|

Dag vier van #HardloopvirHoop: Bethlehem tot Fouriesburg

Die vierde en voorlaaste dag van die ultramaratonatleet Bennie Roux (41) se hardloopprojek het vanoggend om 05:10 by die Lavender Hill Country Estate net buite Bethlehem op die N5 begin. Roux en ander atlete het vandag 42 km tot in Fouriesburg gehardloop. Dié atlete hardloop ten bate van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid om geweldslagoffers – veral slagoffers van plaasaanvalle en ‑moorde – te ondersteun.

’n Poeierverfpretloop (colour run) het om 12:00 by die Fouriesburg Intermediêre Skool plaasgevind. Kinders en inwoners van die dorp het hieraan deelgeneem.

“Môre is die laaste dag van ons 250 km-roete om fondse in te samel vir AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid om plaasaanvalslagoffers te help. Ons wil almal uitnooi om die dag saam met ons by die Oranje Gasteplaas se Roosfees te kom afsluit,” sê Roux.

“Die ondersteuning van die plaaslike inwoners, asook die skenkings wat AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid ontvang het en steeds ontvang, is bemoedigend. Ons hoop dat hierdie projek mense se bewustheid oor plaasaanvalle sal verhoog en ons is baie dankbaar vir die bydraes en goeie ontvangs wat ons tot dusver gekry het,” sê Johan Kloppers, #HardloopvirHoop-woordvoerder van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Die #HardloopVirHoop-roete kom môre tot ’n einde:

  • 26 Oktober: Roux spring in Fouriesburg weg en sluit die dag by die Roosfees by die Oranje Gasteplaas af.

Jy kan die projek só ondersteun:

  • ’n Skenking: Skenk ’n bedrag per km (50c, R1, R5, R100 en so meer: 50c per km is byvoorbeeld R125).
  • Skenkings kan aan die slagofferfonds gemaak word by:

Begunstigde: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Tak: Centurion
Takkode: 261-550
Verwysing: Hardloop vir Hoop

Die Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is. Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, ondersteuning tydens hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Kontak trauma@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings