|

De Goede Hoop-koshuis kry nuwe tuiste nóg nader aan Tukkies

Die trots Christelike, Afrikaanse studentekoshuis De Goede Hoop gaan in Januarie 2020 nie net ’n nuwe jaar inwy nie, maar ook na ’n nuwe perseel skuif.

De Goede Hoop se nuwe tuiste sal in Burnettstraat, Hatfield, geleë wees by die gewese Huis Voortrekker. Dié terrein is byna ’n klipgooi van die Universiteit van Pretoria, asook die L.C. de Villiers-sportterrein.

De Goede Hoop is in 2016 gestig om ’n veilige tuiste te bied vir studente wat Christelik en trots Afrikaans is, waar hulle gesonde studentetradisies kan uitleef en hulle persoonlik, emosioneel en akademies kan groei om hulle vir die lewe na studentwees voor te berei

Die koshuis is oop vir alle studente wat in Pretoria studeer, hetsy by die Universiteit van Pretoria of ander nabygeleë tersiêre instansies.

Voornemende studente kan uitsien na kultuuraande, ’n sportweek, valentynsokkie, vasvra-aande en baie meer. Die nuwe perseel het ook ’n klubhuis, braaigeriewe, swembaddens, ruim leefareas, wasgeriewe met wasmasjiene en tuimeldroërs, IT-lokale met internet en werkruimtes en gedeelde kombuise.

Elke student het ook sy of haar eie kamer wat toegerus is met ’n enkelbedbasis, lessenaar, boekrak, ingeboude kas en gordynreling. Studente moet dus net sorg vir hul eie matras, beddegoed, gordyne, stoel, asblik en persoonlike items.

“De Goede Hoop is nie net ’n koshuis nie, maar jou huis weg van die huis af. Waar jy met ope arms ontvang word en met liefde en respek hanteer word. Dit is ’n verlengstuk van die ouerhuis, waar jy voorberei word vir die toekoms,” sê Nantes Kelder, koshuisvader van De Goede Hoop.

Inskrywings vir verblyf is tans oop. Besoek www.degoedehoop.co.za vir meer inligting.

 

Soortgelyke plasings