|

De Goede Hoop se deure oop vir Afrikaanse studente

As Afrikaanse studente toenemend onwelkom in die koshuise van die Universiteit van Pretoria (UP) is, is daar vir hulle alternatiewe verblyf.

Dit is die boodskap wat AfriForum en die bestuur van die privaat koshuis De Goede Hoop vir Afrikaanse studente het nadat die UP die meeste van die koshuise se name nou amptelik verander het.

Tien koshuise se name bly dieselfde en 19 is hernoem.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê die Afrikaanse kultuur en studentetradisies het oor ’n lang tyd by Tukkies begin wegkalwe. “Die verandering van die koshuisname, wat glad nie aanstootlik was nie, is ’n laagtepunt en dui bloot daarop dat Afrikaans nie meer op Tukkies welkom is nie.”

Die vervreemding wat Afrikaanse studente op kampusse en in koshuise ervaar, is een van die redes waarom die De Goede Hoop-koshuis begin is.

De Goede Hoop is ’n privaat Afrikaanse koshuis, sowat 2 km vanaf Tukkies se Hatfield-kampus, wat op ’n christelike grondslag geskoei is en deur AfriForum ondersteun word. Dit het ten doel om ’n tuiste vir enige Afrikaanse student te wees wat gemaklik binne die Afrikaanse gemeenskap voel.

Nantes Kelder, koshuisvader van De Goede Hoop, moedig ouers aan om hul kinders na dié koshuis te stuur. “Hier skep ons ’n veilige omgewing waar jongmense hulle in alle fasette van hul studentelewe kan uitleef. Dit is ’n waardegedrewe blyplek en ’n tuiste weg van die huis waar studente hulself ten volle in hul taal en kultuur kan uitleef.”

Die UP het in ’n verklaring gesê die name is nie daarop gemik om van alle Afrikaanse name ontslae te raak nie, maar om meertaligheid en kultuurdiversiteit te bevorder.

Die name wat verander is, is:

Vrouekoshuise:

Curlitzia word Curelitzia;

Erika word Erica;

Inca word Ikaneng;

Jasmyn word House Khutso;

Katjiepiering word Azalea;

Klaradyn word House Nala;

Lilium word Hayani; en

Magrietjie word House Mags.

Manskoshuise:

Boekenhout word House TAU;

Kiaat word Tirisano;

Kollege word College;

Maroela word Morula Legae;

Mopanie word Mopane;

Olienhout word Tuks Ekhaya;

Olympus word House Ukuthula; en

Taaibos word The Tower.

Gemengde koshuise:

Onderstepoort word OP Village;

Protea word Protea Mbalenhle; en

Tuks Naledi word Khanyisa Naledi.

Koshuise wat onveranderd bly, is Asterhof, Hippokrates, Jakaranda, Madelief, Nerina, Tuksdorp, Tuks Bophelong, Tuks Village, Xayata en Zinnia.

Die verandering van die name het wye reaksie in die media en op sosiale media ontlok. Sommige mense meen dit kom neer op ’n vervreemding van alumni en Afrikaners en dat dit ook dui op ’n uitwissing van die Afrikaner se geskiedenis by die universiteit.

Vir meer inligting oor verblyf by De Goede Hoop, stuur ’n e-pos na aansoek@degoedehoop.co.za

Soortgelyke plasings