Spyskaart +

Die 10 ANC-foute wat almal vergeet het

Mei 23, 2018 deur Flip Buys

Dis maklik en gewild om die ou bedeling se foute deesdae uit te basuin. Die verlede is verby, die wêreld het aanbeweeg en niemand kan meer onthou waarom dinge destyds gebeur het wat vandag nie meer sin maak nie. Maar die rol van ’n magspolitieke ystervuis in ’n polities korrekte fluweelhandskoen moet ook nie onderskat word nie. Die skoen is nou aan die ander voet en Afrikaners kan nou hardhandig gehamer word deur enigiemand wat ’n historiese byltjie te slyp het. Wit linkses probeer self, onder die veilige dekking van ’n misdadige verlede, punte wen deur die platskiet van enige organisasie wat standpunt vir Afrikaners se menseregte inneem. Almal word daagliks aan die apartheidsera se foute herhinner en hulle weet nie eers van die ANC se foute nie – of het skoon daarvan vergeet.

Die ANC het die militêre oorlog verloor, maar het die propagandaoorlog gewen. Hulle taktiek was om met aanhoudende aanvalle hul teenstanders se foute onder die soeklig te plaas maar hulle eie te verswyg. Só het hulle daarin geslaag om Afrikaners heeltyd op die verdediging te hou, terwyl niemand aandag aan die ANC se “ligte mistykies” gegee het nie. Die gevolg was skuldgevoelens en -belydenisse aan die een kant, en beskuldigings en eise om regstelling aan die ander kant. Die verlede is vereenvoudig tot ’n stryd tussen skurke en helde, en gevolglik word die skurke se nageslag nou geteiken en die helde s’n bevoordeel. Die ANC steun swaar op hierdie historiese vereenvoudiging, omdat dit ’n beleid van permanente diskriminasie moet regverdig. Só word wit jongmense vandag verantwoordelik gehou vir dit wat het voor hul geboorte gebeur, terwyl die ANC nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag aanvang nie.

Daarom is dit nodig om kortliks na die tien belangrikste foute van die ANC te kyk, sodat daar ’n beter ewewig in die debat kan kom.

Kommunisme

Die ANC se eerste fout was hul koppeling met kommunisme en die Sowjetunie, wat enige skikking tydens die Koue Oorlog by voorbaat onmoontlik gemaak het. Die politieke beweegruimte van ’n klein landjie vasgevang in die globale konflik van die tyd was bevries.

Sosialisme

Die tweede fout was sy destydse beleid van Afrika-sosialisme, wat die hoofoorsaak van die mislukking van die meeste Afrika-lande in die postkoloniale tydperk was. Afrika-lande noord van ons is mooi, veilig en vriendelik, maar onderontwikkeld. Die vrees van die destydse regering was dat ’n ANC-bewind Suid-Afrika sal demoderniseer.

Geweld

Die derde fout was die poging om ’n gewapende stryd van stapel te stuur, wat van die staanspoor af geen kans op sukses gehad het nie. Die wit mense van die vorige era het die ANC beveg omdat hulle geen ander uitweg gesien het nie. Die gevolge van die ANC se soort beleid was vir hulle oor die hele Afrika en veral in die Oosbloklande duidelik.

Sanksies

Die vierde fout was die veldtog om ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika in te stel. Die gewone swart mense is hierdeur baie meer benadeel as wit besluitnemers en dit het ook die weg vir die huidige hemelhoë werkloosheid in Suid-Afrika gebaan. Talle maatskappye het uit die land onttrek en nooit weer teruggekeer nie, terwyl ander hul buitelandse markte verloor en nooit weer teruggekry het nie.

Onregeerbaarheid

Die vyfde fout was die strategie om die land onregeerbaar te maak. Dit het weereens gewone swart mense se lewens baie meer geraak en het die grondslag gelê vir die geweldsmisdaad wat die land vandag teister. Die kultuur van wetteloosheid wat so sorgvuldig vir politieke doeleindes gekweek is, het later buite beheer geraak en is besig om die fondamente van die samelewing te vernietig. Die boikotkultuur wat daardie jare doelgerig geskep is, het tot só ’n kultuur van wanbetaling gelei dat die meeste munisipaliteite vandag nog nie geld het om die nodige dienste te lewer nie. Mnr. Buthelezi het die ANC tevergeefs gewaarsku dat, indien hulle die land voor oorname onregeerbaar sou maak, dit na oorname steeds onregeerbaar sal bly.

 Skoolkinders

Die sesde fout was die ANC se strategie om skoolkinders as voertuig van die rewolusie te gebruik. Dit het die onderwys van ’n hele geslag mense tot só ’n mate benadeel dat die onderwysstelsel, asook die land, vandag nog nie daarvan herstel het nie. Die saad van vandag se vaardigheidskrisis is daardie jare geplant en die vrugte word nou gepluk in die vorm van derduisende onopgeleide werkloses en onindiensneembares.

Rewolusieteologie

Die sewende fout was die ANC se omarming van die teologie van rewolusie in ’n poging om die gelowige massas by die rewolusie te betrek en ’n godsdienstige regverdiging vir die struggle te kry. Terwyl die N.G. Kerk seker al ’n honderd konferensies gehou en vir sy betrokkenheid by apartheid om verskoning gevra het, is daar geen debat oor die ANC se misbruik van godsdiens voor 1994 nie.

Transformasie

Die agtste fout het in 1997 by die ANC se destydse beleidskonferensie ontstaan. Daar het hulle die toegewings omgekeer wat hulle tydens die onderhandelings gemaak het om die mag te kry en hul staatsmag begin gebruik om hul oorspronklike doelwitte uit te voer. “Gelykheid” het “rasseverteenwoordiging” geword en word saam met die beginsels van “Afrikaanheerskappy” en “kaderontplooiing” gebruik om meerderheidsregering gaandeweg te omskep in meerderheidsoorheersing. Alhoewel die ANC-regering aan die een kant die staat gesien het as die kerninstrument om regeringsbeleid uit te voer, is die staatsdiens terselfdertyd tot op ’n punt van ondoeltreffendheid getransformeer. Dit het enorme gevolge – van swak munisipale dienslewering tot geweldsmisdaad – wat handuit geruk het omdat die staat sy eie vermoë ondergrawe het. Dit dryf weer derduisende topgeskooldes landuit met ’n gepaardgaande verlies aan kundigheid, belastinginkomste en werkskeppingsvermoë.

Rassebedeling

Die negende fout was die terugbring van ras as ’n sentrale faktor in beleidsbepaling. Hierdeur ondermyn die ANC die morele grondslag van sy eie beleid en word ander rassegroepe vervreem. Die ou regering het ’n klein minderheid ten koste van die meerderheid bevoordeel, terwyl die nuwe regering probeer om die groot meeerderheid ten koste van die minderheid te bevoordeel.

 Beloftes maak skuld

Die tiende fout is die onbereikbare beloftes wat die ANC geskep het omdat hulle glo dat politieke mag gebruik moet word om ekonomiese mag vir hul ondersteuners te skep. Slagspreuke soos “Gee ons eers die politieke koningryk en alle ander dinge sal daarby gevoeg word” het vanaf Kgwame Nkrumah se Ghana tot in Suid-Afrika opgeklink. Dit is die oorsprong van die beleid van BEE vir die swart rykes, rassekwotas in die werksplek vir die swart middeklas, welsyn vir die armes en die geldelike koöptering van die tradisionele leiers. Maar die politiek het verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie en wat die swak staatsdiens nie kan uitvoer nie. Die gevolg is dat die diensleweringsproteste en geweldsmisdaad die land weer lamlê en onregeerbaar maak.

Die ANC het ‘n groot rol gespeel in die vestiging van ’n blaamkultuur in Suid-Afrika en hulle probeer ’n skuldkultuur by wit mense skep. Oor hul eie foute swyg hulle egter soos die graf.