| | |

COVID-19-taakspan verskaf 300 kospakke aan gesinne in nood

Die COVID-19-taakspan, wat gestig is deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai, het vandag kos en noodsaaklike items aan gesinne in nood in Sonop in Noordwes verskaf.

Die taakspan het 300 bokse met kos en ander basiese kookbenodighede verpak, wat koffie, suiker, sout en melkpoeier insluit. Hierdie besending bevat genoeg kos vir 300 gesinne en elke boks voorsien ’n gesin van genoeg kos en bestanddele vir ’n maand.

“Mense regoor die land kry swaar, hoofsaaklik vanweë die ondeurdenkte en ongenaakbare inperkingsbeleid wat die regering ingestel het. Dit voel vir baie mense asof daar nie lig aan die einde van die tonnel is nie. AfriForum het dus ingegryp om tot die beste van ons vermoë hoop te skep en die swaarkry rondom ons te probeer verlig. Wanneer die staat gesinne in nood in die steek laat, het gemeenskapsgerigte organisasies soos AfriForum ’n verpligting om in te tree – nie slegs deur mense in nood by te staan met kos nie, maar ook deur vir hulle ’n sprankie hoop te gee,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

Mense wat donasies of finansiële bydraes wil gee, kan AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid kontak by trauma@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings