|

Die eietydse goederekultus aan die suidpunt van Afrika

’n Paar jaar gelede kom ek op ’n dokument af wat die boeiende en omstrede verskynsel van goederekultusse (Engels: cargo cults) beskryf. ’n Goederekultus word beskou as ’n geloofstelsel waarvolgens die navolgers daarvan bygelowige rituele volg in die hoop om die verskyning van gesogte goedere – wat tipies in eietydse, tegnologies gevorderde ontwikkelde lande voorkom – te bewerkstellig. Dié geloofstelsels is vir die eerste keer in Nieu-Guinee en die Melanesië-omgewing opgeteken ná kontak met Westerse soldate en hul gevorderde tegnologie tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die geloof bepaal naamlik dat die namaak van verskeie ritualistiese gebruike, soos die bou van aanloopbane en radartorings uit stokke en klippe, die manifestering van materiële rykdom sal bewerkstellig – veral luukse Westerse goedere wat dié mense gesien het van werklike vliegtuie afgelaai word (vandaar “cargo”). Daar word geglo dat dié goedere eintlik deur voorvadergeeste geskep is en dat hulle dus daarop geregtig is.

Volgens die literatuur ontwikkel sulke goederekultusse oor die algemeen tydens ’n sameloop van krisisse. Dit is veral onder omstandighede van maatskaplike spanning dat so ’n soort beweging onder die leierskap van ’n charismatiese leier ontstaan wat ’n “visie” van ’n helderder, voorspoedige toekoms koester. Dié leier skryf gewoonlik die aftakeling van die ou sosiale orde voor, asook die bekendstelling van ’n reeks nuwe rituele om dié beoogde heilstaat te bewerkstellig. As dié kort opsomming jou aan die huidige Suid-Afrikaanse politieke landskap en die belofte van ’n helder “nuwe dagbreek” herinner, moet ek seker maar erken dat grootse denkers se gedagtes kruis (of dat dwase nooit verskil nie?).

In sy 2019-staatsrede het president Ramaphosa die verbeelding van vele “Nuwe Dagbrekers” aangegryp met beloftes van skouspelagtige nuwe stede wat vanuit die leë vlaktes oprys, reusagtige wolkekrabbers wat hemelwaarts strek en ’n supersneltrein wat die wyse omver sal werp waarop Suid-Afrikaners oor interstedelike vervoer sal dink. Elkeen van dié utopiese lugkastele slaag bykans daarin om die geestesoog op te helder – maar hulle stort elkeen in duie as mens één vraag vra: Hoe? Meer nog: President Ramaphosa het die Wet op Koolstofbelasting, 2019 (wet 15 van 2019) in 2019 bekragtig. Wat ’n bisarre stap vir ’n land wat 1,3% van die wêreld se koolstof vrystel en spook en spartel om elektrisiteitsonderbrekings te voorkom.

Ek is bevrees dat Suid-Afrika se eie weergawe van goederekultusnavolgers die kar voor die perde inspan met hul beloftes van ’n nuwe era van ongeëwenaarde materiële voorspoed sonder om eers die grondbeginsels te snap. Pleks daarvan om innoverende ambisie te toon wat op gesonde ekonomiese beginsels gegrond is, lyk hulle meer na misleide – hoewel ook ambisieuse – klomp jongmense wat deur ’n selfhelppulpboek oortuig is dat die eerste tree na sukses daarop neerkom om volgens die rol aan te trek.

’n Toenemende aantal mense blyk raak te sien dat die keiser geen klere dra nie; tog is net ’n handjievol dapper genoeg om dit hardop te sê. Die rede hiervoor kan gevind word in Aleksandr Solzhenitsyn se boek The Gulag Archipelago, waarin hy beskryf hoe Josef Stalin ’n staande toejuiging van elf minute lank ná een van sy toesprake verseker het – want die eerste persoon wat ophou hande klap het, is summier in hegtenis geneem.

Helaas, in die gedagtes van ’n sosialis blyk dit dat die heilstaat maar altyd slegs net een regeringsbeheerde skema ver is. Die ewige staatsbelofte staan: “Ons sien die probleem raak; al wat ons benodig, is meer mag, beheer en belasting om dit die hoof te bied.” Hul beloof ’n veel groter koek deur ’n paar valse kapitalistiese rituele na te aap en dit in hul sosialistiese mengsel in te roer. Die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering wat oor ’n skynbaar sonlose horison opkom, is maar net nóg ’n passende voorbeeld van ’n regime wat probeer hardloop nog voordat hulle geleer kruip het.

Die ANC het opmerklik bedrewe geraak daarin om ’n skynvooruitgang deur vensterversierings te bewerkstellig. Om dié fasade voor te hou, beoefen die ANC ’n ongewone ritueel deur  oordadige strooimonsters te skep wat hulle dan onmiddellik met matelose trots, ywer en geesdrif afsny. Hulle verkondig wyd en syd dat die grootste hindernis wat tussen Suid-Afrika en ongebreidelde voorspoed staan die geharde, byblywende spook van apartheid is, wat hulle dan onverskrokke probeer uitdryf deur Afrikaanse simbole te verwyder, en straat- en skoolname te verander. Die tragiese, wrede werklikheid is dat verarmde, werklose Suid-Afrikaners egter aan geen slapelose nagte ly oor die naam van die straathoek waarop hulle daagliks staan en bedel nie. En tog sal die ANC se ritualistiese pogings om die oersonde van rassisme die stryd aan te sê nie ’n enkele werksgeleentheid skep, een maaltyd voorsien, een puttoilet vervang of een siek persoon gesond maak nie.

En net soos in die geval van die arme Melanesiese goederekultusse blyk dit dat die ANC steeds glo dat hulle – deur op kunsmatige wyse sommige kapitalistiese vrugte van sukses na te boots – ’n sosialistiese tyd van voorspoed vir die nasie kan inlui. Dit word egter algaande duideliker vir almal om te sien dat dié vrugte eintlik meer lyk soos die plastiese vrugte wat toeriste in Noord-Koreaanse winkelvensters raaksien.

En so staan ons langs ons lughawens van klei en stokkies en wag op die terugkoms van die vliegtuig van voorspoed wat, sonder dat ons dit weet, ’n gans ander bestemming met ’n ordentlike aanloopbaan en geen beurtkrag gekies het. As ons aanhou om toe te laat dat ons aan ons neuse rondgelei word op hierdie misleidende utopiese sosialistiese tuinpaadjie, sal die enigste ding wat ons uit die Weste kan naderlok ’n paar akademici wees wat effens verward en tog gefassineerd dié hedendaagse goederekultus aan die suidpunt van Afrika kom bestudeer.

Ernst van Zyl is strategie-en-veldtogbeampte by AfriForum. Hy is medeaanbieder van die Podlitiek-podsend en bied die intydse Stream of Consciousness-onderhoude op YouTube aan. Ernst publiseer gewoonlik op Twitter en YouTube onder die skuilnaam Conscious Caracal (volg hom by https://twitter.com/ConCaracal).

Soortgelyke plasings