders as ʼn huis van kaarte is nie. Dit is ’n ideologie wat nie net op ’n verdraaiing van die verlede gebou is nie, maar wat vir sy voortbestaan van daardie verdraaiing afhanklik is. Dit is ʼn ideologie wat met gewone feite vernietig kan word. Daarom het dit nodig geword – in die belang van die voortbestaan van hierdie ideologie – dat die feite onder die mat gevee word en dat allerhande versinsels van die verlede in ons kele afgedruk word. Bied ons weerstand, dan word ons as apartheidsapologete uitgekryt. Om valslik as ʼn apartheidsapologeet uitgekryt te word – ten spyte van ons eie ondubbelsinnige kritiek op apartheid – is egter beter as gedienstigheid aan ’n leuenagtige politieke ideologie.

Evelyn Beatrice Hall het gesê: “I disapprove of what you say, but I will fight to the death for your right to say it.”

AfriForum sal sonder skroom of twyfel baklei vir ʼn eerlike beoordeling van ons verlede.

Ernst Roets

Ernst is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets