--> -->
Spyskaart +

Die boer is die plaas

April 17, 2018 deur Flip Buys

Die hoë verwagtings wat die parlementêre besluit van die ANC en EFF oor konfiskering van grond geskep het, het ’n ruimte geskep vir die politieke opsweping van arm mense om grond onwettig te beset. Die EFF misbruik hierdie verwagtings deur die afvat van grond voor te hou as ’n kitsoplossing vir arm mense se probleme, soos armoede en werkloosheid. Dis asof hulle regtig glo dat ’n eie plaas jou oornag ’n “ryk baas” gaan maak.

Die werklikheid het egter anders bewys. In Zimbabwe het die oorneem van suksesvolle boere se plase tot groot armoede, ellende en hongersnood onder swart mense gelei en duisende het uit nood in Suid-Afrika kom werk soek. Die les uit Zimbabwe is dus dat wette wat anti-wit bedoelings het, veral anti-swart gevolge het. Natuurlik het die wit boere geweldig baie verloor, maar hulle het die vaardighede gehad om weer op te staan. Daar het nie plakkerskampe met honger en werklose wit boere ontstaan nie, maar wel nog groter armoede en ellende onder swart mense.

Boer is die plaas

Nie grond nie, maar kundigheid, lei dus tot welvaart. Zimbabwiese boere wat hul grond verloor het, het die kundigheid gehad om weer besighede in die stede of in ander lande te begin. Sonder kundigheid lei grond eerder tot armoede en ellende onder mens en dier. Werkloosheid neem toe, die staatskas verloor belastinginkomste en die bevolking ly honger, met kos wat skaars en onbekostigbaar word. Die grond is dus nie die plaas nie, maar die boer is die plaas. Die plaas is as ’t ware in die boer se kop – dit gaan oor sy kennis, ervaring en ondernemerskap.

Onsigbare plase

Die fout van die Malemas van die wêreld is om te dink dat ’n plaas alles is wat jy kan sien: die grond, die landerye, die toerusting en implemente, die geboue en die voertuie. Maar dis nie so nie. Die plaas is alles wat jy nie kan sien nie: die boer se ondernemerskap, landboukennis, bestuursvermoë, netwerk van kundiges in die waardeketting, deursettingsvermoë en waardes. Hierdie onsigbare plase kan nie gesien word nie; kan nie deur nasionalisering gesteel word nie; en kan gaan waar hulle wil. ’n Boer wat Australië toe gaan, vat sy “plaas” met hom saam al het hy net die klere aan sy lyf. Hy sal weer voedsel produseer waar hy kom, want hy dra sy plaas saam. Aan die ander kant sal die kaders wat sy plaas gesteel het met leë hande en honger mae sit, want die plaas is weg.

Universiteite

Dié fout geld ook vir ander dinge, soos universiteite en dorpe. Politici dink die onteiening van universiteite, deur eers die taal en later sy sprekers uit te “transformeer”, gaan hulle in die besit van kennisfabrieke laat waarmee swak geskooldes in hoogsgeleerdes omgetower gaan word. Maar die universiteit is nie dit wat die oog kan sien, soos die geboue, hoë poste en mooi karre nie. Dis alles wat jy nie kan sien nie: die intellektuele kapitaal wat oor dekades heen opgebou is, navorsingsvermoë, onderrigervaring, akademiese kultuur, die studenteketting van topskole en die vormende studentelewe wat jongmense op die werkswêreld voorberei.

Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het ná die aanstelling van die huidige rektor van Tuks triomfantlik uitgeroep: “We have taken Tuks”. Dit is tekenend van die gesindheid waarmee baie instellings onteien is, maar die tyd sal leer dat die uiteinde van hierdie soort oornames die begin van ’n doodloopstraat is.

Transformasiemislukking

Die hoofrede vir die onvermydelike mislukking van transformasie is juis dat die verkeerde dinge “getransformeer” word. Alles wat sigbaar is, word omvergewerp – of dit nou die onteiening van die boer se plaas of die Afrikaanse gemeenskap se universiteit is. Aan die ander kant word die onsigbare plaas of universiteit nie eers raakgesien nie, laat staan nog ontwikkel of benut. Namate die besetters agterkom dat dit wat hulle oorgeneem en gekoloniseer het nie meer werk nie, lei dit later dan tot woede en ontnugtering. Dis hoekom daar diensleweringsproteste plaasvind; dis hoekom stadsale afgebrand word; dis hoekom dorpe uit woede verwoes word.

Afrikaners

Die ironie is dat die “wenners” só die verloorders word, en die verloorders die wenners. Die besetters van plase, dorpe of universiteite wat dink hulle het gewen, verloor – soos Zimbabwe bewys het. Daarteenoor kry die “verloorders” altyd ’n pad uit, soos wat die ontstaan van uitnemende privaat hospitale en skole, privaat dorpe, privaat sekuriteit en instellings soos Sol-Tech en Akademia bewys het.

Hierom bly die bykans fanatieke herhaling van mislukte resepte ’n vreemde verskynsel. Die geskiedenis het nog altyd bewys dat polities gewilde dog ekonomies onwerkbare planne altyd diegene benadeel wat veronderstel is om daardeur bevoordeel te word, en dié bevoordeel wat veronderstel is om benadeel te word.

In die oorgangsproses is daar wel ondenkbare verwoesting, skade en benadeling, maar uiteindelik kan gemeenskappe met sukseswaardes nie onder gehou word nie. Ons sal net weer en weer opstaan.