|

Dapper Media en Toerbroer-reeks maak bos- en reiservaring tydens inperking ’n werklikheid

Min mense leef ooit hul droom en passie werklik uit.

Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie, ook bekend as Toerbroers, het ná jare se harde werk en toewyding uiteindelik by die punt gekom waar hulle elke oomblik van die dag besig is met dit wat hulle werklik gelukkig maak.

Toerbroers was lank in die sang- en modebedryf en het reeds baie wyd gereis. Die manne is ook bekend as die duo-sanggroep, DZL.

Maar vandag is hulle nou betrokke by natuurbewaring en veral die behoud en beskerming van bedreigde spesies soos die noordelike witrenoster, waarvan daar tot onlangs net twee koeie in Kenia oor was. Die laaste bul, Sudan, is in 2018 oorlede.

Baanbrekerswerk op die gebied van in vitro bevrugting (IVB), het daartoe gelei dat die eerste witrenoster-kalfie op dié manier gebore kon word. Die kalfie, wat in Julie verlede jaar gebore is, word by die San Diego Safari Park in Kalifornië aangehou. Ons eie, dr. Morne de la Rey, ’n veearts en kenner, werk ook nou saam met die park.

“Dit is ‘n wonderwerk en ons as Toerbroers is ontsettend opgewonde om by projekte soos dié betrokke te wees.”

Die Toerbroers, wat nou maar eenmaal glad nie stil kan sit nie, het vroeër ’n kompetisie aangebied wat ’n lid van die publiek geleentheid gegee het om ’n onvergeetlike ervaring saam met hulle in Kenia mee te maak.

Dié kans het Anel van Niekerk te beurt geval. Sy het self ’n uitsonderlike en inspirerende verhaal. Anel is vroeër met leukemie gediagnoseer. Sy het kanker egter oorwin en sal ook eendag deur middel van IVB dalk ’n baba van haar eie kan hê. “Anel is die sprankelendste mooi vrou en vir ons het dit soveel betekenis gehad dat haar gebede ook verhoor is.”

Benewens die eerste reeks, wat fokus op die red van die noordelike witrenosters, gaan Toerbroers ook onvergeetlike reiservarings na lande soos Thailand, Ugunda en Mosambiek met die klik van ’n muis na mense bring. En wanneer die grendelstaat uiteindelik iets van die verlede is, sal avonturiers en natuurliefhebbers saam met hulle eksotiese boskampe en bestemmings kan besoek waar hulle leeus, olifante, buffels, renosters, bokke en baie meer self sal kan sien.

Die liefde vir Afrika se natuurskoon en die droom om deurentyd nuwe bestemmings te ontdek, vloei nie verniet deur Andries se are nie. Hy is immers die 7de generasie Andries Hendrik Potgieters. Hendrik Potgieter was ’n stoere Voortrekkerleier wat Afrika help tem het. “Ek is trots op my wortels en herkoms. As die afstammeling van ’n bekende Voortrekkerleier, is my moedertaal, Afrikaans, en my kultuur vir my baie belangrik.

“Ek glo jongmense stel al hoe meer belang in wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Ek is bly dat ons deur ons projekte en toere kan help om hulle weer nader aan die bos en die natuur te bring. Dit doen iets wonderlik vir ’n mens se siel.”

Toerbroers skryf ook gereeld artikels en wanneer hulle toere lei, doen hulle dit in Afrikaans. Toeriste bly in Afrikaans en geniet oral die gasvryheid in Afrikaans.

Die Toerbroers is ook diep gelowig en hoewel hulle nie meer vertonings aanbied nie, sing hulle nog tot eer van die Here. “Ons is geweldig geseënd, bevoorreg en gelukkig. En ons wil graag sien dat ander mense ook hierin deel.”

Dapper Media, ’n inisiatief wat deur AfriForum ondersteun word, skep geleenthede vir mense in die vermaaklikheidsbedryf en werk graag saam met ander instansies en maatskappye. Die maatskappy wil verseker dat kunstenaars en filmvervaardigers die nodige hulp kry om hul drome uit te leef – plaaslik sowel as internasionaal.

Die eerste reeks, wat van Donderdag (14 Mei) op Dapper Media uitgesaai word, begin in Noordwes met ’n besoek aan De la Rey. Hy is ook betrokke by Rhino Repro en Embryo Plus,  wat besig is met voortgesette navorsing oor hoe die noordelike witrenosters deur IVB van uitwissing gered kan word. Die reis brei ook uit na Ol Pejeta Conservancy in Kenia waar De la Rey ’n baie groot deel van sy werk doen. Ander gedeeltes van Ol-Pejeta, wat aan die voet van Mount Kenya geleë is, word ook besoek en bied ’n blik op baie uitsonderlike ervarings.

Fourie meen van die tonele uit die reeks gaan kykers sonder twyfel aan die hart gryp en hulle ’n traan of twee lanat pink.

(Die borge wat die reeks moontlik gemaak het, is Dapper Media as verspreidingsplatform, Toerbroers, Rhino Repro, Embryo Plus en PretoriaFM as radiovennoot).

Belangstellendes kan die reeks kyk by www.dappermedia.co.za en mense wat nou al wil beplan om ’n onvergeetlike toer saam met die Toerbroers mee te maak, kan www.toerbroers.co.za besoek.

Soortgelyke plasings