--> -->
Spyskaart +

DIABETESVERWANTE AFKNOUERY: Is hierdie kinders dalk teikens van boelies?

Mei 14, 2019 deur Mareli Rall

Deur Leandie Bräsler en Natasha Smit

Sommige kinders dink dat dit snaaks is om met iemand die spot te dryf wanneer daardie persoon “anders” as die res van die kinders in die skool is. Enige persoon kan ’n teiken vir ’n boelie wees. Meesal is dit nie kinders se bedoeling om wreed of lelik teenoor iemand anders op te tree nie, maar dit kan wel die geval wees of later die geval word. Op ’n sekere punt hou dit op om onskadelik te wees. Soms kan kinders met tipe 1-diabetes (suikersiekte) ’n teiken van boeliery of afknouery word, want hulle diabetes maak hulle “anders” as die res van hulle klasmaats – dit laat hulle uitstaan.

Diabetesverwante afknouery kan ’n effek hê op die manier waarop die siekte self bestuur word. Wanneer kinders oor hulle mediese toestand geboelie word, veroorsaak dit net meer stres. Dit kan dus die bestuur van tipe 1-diabetes bemoeilik. ’n Voorbeeld hiervan is dat die slagoffers (die kinders met diabetes) op die boelievoorval sal reageer deur nie hulle medikasie te neem wanneer hulle moet nie, of deur nie hulle nodige maaltyd of fisiese aktiwiteite se planne te volg soos voorgestel word nie, want hulle is bang dat hulle klasmaats hulle sal sien en oordeel.

Wat kan leerders, ouers/voogde en onderwysers doen?

  • Verduidelik aan jou kind/leerder dat dit nie hulle skuld is wanneer hulle geboelie word of ’n slagoffer van boeliegedrag is nie. Vertel ook aan hulle dat niemand dit verdien om so behandel te word nie. Moedig jou kind/leerder wat geboelie word, aan om hulp te soek by ’n volwassene.
  • Probeer verhoed dat diabetesverwante afknouery ’n effek op die slagoffer se selfsorg het. Kinders/Leerders moet nie gesonde gewoontes stop omdat hulle deur hulle klasmaats gespot of geboelie word nie – of dit nou is wanneer die klasmaats die slagoffer sien medikasie gebruik, wanneer hulle gereelde bloedsuikertoetse doen of wanneer hulle gesonde peuselhappies of middagetes eet.
  • Verstaan die toestand en alles wat daarmee gepaard gaan. Maak seker jy verstaan hoe werk die insulien en peuselhappies. Slaan ag op ’n kind se emosies en gedrag.
  • Probeer kinders motiveer om die goeie in die situasie te sien en om aan te pas by hulle omstandighede sonder om hulle gesondheid te benadeel. Enigiets kan goed wees solank dit matig gedoen word. Leer jou kind om ’n beter keuse te maak of porsiebeheer toe te pas eerder as dat hy/sy heeltemal ontneem word van sekere sosiale byeenkomste of partytjies waarna hulle moontlik emosionele verwerping of skuldgevoelens ervaar wanneer hulle nie presies volgens die boek optree nie.

Leerders met suikersiekte kan die volgende ervaar:

  • Uittarting deur klasmaats oor gedrag wat hulle as “anders” of “vreemd” beskou, soos wanneer die persoon met diabetes bloedsuikertoetse moet doen, medikasie moet gebruik of nie sekere tipes kos tydens middagete kan eet as dit nie in hulle beplande maaltye val nie.
  • Fisiese aanvalle, aanlyn teistering of kuberafknouery, en om gespot of uitgeskel te word. ’n Leerder met diabetes kan deur die boelie gesien word as iemand met ’n fisiese swakheid. Aan die ander kant wys navorsing ook dat sommige kinders met ’n liggaamsgebrek of spesiale behoeftes ander kan boelie.
  • Verwerping en skuldgevoelens. Kinders met diabetes voel maklik hulle word uitgesluit omdat hulle maaltye en peuselhappies dikwels anders is as hulle klasmaats s’n. Sommige kinders word fisies uitgesluit deur klasmaats, waar ander weer uitgesluit word deur ouers wat hulle kind wil beskerm teen versoeking deur hom of haar te isoleer tydens sosiale byeenkomste. Wanneer die kind dan wel die geleentheid kry om ’n sosiale byeenkoms by te woon en dalk ’n ongesonde peuselhappie saam met maats geniet, voel hulle so skuldig en belemmer dit hulle denke en gesonde verhouding tot voedsel.

Onderwysers is dalk nie opgelei om situasies soos waar leerders spesiale gesondheidsbehoeftes het, te hanteer nie. Terwyl die onderwysers net goed bedoel, word leerders met tipe 1-diabetes dan anders hanteer as die res van hulle klasmaats. Dit kan dus die negatiewe effek hê waar die kind met diabetes van die ander leerders afgesonder word, wat potensieel die kind se “andersheid” versterk. Dit kan gevoelens van jaloesie by ander leerders aanwakker, omdat hulle dink dat die kind met diabetes meer aandag as hulle kry.

Dit is belangrik om te verstaan waardeur kinders gaan wat geboelie word, nl. die slagoffer. Boeliery/afknouery kan stres veroorsaak wat kan bydra tot die gevoel van eensaamheid en angstigheid, wat weer ’n impak op hulle emosionele en fisiese gesondheid het. ’n Verskeidenheid van reaksies op hierdie situasie kan veroorsaak dat kinders se sosiale, opvoedkundige en emosionele ontwikkeling vertraag of benadeel word:

  • Slagoffers kan die manier hoe hulle die diabetes bestuur, verander omdat hulle bang is om gespot te word. Hulle kan ook versuim om hulle bloedsuiker so gereeld te toets soos wat hulle moet of hulle kan die gebruik van medikasie vertraag.
  • Slagoffers kan begin om die negatiewe aanmerkings te glo en kan dan tekens van angstigheid of depressie toon.
  • Slagoffers kan sosiale byeenkomste vermy en dan positiewe groepsaktiwiteite en ander positiewe ervarings misloop.
  • Slagoffers kan ook begin om jonger kinders of klasmaats wat hulle as “swakker” sien, af te knou as ’n aangeleerde reaksie op die behandeling wat hulle ontvang het.

Die langtermyngevolge van suikersiekteverwante afknouery

Boeliery/afknouery is oor die algemeen nie ’n voorval wat net een keer gebeur nie, maar wat op ’n herhalende wyse plaasvind. Diabetesverwante afknouery is dus ’n reeks van klein voorvalle wat oor ’n lang tydperk herhaal word, wat later ’n kind se selfvertroue kan laat knak. Dit sluit in spottery, kuberafknouery (oor die internet) en bakleiery wat nie net een keer gebeur nie maar wat herhaaldelik gebeur. Dit is ook belangrik om te weet wat langtermyn diabetesverwante afknouery kan doen: Dit kan fisiese, verstandelike en emosionele skade aan die slagoffer aanrig wat hulle eendag as volwassenes steeds saam met hulle kan dra.

  • Kinders kan terugslae kry in die bestuur van hulle diabetes as hulle ophou om te doen wat nodig is om elke dag te doen.
  • Omdat kinders kan agterraak met hulle skoolwerk, sowel as hulle sosiale en emosionele vooruitgang, kan hulle ook sukkel met gedragsprobleme.
  • Om die voorwerp van geweld te wees, kan ’n kind se vermoë benadeel om gesonde verhoudings met ander te vorm namate hulle ouer word.
  • Kinders se risiko vir depressie en sosiale angstigheid is groter wanneer hulle op ’n aanhoudende en deurlopende wyse afgeknou word.

Op ’n positiewe noot

Sommige kinders kan wys hoe sterk hulle is wanneer hulle diabetesverwante afknouery in die gesig staar. Ondersteuning by die huis, in hulle gemeenskap en van die sorgspan van diabetes (dokters en dieetkundiges) is baie waardevol.

Wanneer ’n kind net op een skooldag geboelie is, is dit vir almal ’n teken om op te tree. Dit is noodsaaklik om boeliery/afknouery dadelik te stop sodat dit nie ’n groter probleem sal word nie. Hier is duidelike stappe wat ouers/voogde kan volg:

  • Wees ondersteunend en bemoedigend. Vra jou kind om vrylik te gesels oor wat by die skool gebeur. Maak dit ’n daaglikse taak. Vertel vir jou kind dat hy nie homself moet blameer nie. Verduidelik aan jou kind waarom diabetesverwante afknouery kan gebeur. Maak seker dat jou kind weet dat jy altyd daar is om te luister en dat jy agter hom staan. Ondersteun jou kind deur saam hom of haar ’n gesonde leefstyl te handhaaf en steeds as ’n gesin saam gesonde maaltye te berei in stede daarvan om elke maaltyd vir jou kind sy eie bord kos te berei wat weereens “anders” vertoon teenoor die res van die gesin.
  • Gesels met jou kind se onderwysers om seker te maak dat hulle bewus is van wat gebeur en ook watter stappe gedoen kan word om die probleem dadelik op te los.
  • Skryf al jou bekommernisse neer. Kontak die hoof van die skool, die beheerliggaam of die onderwysdepartement om ’n boelievoorkomingsprogram te begin of doen stappe wat min of meer dieselfde is. AfriForum se teenboelieveldtog word ook by skole landwyd aangebied om afknouery in skole hok te slaan.
  • Gesels met die onderwysers en die skool om seker te maak dat jou kind nie ander kinders begin afknou nie. Dit kan kinders wees wat jonger of swakker is as jou eie kind, of dit kan ’n kind wees wat as “anders” of “vreemd” beskou word. Ongelukkig leer kinders hoe om ander te boelie as hulle self geboelie word. Indien dit so is, sal hierdie aggressiewe gedrag verander moet word.
  • Maak seker dat jou kind nie ophou om na sy/haar eie gesondheid om te sien nie, soos bv. om bloedsuikertoetse en die neem van medikasie te vermy. Indien iets soos dit gebeur, probeer om ondersteunend te wees en nie om dadelik jou kind te blameer omdat hy/sy bang of in selfverdediging optree nie. Lê klem op die belangrikheid om by die sorgplan van hulle siekte te bly.

’n Gesonde leefstyl en gesonde eetgewoontes is iets waarna ons elkeen streef. Dit is belangrik om te verstaan dat ’n kind of ander persoon met diabetes bloot ’n gesonde leefstyl handhaaf en dat elkeen by daardie leefstyl sal baat.

Indien jou kind se skool by AfriForum se teenboelieveldtog betrokke wil raak, kan ‘n e-pos gestuur word aan leandie.brasler@afriforum.co.za

Indien jou kind sukkel met diabetes, kan Natasha Smit gekontak word by    nsmitdietitian@gmail.com of 076 222 2442.