Departement van binnelandse sake binnekort ʼn taaleenheid ryker


AfriForum verwelkom ʼn onderneming deur ʼn verteenwoordiger van die departement van binnelandse sake, dat dié departement teen die einde van die kwartaal ʼn taaleenheid tot stand gaan bring. Dié eenheid beloof om uitvoering te gee aan die bepalings soos uiteengesit in die Wet op Gebruik van Amptelike Tale, 12 van 2012 (GATW) en afdeling ses van die departement se taalbeleid wat op 22 Februarie 2016 in die Staatskoerant gepubliseer is. Volgens dié beleid vorm al elf amptelike landstale deel van die departement se taalbeleid.
Die onderneming is vandag gelewer tydens dag 15 van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se maand van taalaktivisme. Sewe dae van dié veldtog is toegewys aan voorleggings wat deur nasionale departemente, nasionale openbare instellings en nasionale ondernemings gemaak word en waar vordering ten opsigte van die implementering van dié wet aan die publiek voorgelê is.
Die GATW stipuleer dat alle nasionale departemente, entiteite en openbare ondernemings ʼn taalbeleid oor die gebruik van amptelike tale moet hê. Dié beleid moet aandui hoe ten minste drie amptelike tale gebruik word om doeltreffend met die publiek te kommunikeer en ʼn klagtemeganisme moet daargestel word sodat die publiek taalregteskendings kan aanmeld.

“Dit is verblydend om te sien dat die departement van binnelandse sake ʼn onderneming maak om hul verantwoordelikheid ten opsigte van meertaligheid na te kom,” sê Annelise de Vries, taalbeplanningskoördineerder by AfriForum.

Volgens Sue-Ann de Wet, AfriForum se projekkoördineerder vir die Suid-Afrikaanse diaspora, het die departement gesê dat die voorgenome taaleenheid hulle in staat sal stel om alle navrae, versoeke en klagtes doeltreffend in ʼn amptelike Suid-Afrikaanse taal van die kliënt se keuse te hanteer.
AfriForum sal die vordering met die inwerkingstel van ʼn taaleenheid in die departement fyn dophou.

Soortgelyke plasings