|

De Goede Hoop verwelkom nuwe nooientjies en lakeie

De Goede Hoop is nie net ’n koshuis nie, maar jou huis weg van die huis af. Dis ’n plek waar jy met ope arms ontvang en met liefde en respek hanteer word. Dit is ’n verlengstuk van die ouerhuis, waar jy voorberei word vir die toekoms.

Só meen Salet Scheffer, projekkoördineerder vir De Goede Hoop-koshuis, ’n privaat Afrikaanse koshuis, sowat 2 km vanaf Tukkies se Hatfield-kampus. Dit is op ’n christelike grondslag geskoei en word deur AfriForum ondersteun.

Die koshuis het vanjaar 41 nuwe eerstejaars verwelkom wat kan uitsien na verskeie aktiwiteite insluitend die eerstejaarskonsert, Valentynssokkie, sportweek, asook deelname aan aktiwiteite van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).

De Goede Hoop bestaan uit sowel ’n mans- as damesvleuel. Mans en dames kan dus gesamentlik op een perseel, maar afsonderlik in verskillende vleuels woon en só aan die studentelewe deelneem.

Nantes Kelder, voormalige hoof van AfriForum se Trauma-eenheid, en sy vrou Elsabé, is tans koshuisouers van De Goede Hoop. Die egpaar het self ’n dogter (24) en seun (18) en het ’n aanvoeling hoe om met jongmense te werk.

Vir meer inligting oor verblyf by De Goede Hoop, stuur ’n e-pos na aansoek@degoedehoop.co.za of besoek http://www.degoedehoop.co.za/kontak-2/verblyf-navraag/.

Soortgelyke plasings