|

D-dag vir Malema en Ndlozi oor aanranding is 10 Maart 2020

Die aanrandingsaak teen Julius Malema, leier van die EFF en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, hervat op 10 Maart 2020.

Malema en Ndlozi het vandag vlugtig in die landdroshof in Randburg verskyn waarna hul op waarskuwing vrygelaat is.

Die landdros in die saak het dit duidelik gemaak dat alle prosesse, gesprekke, uitruil van dokumente en regsverteenwoordiging teen die datum finaal afgehandel moet wees.

Malema, Ndlozi, Floyd Shivambu en adv. Dali Mpofu het vandag hul tradisionele EFF-drag vir gemakliker klere verruil. Malema en Ndlozi het luidkeels grappe gemaak en selfoonvideo’s van diegene teenwoordig in die hof geneem.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, was ook vandag in die hof en het gesê dit is hoogtyd dat Malema sy dag in die hof kry.

“Ons verwelkom dit ook dat ’n finale datum vir die verhoor nou vasgemaak is. Vir ons is dit belangrik dat Malema en Ndlozi besef hulle is nie bo die reg verhewe nie, al is hulle politieke figure. Die voorval het reeds 19 maande gelede plaasgevind, maar ons is oortuig dat daar ’n sterk saak teen hulle is. Dit is belangrik dat hulle soos enigiemand anders tot verantwoording geroep word as hulle die wet oortree.”

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het AfriForum vroeër in kennis gestel dat hulle Malema en Ndlozi gaan vervolg vir die beweerde aanranding van ’n kolonel in die SAPD.

Dít volg nadat AfriForum in Julie vanjaar aangekondig het dat hulle die hof gaan nader met ’n mandamus-aansoek om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema rakende hierdie en twee ander hangende sake teen hom.

Malema en Ndlozi het in April 2018 glo ’n senior polisieman in uniform aangerand tydens ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen polisie-aandag geniet totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het nie.

“Hoewel ons die NVG se besluit om te vervolg verwelkom, is dit betreurenswaardig dat AfriForum sóveel druk op hulle moet uitoefen om bloot hul grondwetlike plig na te kom. Ons sal die verloop van die saak noukeurig volg om te verseker dat geregtigheid vir die klaer geskied,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Malema verskyn ook binnekort in die hof in Mdantsane in die Oos-Kaap vir die afvuur van ’n vuurwapen tydens ’n byeenkoms van sy party.

Malema het buite die hof aan die media gesê hy glo nie dat daar ’n saak teen hulle is nie. Volgens hom wou die polisieman hom verbied om Winnie Madikizela-Mandela te begrawe en niemand sou hom gekeer het om dit te doen nie. Volgens hom het hy die polisieman net gestamp.

Hy het ook klappe na die NVG gegee en gesê die NGV “swig voor die agenda van die boers wat deur AfriForum gedryf word. Die NVG stuur ’n senior amptenaar vir die saak, terwyl dit ’n mors van tyd is.”

Soortgelyke plasings