|

Dendron-aanval: AfriForum neem deel aan versetstoet

AfriForum se veiligheidstrukture was vandag deel van ongeveer 500 voertuie wat aan ’n versetstoet deelgeneem het. Die stoet het bestaan uit verskeie organisasies, landelike veiligheidstrukture en lede van die publiek, wat hul misnoeë te kenne wou gee oor die vlaag plaasaanvalle wat die land teister.

’n Bejaarde egpaar van die Dendron-distrik is op 5 Augustus deur drie aanvallers in hul huis aangeval en ernstig beseer. Die SAPD het later daardie oggend drie verdagtes in hegtenis geneem en gesteelde goedere teruggevind. Tydens die inhegtenisneming is daar oor en weer geskiet, en een van die verdagtes is gewond. Dié verdagte is later in die hospitaal oorlede.

Die ander verdagtes het vanoggend in die Morebeng-landdroshof verskyn. Die saak is tot 14 Augustus uitgestel, wanneer die verdagtes om borgtog sal aansoek doen. AfriForum het die familie by die hofverrigtinge ondersteun.

“Hierdie laakbare aanvalle op boere kan eenvoudig nie ongesiens verbygaan nie. Dit is verblydend dat gemeenskappe al hoe meer verset teen plaasaanvalle toon. AfriForum sal aanhou om bewustheid oor plaasaanvalle te skep en te help om gemeenskappe teen dié misdade weerbaar te maak,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Soortgelyke plasings