Die AfriForum-tak in Heilbron skenk 13 bome aan plaaslike skool


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Heilbron-tak het 13 bome aan die Hoërskool Heilbron as deel van boomplantmaand geskenk. 
AfriForum se plaaslike tak het vir elke graad wat by die skool aangebied word (vanaf graad R tot 12) ’n boom geskenk om leerders bewus te maak van die belangrikheid van bome om ons ekologie te bewaar. Leerders is op 15 September vanjaar by die plant van die bome betrek toe al 13 die bome op die skoolgronde geplant is.
’n 12-jarige witstinkhout-bonsai is as blyk van waardering aan die skoolhoof en personeel geskenk om hulle te bedank vir hul harde werk en bydrae tot die skool se sukses.

“Dit was vir AfriForum se Heilbron-tak ’n voorreg om saam met die Hoërskool Heilbron by hierdie boomplantaksie betrokke te wees. Die jong kinders het dit so geniet om die bome te plant en te leer hoe om dit te versorg. Wat vir my baie inspirerend was, was dat die graad R-klassie met hul plastiekgrafies reggestaan het om hul boompies te plant. Van die ander grade se kinders het selfs hul kosblikke gebruik om water aan te dra,” sê Danie Knoetze, voorsitter van AfriForum se Heilbron-tak.

Daar is ook van die geleentheid gebruik gemaak om die tak se AfriForum Jeug-afdeling aan die hoërskoolleerders te bemark, aangesien die tak op soek is na energieke jongmense om toekomstige projekte aan te pak.
Raak by hierdie of soortgelyke projekte betrokke: SMS “Heilbron” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings