| | |

COVID-19-taakspan en Cradle of Hope werk saam om kos te versprei

Die COVID-19-taakspan het vandag voortgegaan om kos aan mense in nood te voorsien en het kragte met Cradle of Hope, ’n liefdadigheidsorganisasie in Krugersdorp, saamgesnoer om kospakkies aan behoeftige inwoners uit te deel. Die nood in dié gemeenskap is reusagtig en ongeveer 700 mense het opgedaag om ’n kospakkie te ontvang.

Volgens die taakspan is dit belangrik om saam met ander organisasies te werk om die voedselnood te help verlig. Cradle of Hope is vroeër vandeesmaand deur die regering gesluit omdat hulle voorbereide kos uitdeel. AfriForum en Solidariteit Helpende Hand ondersteun dié organisasie tans met ’n hofaansoek om die sluiting ongeldig te laat verklaar.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, beoog die hofaansoek ook om die riglyne wat onlangs deur die Gautengse premier uitgevaardig is om mense te verhoed om kos direk aan die gemeenskap te versprei, ongrondwetlik te laat verklaar. “Instansies moet sonder staatsinmenging kan voortgaan om kos aan honger gemeenskappe te voorsien. Dit is belangrik om die sentralisering van kos te beveg en ons verwelkom die Menseregtekommissie (MRK) se beslissing dat dit ongrondwetlik is om organisasies soos Cradle of Hope te verbied om voorbereide maaltye aan mense in nood te voorsien.”

“Die staat van inperking hou heelwat negatiewe gevolge vir verskeie mense in en dit is nou veral belangrik dat organisasies wat die vermoë het, saam sal werk om kos aan mense in nood te voorsien. Ons is bekommerd dat mense van armoede en hongersnood gaan sterf indien die beleide om kos te sentraliseer voortduur,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

Hoewel die taakspan die MRK se beslissing verwelkom, sê Cameron dat mense egter moet besef dat die staat hulle nie noodwendig daaraan gaan steur nie. “Ons kan duidelik sien dat die nood in die land geweldig vinnig begin toeneem. Daarom moet ons voortgaan met kosverspreiding, anders gaan honderde duisende mense honger ly.”

Volgens Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sal hulle voortgaan om die taakspan te ondersteun om kos aan behoeftige mense te voorsien.

Versterk die taakspan se hand deur ’n skenking aan die Solidariteit Beweging se noodfonds te maak:

Rekeninghouer:        Solidariteit Helpende Hand
Bank:                          FNB
Rekeningnommer:    62 331 445 503
Tak:                            Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing:                Korona
Swift-kode:                FIRN ZA JJ

Soortgelyke plasings