|

Deurdagte beplanning deel van Orania se suksesresep

“Niks merkwaardig in die geskiedenis het tot stand gekom sonder mense wat ’n droom bedink het nie.”

Só meen Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Dorpsraad van Orania. Hy het tydens AfriForum se derde takkongres gepraat oor die groei van Orania en  hoe drome ’n werklikheid kan word.

“Elke Afrikaner wat positief betrokke is by Orania, maak ‘n verskil in ons selfstandigheid en lewer ‘n bydra deur of daar te vestig of andersins by te dra.”

Volgens De Klerk het Afrikaners al hoe minder ruimtes waarin hulle hulself kan uitleef en moet hul fokus op groei en hulself gekonsentreerd vestig.

Verder moet hulle hul grondgebied uitbrei en nog grond aankoop en produseer. “Ons moet vir ons ‘n kulturele leefruimte skep en deur opleiding sorg dat dit ‘n trekkrag word.”

Hy het drie van belangrikste redes vir gekonsentreerde vestiging uitgelig, naamlik veiligheid, ekonomiese ontwikkeling en politieke mag.

“Ons moet ʼn nuwe plek vir Afrikaners bou, kapitaal monster en beleggings lok om besighede te bou en bedrywe uit te brei.

Tussen 2016 en 2017 het Orania se inwoners met 9% gestyg, hul permanente werksgeleenthede met 13% gegroei en hul munisipale inkomste met 15% gestyg.

“As jy ’n droom op die grond neersit met ’n goed deurdagte plan, sal dit ’n werklikheid word.”

Orania fokus op die groeiende selfstandigheid vir Afrikaners op die grondslag van eie arbeid, eie grond en eie instellings en De Klerk meen die boodskap aan mede Suid-Afrikaners moet wees dat Afrikaners nie deel is van die probleem nie, maar die oplossing.

“Afrikaners het nie gister hier aangekom nie, ons is al amper 400 jaar in Suid-Afrika. Orania se model kan deur enige gemeenskap benut word. Ons kan ’n positiewe boodskap oordra oor die belangrikheid van eienaarskap en verantwoordelikheid neem en dié boodskap internasionaal oordra.”

Hy sê ook dat Orania weet dat hul steeds op die regte pad is wanneer daar kinders in die strate speel.

“Ons het ’n geloofwaardige en gesonde idee nodig, wat moreel regverdigbaar is, om die droom ’n werklikheid vir alle Afrikaners te maak.”

 

Soortgelyke plasings